Hilux se nuwe, vierkantige sierrooster is nou op die Raider- en SRX-modelle, wat elkeen spog met beter toerusting as tevore. Vir die Raider is satellietroetebegeleiding en LED-kopligte nou standaard, terwyl die SRX ’n raakskerm-vermaakstelsel kry. 

Die werklike waarde van Hilux se groter reeks is egter te danke aan die meer bekostigbare prysvlakke.

Die Hilux 2.4 S het dalk nie die nuwe sierrooster van sy Raider- en SRX-eweknieë nie, maar alles wat tel, is suiwer Hilux. Vir R407 800 kry jy die beproefde 2,4 liter-dieselenjin, wat 110 kW en 400 N.m lewer, en die agterwiele aandryf deur middel van ’n sesgangratkas. Daar is ook ’n ewenaarslot vir beter klouvermoë in sand, modder of ander veldrytoestande.

Die 2.4 S-dubbelkajuit het nie ’n vierwieltrekopsie nie, maar die meeste boere behoort die grondvrye hoogte van 286 mm te waardeer. Dit is gelyk aan ’n 4x4-Hilux, bied oorgenoeg veldryvermoë en met 17 duim-staalwiele hoef jy glad nie bekommerd te wees oor klip- of boskrapmerke nie.

Vir modderige rubberstewels, ’n plaashond en allerhande ander voorwerpe wat gereeld in ’n plaasbakkie se kajuit gekarwei word, is die Hilux 2.4 S se geharde PVC-bekleedsel nommerpas. Die “S” is verseker nie luuks nie, maar daar is lugversorging en geen tekort aan veiligheidskenmerke nie. Sluitweerremme en ? elektroniese stabiliteitstelsel is standaard.

Buiten die S-dubbelkajuit is die ander wins uit Toyota se groter reeks die terugkeer van bakkies sonder ’n bak.

Hoe dan nou? 

Sedert die huidige Hilux se plaaslike bekendstelling in 2016 kyk bakkiegeesdriftiges nog altyd met groot afguns na ons Australiese vriende en hul Hilux-bakkies met oop onderstelle, sonder ’n laaibak. Hierdie bakkies bied ’n eienaar veelvoudige bouopsies. Jy kan ’n klein verkoelingswa bou vir die vervoer van vrugte of vleis, of iets met ’n langer en breër laaioppervlak met kantelsye.

Tussen die drie ooponderstelmodelle is daar ’n 4x4-handrat (2,4 diesel), wat baie geskik is vir ombouing tot ’n avontuurvoertuig. Met die afwesigheid van ’n gewone laaibak beskik hierdie Hilux-bakkies oor ’n baie groter vertrekhoek vir veldrywerk, met geen agterste bakpanele wat kan haak of sleep oor hindernisse nie.

As die begeerte is om Afrika te gaan verken en jy ’n enkelkajuitkampeerbakkie wil bou, is Toyota se 2,4 GD-6 4x4 SRX ooponderstelenkelkajuit teen R407 100 die geleë beginpunt.

In die geheel is die verbetering wat Toyota regdeur die Hilux-reeks toegepas het, ’n versterking vir Suid-Afrika se gewildste voertuig. Onder die 42 verskillende bakkies wat nou tel as die Hilux-reeks, is daar ongetwyfeld iets vir almal. Dit is veral die nuwe dubbelkajuitmodelle met die “S”-gradering wat prysbewuste kopers, diegene wat bakkies suiwer as werkesels gebruik, sal beïndruk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.