Tata het tou opgegooi met sy plaaslike bakkiebesigheid, maar Mahindra het in die jongste paar jaar verbruikers se vertroue begin wen.

Die Indiese vervaardiger se reeks voertuie het ’n sterk gevolg. Verkope in Suid-Afrika het verlede jaar met bykans 30% gegroei.

Verreweg die gewildste boerevoertuig in Mahindra se plaaslike reeks is sy Pik Up-bakkies. Al is die ontwerp ’n vervlegging van vreemde verhoudings en allerhande bakwerkinvloede het die Mahindra Pik Up-bakkies ’n ruim dubbelkajuit, redelike toerustingvlakke en betroubare meganika.

Al wat werklik in die reeks Pik Up-dubbelkajuitbakkies gekort het, was ’n outomatiese ratkas. Met stads- en dorpsverkeer wat toeneem, verkies al hoe meer Suid-Afrikaanse dubbelkajuitkopers ’n ratkas wat self wissel.

Met noukeurige marknavorsing en ná ’n strawwe jaar lange toetstydperk bied Mahindra nou ’n outomatiese sesgangratkas in die Pik Up-reeks. As bewys van die plaaslike mark se waarde en aansien vir Mahindra se beplanners word Suid-Afrika die eerste mark ter wêreld wat hierdie outomatiese bakkies ontvang.

Mahindra se drie hoogste reeksmodelle kry die outomatiese ratkas as ’n meganiese vennoot vir die Pik Up se 2,2 liter-turbodieselenjin, wat 103 kW en 320 Nm lewer. Dit beteken jy kan nou ’n outomatiese Pik Up 4x2 Karoo koop teen R399 999.

As jy sterker veldryvermoë soek, is daar die dubbelkajuit Pik Up 4x4 outomaties, teen R414 999, wat 210 mm grondvryehoogte en ’n sluitbare agter-ewenaar het. Vir strawwe tegniese veldrywerk is daar ook ’n laestrekratkas.

Wat die nuwe outomatiese 4x4 Pik Up-bakkies anders as hul eweknieë met ’n handrat maak, is die teenwoordigheid van elektroniese hellingbeheer, wat beslis van waarde sal wees vir senuagtige veldryers in steil toestande.

Die Mahindra Pik Up-reeks se kroonmodel is nou ’n outomatiese 4x4 Pik Up met al die Karoo-afwerkings, vir R429 999. Dit beteken ’n standaardbosbreker, sluitbare laaibakroldeksel en allooiwiele.

Hierdie nuwe Mahindra Pik Up-modelle bied verreweg die beste dubbelkajuitwaarde in Suid-Afrika as jy ’n outomatiese bakkie soek. Die Chinese vervaardiger GWM se soortgelyke Steed6-reeks, het nie ’n outomatiese ratkasopsie nie.

As daardie ou rugbybesering in jou linkerknie lol en jy wil nie meer die koppelaar trap nie, bied Mahindra nou ’n indrukwekkende oplossing met sy outomatiese dubbelkajuitbakkie.