Die Japannese vervaardiger het sy plaaslike X-Rider-reeks uitgebrei met ’n nuwe 3 liter-enjinkeuse. Vir Isuzu-kopers wat ’n bakkie met ’n spoggerige voorkoms en beter versnelling soek, is hierdie nuwe X-Rider die aangewese keuse.

Sedert 2016 is die X-Rider-reeks Isuzu se pronkbakkies. Geharde bakkie-eienaars herken die ou KB-waardes wat verplaas is na die D-Max-reeks, maar Isuzu wou met X-Rider nuwe leefstylkopers verower. Dit is ’n teikenmark waar bakkies as gesinsvoertuie gebruik word en allerlei ontwerpverfraaiings van belang is.

Soos met ander X-Rider-bakkies het hierdie nuwe weergawe swart buite-ontwerpelemente om dit te onderskei van ander D-Max-dubbelkajuite. Die dak, kajuitpilare, laaibakrolstaaf en sytrappe is almal in swart afgewerk en daar is ’n keuse van wit, silwer of helderrooi bakwerk om kontras te bied.

Binne is daar swart leerbekleedsel met rooi stiksel en ’n 7,8 duim-tikskerminligtingstelsel, wat ook dien as ’n truratkamera vir daardie benoude parkeeroomblikke.

Verreweg die grootste aanwins van hierdie nuwe X-Rider is die kragtiger enjin. Aandrywing is deur middel van Isuzu se beproefde 3 liter-turbodiesel, wat 130 kW en 380 Nm lewer. Hierdie syfers is aansienlik sterker as die X-Rider 250-weergawes se 100 kW en 320 Nm.

Dit is veral op die langpad waar hierdie nuwe 3 liter-X-Rider se sterker kraglewering van waarde is. As jy vragmotorverkeer in die Karoo moet verbysteek of ’n swaar gelaaide waentjie sleep, gaan die X-Rider 300 se 17% meer wringkrag jou ’n baie skafliker bestuurservaring bied as die 250.

Veldryers gaan ietwat teleurgestel wees met Isuzu se jongste bakkie. Daar is geen 4x4-opsie met die D-Max 300 X-Rider nie, en jou enigste ratkaskeuse is ’n outomatiese sesgangratkas – iets wat veel gemakliker in stadsverkeer bestuur, maar ook die pryskaartjie voller maak.

Die prysverskil van R66 900 tussen ’n 2,5 liter- en die nuwe 3 liter-X-Rider-dubbelkajuit is redelik groot. Met ’n prys van R551 100 is die D-Max 300 X-Rider-dubbelkajuit ook R42 300 duurder as ’n gewone D-Max LX-dubbelkajuit, met dieselfde enjin en ratkas. Of die mooimaakgoed en treffender voorkoms daardie rande werd is, bly ’n ope vraag.

As jy die sterker verrigting na waarde ag en ’n spoggerige voorkoms wil hê, veral vir diegene wat in bergagtige gebiede woon met steil opdraandes, sal hierdie X-Rider 300-dubbelkajuit ’n heel skaflike dorpsbakkie wees.