Hierdie bakkies, met hul eiesoortige en hoekige voorkoms, is al jare lank bekend vir hul uitstaande kenmerk: rateltaai betroubaarheid.

Al is die Land Cruiser 70 se ontwerp verouderd, word dit steeds beskou as die enigste bakkie wat ’n trekker en ligte vragmotor se plaaswerk kan doen, indien die nood druk. Soos die motorwêreld na ’n volhoubaarder, battery-aangedrewe toekoms versnel, wat is die kans op oorlewing vir Toyota se kroonbakkie?

Die antwoord oor die toekoms van die Land Cruiser 70-bakkiereeks is aan die anderkant van die Indiese Oseaan geleë waar die bakkies behoorlik na waarde geskat word: Australië.

In Wes-Australië se mynbedryf is daar tans ’n vloot battery-aangedrewe Land Cruiser 70-bakkies wat ’n bewys is van dié geharde veldvoertuie se aanpasbaarheid by elektriese aandrywing.

Tembo, ’n Nederlandse ingenieursmaatskappy wat toegespits is op die elektriese ombouing van bestaande binnebrandaangedrewe voertuie, het ’n indrukwekkende Land Cruiser 70-reeks vir die Australiese mynbedryf ontwikkel. Die bestaande onderstel en bakwerk word behou, asook die vaste asse met bladvere voor en agter.

Die Land Cruiser 70 se 4,2-liter- of 4,5-liter- V8-dieselkragbron word vervang met ’n keuse van twee batterye: ’n 28 kW-eenheid wat ’n  80 km-reikafstand bied, of ’n groter 56 kW-eenheid met ’n reikafstand van 160 km.

Kraglewering is teen 110 kW ietwat beter as die 96 kW van ’n 4,2-liter- diesel-Land Cruiser, met wringkrag wat ’n bietjie laer is: die 250 Nm. van die Tembo-ombouing teenoor die 280 Nm. van ’n diesel-Cruiser. Dié syfers weerspieël egter nie die volle verhaal van Tembo se battery-aangedrewe Land Cruiser-bakkies en hul veldryvermoë nie.

Met ’n spesiale laestrek-ratverhouding draai die elektriese Land Cruiser 70 ’n tamaai 1866 Nm.-klimkrag by die wiele en hy kan ’n helling van 45 grade baasraak.

Herlaaibaarheid word as die groot voordeel van die batterybakkies beskou. Met meer boere wat sonpanele op hul grond geanker het, en min plaasbakkies wat verder as 80 km per dag ry, kan ’n battery-aangedrewe Land Cruiser ’n baie groot en doeltreffende bate word.

Met batterykrag word die Land Cruiser 70 se gewigsverspreiding ook verbeter vanweë ’n laer swaartepunt. Dit maak die bakkie meer stabiel op ongelyke terrein met ’n vol vrag in die bak. Die tegniese kenner van Tembo het moeite gedoen sodat die elektriese Land Cruiser se batterye op ’n waterdigte en stofbestande manier binne die onderstel verpak word.

Haakplekke? Die snelheid word beperk tot 80 km/h en die ombouing is slegs vir grondpad-, mynbou- of plaasomgewinggebruik – wat beteken jou battery-aangedrewe Land Cruiser sal nie op ’n Sondag suutjies die kerk se parkeerterrein kan inseil nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.