Namate tegnologiese vooruitgang versnel, word talle beloftes gemaak dat ons binnekort voertuie sal hê wat sonder mense sal kan pendel en van stad tot stad op die snelweg ry. 

Van die groot beloftes het nog geen praktiese uitvoering gekom nie, maar in die nywerheidsruimte roem die Sweedse vragmotorvervaardiger Scania op ’n deurbraak. 

Ten spyte van reuse-vordering met datastelsels, radar en kamerawaarneming is die hedendaagse bestuursomgewing eenvoudig te ingewikkeld vir ’n gesinsmotor of bakkie om self te ry. 

Van die wêreld se knapste ingenieurs en rekenaarwetenskaplikes is in Tesla, Google en Apple se taakspanne en probeer vergeefs om ’n algoritme te ontdek wat veiliger is as ’n mens agter die stuurwiel. 

Die hoofprobleem is onvoorspelbaarheid en snelhede. Ander voertuie, voetgangers en diere se gedrag is te onvoorspelbaar en pas nie in by die streng reëlbeheer van ’n selfstuurrekenaarprogram nie. Teen pendelsnelhede is ’n noodreaksie ook gewoonlik te laat om ’n ongeluk te voorkom.

Tog is daar omgewings waar verkeer min en snelhede laer is, soos die landbou en mynbou.

Op ’n plaas of myn kan beter beheer uitgeoefen word op medegrondpadgebruikers en dit het Scania in staat gestel om sy AXL-vragmotor te ontwikkel. Hierdie oranje vragmotor van die toekoms lyk dalk vreemd sonder ’n tradisionele kajuit, maar daar is niks vreemds aan sy werkverrigting nie.

Scania-ingenieurs het besef dat ’n selfstuurvragmotor nie ? kajuit nodig het nie en sodoende ’n baie meer vaartbelynde voorkoms kan hê. Gevolglik is die AXL platter as enige ander vragmotor. Die ontwerp bied twee voordele.

Eerstens bied die kleiner vooroppervlak minder windweerstand, wat dieselverbruik verminder, en tweedens kan die platter vragmotor onderdeur brûe, kragdrade of hoë boomtakke beweeg wat ’n gewone vragmotor sal stuit. 

Hoe vind hierdie AXL die grondpad in en uit ’n mynhoop of saailand? ’n Reeks kamera-oë, radarsintuie en laserweerkaatsing help die vragmotor om ’n beeld te skep van die omgewing. Slim rekenaarsagteware besluit dan wanneer die vragmotor moet versnel, draai of rem.

Die gehalte beeldvorming wat deur middel van kameras gebou word, is die hoofsintuig van enige selfstuurvoertuig en as dit modderig of stowwerig is, gaan enige kameralens baie vinnig vuil word. 

Om hierdie probleem die hoof te bied, het Scania se AXL-ingenieurspan drieledige ondersteuning geskep vir al die vragmotor se beeldskeppende stelsels. As die kameras oornag toeryp, is daar lasers wat kan beelde skep. As hulle vou, is daar radar wat kan help.

Die AXL-vragmotor dien as ’n ontwikkelingsplatform vir Scania se toekomstige vragmotors en loop nie op batterykrag nie, maar ’n biodieselenjin.