Vir kranige veldryers het die Suzuki Jimny geen bekendstelling nodig nie. Oor die jare heen het die dwerg-4x4 al menige Land Rover- of Land Cruiser-eienaar diep beïndruk, maar namate die jare aangestap het, was daar aspekte van die ontwerp wat aandag gekort het. Met die aankoms van Suzuki se vierdegeslag-Jimny in Suid-Afrika kry van hierdie aspekte aandag.

Die vorige 1,3 liter-enjin was veels te klein en sonder ’n turboaanjaer is Jimny altyd beperk tot die ver linkerkantse baan van enige snelweg. Jimny word nou aangedryf deur ’n 1,5 liter-petrolenjin, wat steeds nie turboaangejaag is nie, maar teen 75 kW en 130 N.m amper 20% kragtiger is.

Kruiswinde was iets was ’n Jimny lelik kon ontstel teen 120 km/h. Sonder elektroniese stabiliteitsbeheer was daar partykeer bloedstollende oomblikke om ’n Jimny in ’n Kaapse winterstorm te bestuur. Met die nuwe een het Suzuki duidelik sy huiswerk gedoen. 

Om rukwinde en enige nooduitswaai-oomblikke minder van ’n wedervaring te maak, het Jimny nou uiteindelik ook ’n gevorderde stabiliteitstelsel. Dit werk deur middel van die sluitweerremme, wat ’n leidende hand oor jou hou as daar ’n gespanne oomblik op die pad wag. 

Suzuki se gedugte veldry-ingenieurswese is steeds aanwesig in die Jimny, wat met ’n leerraamonderstel, vaste aste en ’n laestrek-ratkas geen mededinger het buiten ’n Land Cruiser 70 nie. Dieselfde stabiliteitsbeheertegnologie wat deur middel van die remme en ’n algoritmeberekenings voorkom dat die Jimny omslaan, het ook ’n kloubeheerfunksie vir veldrytoestande. Hierdie elektroniese stelsel is soos ’n gly-ewenaar op albei aste.

Vir onervare veldryers kan steil hellings ’n senutergende uitdaging wees, maar Jimny het nou ’n togbeheerstelsel wat in laestrek in eerste rat die snelheid teen ’n helling af tot slegs 5 km/h kan beperk. 

Die nuwe reeks het ook ’n outomatiese ratkasopsie, en al was Suzuki suinig met die ratte (daar is slegs vier) is ’n outomatiese voertuig dikwels baie makliker vir nuweling-veldryers om te bemeester. Stadspendel in druk verkeer sal ook veel minder van ’n straf wees vir Jimny-eienaars wat die outomatiese ratkas kies.

Sterker. Vinniger. Veiliger. En steeds ’n voortreflike veldvoertuig. Suzuki het duidelik sy navorsing gedoen met betrekking tot die nuwe Jimny se meganika. Benewens die meganiese verbeterings is die voorkoms en binneruim ook verbeter, sonder om heeltemal die Jimny se ontwerperfenis te verloor.

Daar is min voertuie was so onmiddellik herkenbaar is soos die Jimny. Suzuki se ontwerpers was versigtig om nie te veel aan die voorkoms te verander nie. Ronde kopligte en hoekige verhoudings is behou, maar die grondvryehoogte is verbeter met 20 mm (tot 210 mm) en die wielsporing verbreed met 40 mm, wat kantelstabiliteit verbeter. Jimny is nou groter, maar steeds maklik om in en uit nou parkeerplekke (of klipskeure) te bestuur.

Pakplek is 10% meer. Met ’n groter verstelbaarheid vir die sitplekke is die vierde generasie Jimny baie gemaklik vir passasiers op die langpad. Jimny leen uit Suzuki se jongste versameling binneruimonderdele, met ’n seweduim-tikskerminligtingstelsel in die luukser GLX-weergawes. 

Beskikbaar in ’n reeks van drie enkel- en vyf tweeskakeringkleure trek die Jimny meer aandag en geniet ’n sterker teenwoordigheid as baie voertuie wat drie maal soveel kos. Die intreevlakprys vir die Jimny is R264 900, met die luukser GLX-vyfganghandrat wat verkoop teen R299 900 en die outomatiese weergawe wat die reeks afrond teen R319 900.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.