Met die vierde geslag Jimny het Suzuki se ingenieurs en ontwerpers reuse-verbeteringe aangebring. Die huidige Jimny het ’n groter en gemakliker binneruim, en beter verrigting op die grootpad danksy ’n flukser 1,5 liter-enjin.

Dié Jimny se veldryvermoë is versterk met elektroniese vastrapbeheer, terwyl die opsie van ’n outomatiese ratkas bestuur in stadsverkeer vergemaklik. 

Bilstein is ’n bekende naam in voertuigveringstelsels en die Duitse maatskappy se beste skokbrekers is nou beskikbaar vir plaaslike Jimny-eienaars.

Met ’n laestrekratkas, kort as-afstand en 210 mm grondvrye hoogte skort daar niks met die Jimny se veldryvermoë nie.

Tog is daar een knelpunt vir Jimny-eienaars wat langafstandtoere beplan. ’n Swaargelaaide Jimny se rithoogte sak as hy volgepak is. Die werklikheid is dat as jy ’n maand lank deur Suider-Afrika wil toer, gaan jou Jimny propvol kos en bybehore gelaai word. 

Die Bilstein-veerstelsel wat nou in Suid-Afrika deur Goldwagen en Incomex bemark word, is ontwerp om jou Jimny meer rithoogte te gee en sodoende beter veervermoë vir bestuur op grondpaaie en oor hindernisse bied. ’n Volgelaaide Jimny met Bilstein-skokbrekers sal dus baie minder skade aan die bakwerk opdoen onder geharde veldrytoestande.

Hardeware vir hierdie ombouing van die Jimny-veringstelsel sluit in Bilstein B8-skokbrekers, wat saam met plaaslik vervaardigde kronkelvere gebruik word. Die rithoogte verbeter met 45 mm, wat ’n Jimny met die Bilstein-ombouing omtrent 250 mm grondvryhoogte gee. Dit is meer as genoeg om enige veldrytoestande te verower.

As deel van die Bilstein-ombouing word kontakpunte in die veerstelsel versterk om slytasie te voorkom.

Hierdie Bilstein-ombouing pas ook op ouer weergawes van Suzuki se klein veldwa. Die  derde- en vierdegeslag-Jimny het ’n asafstand van 2 250 mm, wat dit maklik maak om Bilstein se veerstelsel te installeer.

In die meeste wêreldmarkte waar die Jimny verkoop word, is dit ’n suiwer stadspendelvoertuig. Suid-Afrikaanse Jimny-aanhangers benut egter hierdie gedugte, klein veldwaens vir geharde veldry-avonture. Vir avontuurlustige Jimny-eienaars wat daardie bietjie meer rithoogte soek, is die ombouing se prys R22 625.