“Waar, o waar, is die kragtige V8-petrolenjin wat ons in die Raptor wou hê?” klink die geweeklaag op van Ford-manne wat meer as ’n jaar gelede aanvaar het die Ranger Raptor sal minstens ’n vyfliter-V8 hê. Die rede vir die klaaglied is die Ranger Raptor se viersilinder-dieselenjin met ’n silinderinhoud van net 2 liter. Dít terwyl Amerika se Ford F-150 Raptor dalk binnekort ’n 7,3-liter-V8 so sterk soos Hercules gaan hê.

Die Ranger Raptor is dus nie ’n weerligstraal nie, sy twee turbo’s en tiengangratkas ten spyt. Die V6-Amarok en Mercedes X350d sal hom in ’n versnelren klop, lang vragmotors met meer gemak verbysteek en swaarder waens sleep. Tog vertel dit nie die volle verhaal nie, want die Raptor benader spoed anders.

meer olie, meer stamina

Een van die dinge waaroor Suid-Afrikaners saamstem, is dat die paaie vrot is. Boere en hul gesinne is meer uitgelewer daaraan as dorpsmense omdat hulle dié paaie gereeld moet trotseer. Daarom is eenton-bakkies so gewild. So ’n ryding – met sy sterk, maar stywe suspensie en leerraamonderstel – kan die houe vat. Maar op ’n pad wat gedaan is, word jy in ’n ander geloof in geskud, terwyl jy versigtig aankruie. Nie in ’n Ranger Raptor nie . . .

Dié bakkie het towerkrag in sy dempers, wat die renspesialiste by Fox (www.ridefox.com) saam met Ford Performance vir die F-150 Raptor en Ranger Raptor ontwerp het. Hulle verskil hemelsbreed van ander bakkies se dempers, want hulle is groter (met dubbel die hoeveelheid olie as in ’n gewone demper) en veel slimmer ontwerp.

Meer olie beteken meer stamina. Verder het dié dempers ’n patent wat Fox internal bypass technology noem. Dit reguleer die olie se vloei binne die demper op ’n manier wat hom ’n veeldoelige aard gee. Wanneer die bakkie oor matige hobbels en ongelykhede ry, soos ’n teerpad wat deur vragmotors sat gery is, sweef hy soos ’n Rolls. En wanneer die oppervlak werklik rof is, byvoorbeeld wanneer jy deur die veld jaag om wild aan te keer, verander die vering se karakter as’t ware om gate en klippe uit te stryk.

Die bakwerk (en insittendes) bly dus beheers, terwyl die Fox-suspensie met die growwe oppervlak afreken. Verder keer die dempers se progressiewe kompressie dat hulle nie deurstamp nie – selfs met ’n harde landing – en dat hulle nie verwoed en onbeheers terugspring nie.

Die Fox-dempers is soos multifokale lense, waar ander bakkies se dempers leesbrille is. Dit gee die Ranger Raptor die vermoë om moeilike terrein teen ’n hoë spoed aan te pak, terwyl dit uitsonderlike vlakke van beheer en gerief bied. Teen 160 km/h voel dit waarlik of jy net 120 km/h ry.

Foto’s: quickpic.co.za

Kla met die wit brood onder die arm

Die Raptor is nie uitsluitlik vir veldrenne, mal spronge en sat paaie gebou nie, maar ook om uiters doeltreffend op stadige 4x4-roetes te wees. Sy pens is 50 mm hoër as dié van die Ranger 4x4, hy kan deur dieper water ry, en hy’t ’n dikker pensplaat. Maar is dit steeds ’n bakkie, of is hy net goed vir veldrenne en stof opskop?

Wel, die Ranger Raptor kan 2,5 ton sleep en omtrent 700 kg dra, teenoor die gewone Ranger se 3,5 ton en 1 100 kg. Hy kan dus steeds sy brood verdien. En die geween en kners oor die enjin? Meer woema sal welkom wees, maar die nuwe enjin het meer kole as die ouer 3,2- vyfsilinder. En troos jou hieraan: Die F-150 Raptor slurp sowat 16 liter petrol per 100 km op, terwyl die Ranger Raptor minder as 10 liter/100 km gebruik.

Prys: R786 400.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.