Al bly die Raptor die gesogte bakkie onder plaaslike Ranger-aanhangers, is dit ’n bakkie wat in baie beperkte hoeveelhede gebou word. Sedert die T6-Ranger plaaslik te koop is, was die Wildtrak nog altyd die gewildste van die Ranger-reeks.

Hierdie bakkies met hul wilde oranje bakwerk en binneruimstiksel, asook ’n versameling bybehore, het Ranger toegelaat om mee te ding in die leefstylbakkiemark. Mense wat Wildtrak-bakkies koop, wil gesien word in die helder bakwerkskakerings.

Ford het nou die Ranger-dubbelkajuitreeks aangepas met drie nuwe Thunder-weergawes wat bo die Wildtrak in Ford se bakkierangorde sit. Die Thunder is beskikbaar met twee enjinkeuses en drie dryfstelsels. Dit is nou die mees gesogte (en duurste) plaaslike Rangers.

Waar die verblindende oranje ’n eiesoortige ontwerpkenmerk van die Wildtrak is, is die Thunder beskikbaar in ’n meer gedempte grys bakwerk. ’n Unieke karaktertrek van die nuwe Thunder is ’n ander sierroostervorm met rooi kleurskakerings in die raamwerk.

Ford se ontwerpers het ook gekies om die Thunder se buiteoppervlak op allerlei maniere te verdonker. Die misligte, hoofligte, spieëltjies en agterligte het onder meer ’n blinkswart afwerking. Binne herhaal die sierrooster se rooi tema in die leersitplekke se stiksel.

Buiten die versieringselemente is daar ook ’n rolbedekking vir die Thunder se laaibak, wat ’n tweeledige voordeel bring.

As jy wil seker maak dat wat jy op die bak neersit steeds daar sal wees as jy uit ’n winkel kom, is die sluitbare laaibedekking van groot waarde. Teen hoër snelhede verminder die laaibak se roldeksel windsleur, wat die Thunder meer vaartbelyn maak en dieselverbruik ietwat verbeter.

Met 230 mm se grondvryehoogte is die Thunder net so opgewasse vir veldrywerk as enige ander Ranger-dubbelkajuit. Dit is R33 400 duurder as ’n soortgelyke Wildtrak, met prysvlakke wat begin by R711 600 vir die Thunder 3,2 liter-4x2, wat 147 kW en 470 Nm lewer.

Vir aanhangers van Ford se groter vyfsilinderenjin is daar slegs ’n 4x2-opsie, maar hierdie 3,2 liter-Thunder word gemik op mense wat graag wil sleep met hul Thunder-dubbelkajuit pleks van veldrywerk doen.

Die sterker Thunders word aangedryf deur ’n 2 liter-dubbelturbodieselkragbron wat 157 kW en 500 Nm lewer, met Ford se outomatiese tiengangratkas. Pryse vir die 2 liter-Thunder begin op R736 000 vir ’n 4x2 en R787 000 as jy wil gaan duine ry en berge verower met die 4x4.