Vir die handelsnaam wat met sy bakkies en veldvoertuie alle teenstanders uitstof, is daar min uitdagings oor. Wanneer jy die wêreld se toonaangewende veldvoertuigmaatskappy is, hoe stel jy nuwe uitdagings vir jou ingenieurs? Maklik, jy mik na die maan.

Daar is pas aangekondig dat die Japannese ruimteverkenningsagentskap (Jaxa) ’n vennootskap met Toyota aangegaan het om ’n nuwe maanvoertuig te bou. Jaxa beoog om teen 2029 ’n maansending te onderneem en benodig ’n oppervlakvoertuig vir ruimtevaarders om die maan wyer te verken as wat tevore probeer is.

Toyota het onderneem om ’n ses-wielaangedrewe ruimtevoertuig te bou. Die vereistes vir hierdie voertuig is uiters streng en Toyota glo dit sal as die nodige aansporing dien om die maatskappy se volgende geslag hoofingenieurs te ontwikkel.

Tegniese deurbrake wat gedurende die maanvoertuig se ontwikkeling ontsluit word, sal teruggeploeg word in Toyota se toekomstige padvoertuie – wat as die regverdiging vir die projek dien. Met die wêreldwye verwagting dat elektriese voertuie ná 2030 die motormark gaan begin oorheers, wil Toyota verseker dat hy op die kruin van die tegnologiegolf is.

Die vorige keer dat op die maan met ’n voertuig rondgery is, was in 1972. Die reikafstand van die voertuig was ’n skamele 35 km.

Toyota se maanvoertuig het nog nie ’n naam nie, maar van die tegniese besonderhede is reeds bekend. Dit gaan onder meer ’n reikafstand van 10 000 km hê.

Jaxa benodig ’n voertuig waarin twee ruimtevaarders onafhanklik van die hoofruimteskip die maan se oppervlak vir dae aaneen kan verken. Dit beteken die Toyota-maanvoertuig sal anders as vorige ruimtevoertuie nie oop wees nie, maar ’n toe kajuit en leefruimte hê.

Een van die grootste kwessies vir Toyota se ingenieurs is om ’n binneruim te bou waar twee ruimtevaarders in hul oorlewingspakke sonder hindernis sal kan beweeg. Die vereiste is dat daar 13 m² vloerruimte binne die maanvoertuig moet wees. Om so ’n ruim vloeroppervlak te skep het Toyota bevestig dat sy maanvoertuig 6 m lank, 5,2 m breed en 3,8 m hoog sal wees. Dit is ’n meter langer, twee maal breër en ’n meter hoër as ’n Land Cruiser 200VX.

Aandrywing sal Toyota se grootste knelpunt tydens die ontwikkeling van hierdie maanvoertuig wees. Die kragbron sal ’n waterstofbrandstofsel pleks van suiwer litiumbatterye wees. Toyota het reeds ervaring in die ontwikkeling van brandstofseltegnologie met sy Mirai-padvoertuig, wat sedert 2014 in markte beskikbaar is waar daar waterstofbrandstofpunte is.

Daar sal ook 'n reuse-sonpaneel wees, wat bietjie ekstra krag in die stelsel kan opberg wanneer die maanvoertuig onder bestraling is van die son.

Bande? Omdat die swaartekrag op die maan swakker as op aarde is, kan jy nie met gewone lugdrukbande ry nie. Toyota sal ingewikkelde speek-en-raamwiele uit metaal moet bou om sy maanvoertuig oor die stowwerige oppervlak te laat rol.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.