Die Land Cruiser 200-reeks is dikwels Suid-Afrika se beste maandelikse verkoper vir luukse veldvoertuie van meer as R1 miljoen. Hierdie gewildheid is nie gevestig deur voorkoms of allerlei tegniese fieterjasies nie. Duitse en Britse luukse sportnutsvoertuie het dalk ’n treffender ontwerp en meer gevorderde meganika, maar geen ander opsie kan ’n Land Cruiser 200 se betroubaarheid oortref nie.

Geen ander luukse 4x4-stasiewa word so dikwels gebruik om ver in die buurstate te gaan toer as die Land Cruiser 200 nie. Diep in die Caprivi of in Angola se Doodsakker is jy gewaarborg om ’n Cruiser 200 te sien. 

Dit beteken reuse-afstande op teer- en grondpaaie om by jou bestemming te kom. Toyota het nou daardie ure in ’n Land Cruiser 200 se binneruim baie minder vervelig vir passasiers gemaak. As deel van ’n vernuwing vir 2020 bied Toyota nou verbeterde klank en vermaak in sy Land Cruiser 200 VX-R-modelle.

Die Land Cruiser se knap JBL-klankstelsel het nou 14 luidsprekers, wat op die mees geleë plekke in die binneruim gemonteer is, vir uitstekende klankgehalte. As jy ’n podsending of RSG op die langpad geniet, sal die suiwerder klankgehalte dit nou soveel beter maak wanneer jy die langpad in jou Land Cruiser 200 VX-R aanpak.

Benewens die JBL-klankstelsel is daar nou ook vermaakskerms vir die agterste passasiers. Veral kinders kan slaags raak op die langpad en om te verseker dat almal makliker uit mekaar se hare bly, het Toyota twee 11,6’’-skerms in elk van die voorsitplekke se rugstukke gemonteer.

Hierdie skerms kan ’n verskeidenheid media speel en behoort te sorg dat jy ure lank in vrede sal kan toer op die snelweg of grondpad, terwyl die agtersitplekpassasiers se aandag op die skerms is. 

Toyota se 2020 Land Cruiser 200-modelreeks bly steeds drie weergawes sterk, maar die nuwe vermaaktoerusting is nie beskikbaar in al drie nie.

Die intreevlak Land Cruiser 200 GX-R se binneruimtoerusting bly onveranderd vir 2020, met ’n prys van R1 086 200.

Albei Land Cruiser 200 VX-R-modelle (roomkleur en swart) kry die 2020- vermaakopknappings in die binneruim as standaardtoerusting teen ’n prys van R1 510 100.