Toyota oorheers die plaaslike mark vir sportnutsvoertuie met sewe opsies en as enige mededingers gedink het daar is nie ruimte vir ? agste opsie nie, het hulle dit mis. Die maatskappy het pas ’n nuwe, grondpadvriendelike intreevlak-stasiewa bekend gestel. Sy naam is die Toyota Rush en hy is in werklikheid ’n Daihatsu.

Toyota besit ’n beherende aandeel in die Japanse kleinvoertuigspesialis. Vir diegene wat nog teleurgesteld is omdat Daihatsu in 2015 besluit het om hom aan die Suid-Afrikaanse mark te onttrek, is die Rush ’n lewensaar. 

Meganies is die nuwe Toyota slegs in agterwieltrek beskikbaar. Vergeet daarom van duine ry en modderpaadjies baasraak soos ’n mens met Daihatsu se vierwieltrek-Terios kon doen. Dink aan die Rush as ruimer, aantrekliker en beter as ’n Avanza, of as ’n bekostigbare Fortuner.

Die Rush se binneruim het onafhanklike klimaatbeheer vir snikhete dae en ’n inligting- en vermaak-raakskerm wat met Apple- en Android-slimfone kan skakel. Veiligheidskenmerke is voldoende met ses lugsakke, sluitweerremme en elektroniese stabiliteitsbeheer. Al is die Rush soos die Fortuner in ander lande met sewe sitplekke beskikbaar, het Toyota besluit om in belang van meer pakruimte eerder van die agterste twee sitplekke ontslae te raak. Die gevolg is ’n allemintige bagasieruim van 609 liter. 

Die Rush is uiters paraat vir grondpadtoer en troef slaggate met ’n grondvryehoogte van 220 mm – en dit is juis dié eienskap wat aan Toyota ’n reusevoordeel bo sy mededingers bied. 

Die meeste van die marksegment (digby R300 000) bestaan uit ’n voorwieltreksportnutsvoertuie, wat deugsaam is vir die dorp, maar hopeloos as hulle iets moet sleep of volgepak teen ’n gruispadhelling moet wegtrek. 

In teenstelling daarmee bied die Rush ’n agterwieldryfstelsel wat jou teen steil grondpaaie sal kan uitkry.

Slegs een enjin is beskikbaar vir die Rush, ’n viersilinderpetrol van 1,5 liter wat 77 kW en 136 N.m lewer, met ’n keuse tussen ’n vyfganghandratkas of ’n outomatiese viergangratkas. Hy is dus beslis nie ’n blitswa nie, veral as jy die meeste van jou kilometers in die binneland teen 1 000 m of meer bo seevlak aflê.

Die gebrek aan ? turboaanjaer maak die Rush egter meganies eenvoudiger en hou die voertuig se prys binne bereik van ’n bepaalde teikenmark. Die Rush se wielgrootte is die gewilde sewentienduim-deursnee, wat Rush-eienaars die keuse sal bied van ’n omvangryke reeks veld- en grondpadbande.

Met sy stewige grondvryehoogte is die Rush amper gelyk aan ’n vorige generasie Fortuner. Hy behoort meer as voldoende te wees vir die meeste gesinne wat hul voertuigbegroting noukeurig moet bestuur, maar ook die Suid-Afrikaanse platteland wil verken. 

Die voertuig is ’n terugkeer na die waardes van Toyota-gunstelinge van ouds: bekostigbare voertuie met geharde onderdele wat duisende kilometers grondpad sonder probleme kon kafdraf. Heimwee vir die ongelooflik gewilde Venture en Condor? Toyota het waarskynlik daardie verlange nou beantwoord.

Die Rush is geskoei in daardie Toyota-legende van ’n grondpadvriendelike gesinsmotor, met die voordeel van moderner ontwerp, te danke aan die Daihatsu-invloed, ’n handelsnaam wat self ’n gerekende geskiedenis in veldrykringe het. 

Toyota Rush (handrat) R302 900

Toyota Rush (outomaties) R316 600