Met die opgradering van die 2,8 liter-turbodieselenjin, wat vroeër vandeesmaand aangekondig is, kan Hilux-aanhangers tevrede terugsit met die wete dat Ford se Ranger nie veel langer ’n groot wringkragvoordeel sal geniet nie.

Tog is daar baie meer aan die opgekikkerde Hilux as slegs ’n sterker enjin. Al hoe meer besonderhede oor Toyota se nuwe Hilux word nou bekend en dit skep ’n sterker beeld van wat verwag kan word van Suid-Afrika se gewildste bakkie oor die volgende jaar.

Grondpad is geen voertuig se speelmaat nie. Boere weet hoe duisende kilometers grondpad ’n bakkie se vering uit verhouding kan dwing en slytasieskade aanrig. Met die nuwe Hilux het Toyota se ingenieurs groot veranderinge aangebring op daardie dele van die bakkie wat jy nie kan sien nie.

Die Hilux se veerstelsel kry herberekende geometrie op albei aste, wat gemik is daarop om stuuraksie en hantering te verskerp – veral wanneer die bakkie ongelaai is of net ’n baie ligte vrag dra.

Om beter stuurterugvoer te lewer, iets wat deurslaggewend is wanneer noodstuuraksies uitgevoer moet word, sal die nuwe Hilux ’n sterker kragstuurpomp hê, wat flinker jou stuurinsette na die voorwiele kan deurvoer.

Mense hoef hulle nie te bekommer oor betroubaarheid ten opsigte van hierdie nuwe Hilux se stuurstelsel nie, want die kragstuuraandrywing bly hidroulies. 

Veldryvermoë het ook aandag geniet as deel van die Hilux-ingenieurspan se ontwikkelingsdoelstellings. Die bakkie kry ’n nuwe samestelling bladvere met ander monteerpunte, wat ’n klein bietjie meer vertikale wielbeweging op die agteras toelaat vir beter kloutervermoë oor erg rotsagtige oppervlakke.

In geheel belowe hierdie veringveranderings dat die nuwe Hilux meer voorspelbaar sal hanteer op grondpad. Dit sal die bande stewiger op die grond hou oor tegniese hindernisse, veral as jy ’n strawwe veldryroete moet baasraak.

Toyota het ook besef dat al hoe meer Hilux-dubbelkajuiteienaars hul bakkies gebruik as gesinsvoertuie. Om ’n stiller en gemakliker kajuitomgewing te bied, veral op lang grondpadroetes, het Toyota groot geld bestee om padoppervlakgeraas en vibrasies te beperk.

Leerraamvoertuie is dalk taai, maar hulle kan ook insittendes enige slaggat of ongelykheid in die padoppervlak met volle trefkrag laat voel, veral teen hoë snelhede. Toyota se oplossing is om rubberversterkings tussen van die bakkie se staalleerraam- en kajuitkontakpunte in te bou, om sodoende daardie skokke te versag.