Die belangrikste nuwe veldwa vanjaar is ongetwyfeld Toyota se Land Cruiser 300.

Sedert die laat 1990’s, toe die oorspronklike 100VX bekend gestel is, oorheers hierdie reuse-Toyotas die mark vir luukse veldryvoertuie. Jy sal selde ’n Range Rover of Geländenwagen op ’n spogplaas se werf sien staan. Maar ’n luukse Land Cruiser? Heel waarskynlik.

Daar is geen ander luukse veldvoertuig wat naastenby die Land Cruiser VX-reeks se gewildheid of tweedehandse waardes kan ewenaar nie. Terwyl Europese luukse veldwaens beter hoësnelheidverrigting het, en met lugvering ritgehalte en veldryvermoë kan verstel, bly Toyota se eenvoudiger Land Cruiser die wenresep.

Met hierdie derde geslag van die luukse Land Cruiser is nie juis aan die voorkoms of afmetings getorring nie. Die ontwerp is onmiddellik herkenbaar en die bakverhouding amper millimeter vir millimeter soos dié van ’n 200.

Toyota bou steeds die 300 op ’n staalleerraam-onderstel, wat dalk ’n bietjie meer bakrol in skerp draai tot gevolg het, maar uiters taai is oor die lang duur. Land Cruiser-eienaars gebruik hul luukse veldwaens om weke lank te toer, waar Range Rovers-eienaars nie juis vir baie lang periodes gaan verken nie.

Verreweg die grootste verandering aan die Land Cruiser 300-reeks is onder die enjinkap. Toyota bied nou ’n veel kleiner enjin, met beter kragsyfers. Die 4,5 liter-V8-turbodiesel is vervang met ’n 3,3 liter-V6, en voor die Land Cruiser 200-aanhangers begin kla oor die kleiner enjinvolume en minder silinders, moet hulle liefs eers die syfers gaan navors.

Hierdie nuwe Land Cruiser-dieselenjin wek 227 kW en 700 Nm, wat verbeter op die V8-diesel se 195 kW en 650 Nm. Die nuwe kragbron help ook om die gewig te verminder: Die Land Cruiser 300 is 100 kg ligter as die 200.

Daar is ’n verwagting dat hierdie V6-enjin baie wakkerder verrigting sal verskaf, op die snelweg en in duineveld.

Benewens die beter kraglewering het die Land Cruiser 300 ook ’n outomatiese tiengangratkas, vier ratte meer as die 200 se sesgang. Verwag sterker inratversnelling en laer dieselverbruik, veral as jy sleep.

Veldryvermoë? Toyota weier steeds om te waag met lugvering, maar die hidroulies verstelbare kantelstaafstelsel het nou ’n elektroniese verstelling. Dit behoort nou vinniger en slimmer te werk, om jou bietjie meer wielbeweging te gee as jy uiterste klouvermoë benodig oor moeilike veldryhindernisse.

Toyota het nog nie ’n plaaslike prys vasgestel vir die Land Cruiser 300 nie, maar bevestig dat Suid-Afrika se eerste weergawe teen Augustus beskikbaar sal wees.