Van buite lyk dit na ’n doodgewone wit skeepsvraghouer by SVI se aanleg, maar binne is dit sorgvuldig as ’n skietbaan ingerig. Daar’s egter nie papierteikens aan die ander kant van die langwerpige ruimte nie, maar kardeure en staalplate. Eers skiet ek met ’n 9 mm Parabellum-pistool – en die teiken is die losstaande deur van ’n Land Cruiser. Die ruit het ’n effense groen tint en ek mik na die middel.

Die skoot knal en fyn skerwe spat teen die skietbaan se wande. Ek trek nog twee skote af, maar dié projektiele word ook in hul spore gestuit deur die dik glas. Die beskermingsvlak van die deur is B4, wat beteken dit moet enige handwapen se koeëls weerstaan, selfs dié van handkanonne soos die .44 Magnum, Dirty Harry se skietding.

Volgende neem ek stelling in met ’n AK47, en dié keer is ’n staalplaat van 5 mm die teiken. Kalashnikov se skepsel maak egter nie veel van ’n indruk nie. Die soort metaalplaat waarop ek pas gevuur het, word gebruik om ’n voertuig se beskermingsvlak na B6 te neem. Dit beteken die kar moet weerstand teen aanvalsgewere kan bied.

VAN SKIETTOETS NA RYTOETS

Op SVI se werf staan twee wit Toyota Land Cruiser 79-dubbelkajuitbakkies, toegerus met die standaard-V8-enjin van 4,5 liter. Hulle is identies, maar SVI het een reeds na vlak B4 omgebou. Ek gaan ry eers met sy maat, wat nog op sy ombouing wag. Dan vat ek die voltooide Cruiser vir ’n draai. Daar’s geen verskil in verrigting of hantering nie. Dis omdat die staal, Kevlar en glas slegs 260 kg, of die gewig van twee groot voorspelers, by die bakkie se gewig voeg.

Die standaard-V8-dubbelkajuit kan 930 kg laai. Daarvan moet jy dus 260 kg aftrek, wat jou met 670 kg vir vrag en passasiers laat. Vlak B6 is egter ’n ander storie. Die Land Cruiser 200 4.5 V8 waarmee ek volgende ry, weeg byna 1 ton meer as sy gewone eweknie. Daar’s beslis ’n gevoel dat ek aan die stuur van ’n loodswaar rytuig is, maar die standaardremme is vervang met dié van die Dakar Hilux, wat hierdie 200 se stopvermoë dodelik doeltreffend maak.

Die vering is ook aangepas om die ekstra gewig te dra. Dis stil in die kajuit omdat die pantser ook wind- en padgeraas buite hou. Die ruite kan egter nie ver afskuif nie, want die glas is so dik. Dit maak dit byvoorbeeld moeilik om ’n kaartjie by onderdakparkering se masjien in te druk.

Nadat dit gepantser is, is ’n kar se kajuit beter teen geraas geïsoleer, wat beteken jy kan jou passasiers en gunstelingmusiek heelwat beter in die ry hoor. Foto’s: Martin de Kock

HOE DIT WERK

’n Klant voorsien gewoonlik sy eie voertuie vir aanpassing. SVI se doelwitte met die ombouing is om die kajuit optimaal te beskerm, die veiligheid- en geriefstelsels van die voertuig te behou en om dit moeilik te maak om so ’n motor van die standaardweergawe te onderskei.

Om die staal, Kevlar en spesiale glas in te sit, word alles bo die onderstel en agter die enjin uitmekaar gehaal en dan teruggesit. Die proses duur sowat ses weke vir B4 en twaalf weke vir B6. In een van die voertuie wat ek bekyk, kan ’n stukkie viniel dalk ’n raps netjieser om die staal in die bagasiebak vou.

Buiten die Land Cruisers is Toyota Fortuners, die BMW X3 en 7-reeks, en die Mercedes G- klas (Geländewagen) gepaste rygoed vir ombouing. Klante kan ook klein voertuie, soos die Nissan NP200, koeëlvas maak. Verder kan diegene wat gereeld reis waar ’n baksteen deur die windskerm ’n risiko is, die voorruit met koeëlvaste glas laat vervang vir sowat R75 000.

WAT KOS DIT?

Wat ’n mens betaal, is onderhewig aan hoeveel pantser jy wil hê. Dis onwaarskynlik dat ’n kaper gaan probeer om deur die dak van ’n hoë ryding na die insittendes te skiet. Daarom kry dit gewoonlik nie beskerming nie. Maar kopers kan wel Kevlar in die dak laat sit.

Hier is enkele voorbeelde met riglynpryse: Toyota Fortuner – B4: R450 000 tot R600 000; B6: R600 000 tot R800 000. Land Cruiser 79 V8 DC – B4: vanaf R400 000; B6: vanaf R610 000. Land Cruiser 200 4.5 V8 – B4: vanaf R500 000; B6: vanaf R905 000.