Vanaf 2022 sal Ford se Silverton-aanleg in Pretoria die volgende geslag Ranger- en VW Amarok-bakkies bou. Dit is goeie nuus vir die plaaslike ekonomie en met hierdie verskansing van Ford se Suid-Afrikaanse sakeplan bestaan die moontlikheid dat dieper buitelandse invloede kan inwerk op die plaaslike Ranger-reeks.

Sedert Ranger se hertoetrede tot die Amerikaanse motormark is Amerikaners gaande oor die “middelslag”-bakkie. Sterk verkoopsyfers in Amerika het Ford oortuig om al hoe meer bybehore te ontwikkel vir die Ranger, wat hoop skep dat van dié nuwe bakkie-lekkergoed ook na ons kant toe sal kom.

Die jongste ontwikkelings van die Ranger is ’n stel veldryopgraderings, wat by Amerikaanse handelaars bestel kan word en nie dwarsboming van jou Ford-waarborg veroorsaak nie.

Om te voorkom dat hierdie nuwe Ford se veldryonderdele ’n Ranger te naby aan die Raptor se vermoë laat kom, het ingenieurs noukeurig gekies.

Die ankerpunt vir Ford se frisser veldry-Ranger is ’n verbeterde veringstelsel, met enkelbuisskokbrekers van Fox voor en agter. Hierdie skokbrekers het meer olievolume as ’n gewone Ranger s’n, wat beteken dat die strafste veldrytoestande ’n kleiner invloed op ritgehalte en passasiergemak sal hê.

Samewerking tussen Fox en Ford se tegniese mense het ook tot gevolg dat die nuwe weergawe van die veldry-Ranger 50 mm hoër ry, wat beter aantree- en deursleephoeke beteken as jy tegniese hindernisse te bowe moet kom.

Beter vering kom werklik tot sy reg met groter bande. Daarom stel Ford ook nou BFGoodrich se KO2 265/70/17-tekkies beskikbaar op bakkies buite die Raptor-gradering.

Geringe veranderinge aan die buiteontwerp en voertuigherwinning is beskikbaar as deel van Ford se veldry-Ranger. ’n Breë LED-ligpaneel van 40 duim sit op die laaibak se kantelstaaf, wat roetes sal verhelder as jy snags in ’n afgeleë omgewing spore soek. Ford span ook ’n ARB-voorbuffer in, wat ’n wenas-monteerpunt bied.

Met die volgende geslag Ranger wat teen vroeg 2022 verwag word, is hierdie bybehore waarskynlik die laaste ontwikkeling van die T6-reeks Ranger wat ons van Ford se kant af sal sien.

Al het Ford besonderhede en foto’s van die Ranger se sterker veldryopsies beskikbaar gestel, sal dit eers teen middel volgende jaar bemark word – wat hopelik genoeg tyd is vir Ford Suid-Afrika om ’n plaaslike sakeplan daarvoor saam te stel.