Die Cruiser 200 of Prado is steeds die verstekkeuse vir boere op soek na ’n groot, luukse stasiewa. Maar dalk het jou rekenmeester jou aangepraat omdat die Cruiser 200 in jou skuur al ouer as vyf jaar is. Kan ’n Mercedes of Volvo jou in die versoeking lei? (Terloops, die huidige Prado, die J150, is al sedert 2010 op die mark.)

Mercedes het onlangs die nuwe GLE (vroeër “M-Klas”) bekendgestel en die Volvo XC90 was op ’n skalpel-safari. Die XC90 is sedert 2016 die maatstaf waaraan duur melkbaard-4x4’s gemeet word en is ook daardie jaar as SA se Motor van die Jaar aangewys.

Hoewel die GLE saam met die BMW X5, XC90 en die briljante Porsche Cayenne in die kamp vir sagte 4x4’s geboender word, is daar iets wat hom uniek maak: Jy kan hom met ’n laestrek-ratkas bestel, vir ’n ekstra R32 300. Dit stel hom in staat om veel moeiliker hindernisse baas te raak as die ander lede van sy portuurgroep.

Die groter afstand tussen sy voor- en agteras is die grootste nuwigheid. Dit gee die agterste passasiers heelwat meer beenruimte as tevore en sorg vir ’n enorme bagasiebak. Daar’s selfs genoeg plek vir twee bykomende sitplekke, wat dan die derde ry uitmaak, en R15 500 kos. Daarby is hy nou breër en sy dak is laer as die ou GLE s’n, maar daar is nogtans meer kopruimte as vroeër.

Nietemin lyk hy kompak en voel ook so wanneer ’n mens hom tussendeur hindernisse laat vleg. Sy ratsheid maak hom die teenpool van die betreklik lomp Land Cruiser 200 of Audi Q7. As jy waardering het vir ’n viertrekvoertuig wat soos ’n sportmotor deur bergpasse swiep, sal die GLE jou goed pas.

Soos sy padhouvermoë is sy enjins ook heel sportief. Daar’s ’n kragtige viersilinder-turbodiesel en twee drieliter-V6-enjins: een petrol en een diesel. Die V6-diesel (GLE 400d) bied vuurwarm verrigting en lae verbruik, maar kos sowat R150 000 meer as die viersilinder-GLE 300d.

Pryse strek van R1 216 700 tot R1 434 000 (sonder opsionele ekstras). Vir so ’n aardige bedrag verwag ’n mens puik bougehalte regdeur die kajuit, maar hier slaan Mercedes-Benz die bal aan. Sy topbestuur kort beslis meer ingenieurs en minder rekenmeesters.

Mercedes se GLE 400d.

In dieselfde maand waarin die GLE onthul is, het Volvo sy XC90 verfris. Die tweeliter-turbodiesel het nou ’n raps meer skop en Volvo het ’n nuwe selfoontoepassing en inbelsentrum bekend gestel. Eersgenoemde laat die bestuurder onder meer toe om rigtingaanwysings na die kar te stuur, en die inbelsentrum het regte, egte mense wat met allerlei dinge kan help. Om hulle te bel, druk bloot ’n knoppie op die truspieël en vra (byvoorbeeld) waar die naaste vulstasie is.

Die binnepanele voel stewiger as die GLE s’n en die binneruim het ’n meer besadigde luuksheid. Daarby het die Swede ’n lekker troefkaart: vir omtrent dieselfde prys as die viersilinder-GLE, kan ’n mens die XC90 T8 aanskaf. Die T8 is nie ’n Terminator nie (dis die T-800), maar ’n hibried. Prop sy elektriese kabel by die naaste kragpunt in en wanneer hy volgelaai is, kan die T8 amper 40 km ry sonder dat die enjin ’n klep verroer.

Die pryse van die XC90-reeks wissel van R1 029 200 tot R1 668 500.