Nie almal kan die eerbewys as Boer van die Jaar wen nie, maar as jy wil voel soos die Boer van die Jaar, is die Land Cruiser 200 die gepaste voertuig vir jou. 

Toyota se reuse-weeldewa met sewe-sitplekke is Suid-Afrika se besbewaarde veldvoertuiggeheim.

Ten spyte van die stewige verkoopprys het Toyota gedurig minder voorraad as wat die vraag is na die Land Cruiser 200-reeks.

In ’n mark waar daar strawwe mededinging is van Britse en Duitse veldvoertuie, hoe het Toyota sy markaandeel so rotsvas geanker? Die Land Cruiser 200 is beslis nie die vinnigste, stilste of mooiste voertuig in sy klas nie. Maar dit is wel die een luukse veldwa wat volmaak voldoen aan plaaslike marktoestande.

Die wenresep is eenvoudig: ’n leerraamonderstel en onbreekbare betroubaarheid. Toyota se mededingers gebruik nie ’n leerraamonderstel nie, omdat die hoësnelheid-bestuurservaring van meer belang is vir kopers van die Range Rover en die Duitse veldwaens. Land Cruiser se reuse-leerraamonderstel laat dalk meer bakrol as ander ontwerpte toe in draaie, maar as jy ’n rotsbesaaide kloof moet deurkruis, is daar nie ’n beter veldryer nie.

Met verkope wat maandeliks digby 100 eenhede trek, het die Land Cruiser 200 kwalik enige verbeterings nodig. Tog het Toyota pas klein opknappings vir sy kroonmodelreeks aangekondig. Die Land Cruiser-aanbieding bestaan steeds uit twee voertuie, die GX-R teen R1 021 900 en die luukser VX-R teen R1 405 600.

Albei Land Cruisers word aangedryf deur Toyota se V8-turbodiesel van 4,5 liter, wat 195 kW en 650 N.m wringkrag lewer. Die kragsyfers is indrukwekkend, maar van meer belang is dat Toyota se luukse 4x4 kan loop op die besoedelde diesel wat ongelukkig ’n werklikheid is as jy buite Suid-Afrika se landsgrense wil toer vir sake óf ontspanning.

Wat is anders? Daar is ’n herontwerpte sierrooster, die hoofligte is ’n nuwe samestelling LED’s en as jy met valkoë kyk, is daar nou ’n donkerder skakering vir die Cruiser 200 se misligte. Binne kan voornemende eienaars van die opgeknapte reeks ook kies uit ’n derde leerbekleedselkleur – bruin – wat bykomstig is tot die bestaande swart- en beige-kleurskema.

In verskeie wêreldmarkte is die Land Cruiser 200 buite die bereik van die meeste bestuurders. Toyota het verkope van die Cruiser 200 in sekere Europese lande gestaak omdat die stede te beknop is vir so ’n tamaaie veldvoertuig. 

In Australië, Rusland en die Midde-Ooste is ’n Land Cruiser 200 die aangewese keuse vir ’n weeldevoertuig wat nie beperk word deur padtoetstande nie.

Waar die landskap oop is vir verkenning en die omgewing genadeloos is, troon Toyota se Land Cruiser 200 bo die meeste ander voertuie uit. Dit is juis daarom dat die grootste en duurste Toyota ook so ’n sterk gevolg in Suid-Afrika geniet. 

Vir boere wat in weelde wil stad of strandhuis toe wil pendel, en oral op die plaas hul eie wild moet kan tel van binne ’n leerbekleedselkajuitruimte, is Toyota se Land Cruiser 2000 onverbeterlik. 

As jy ’n spogoes agter die rug het, is ’n wit Land Cruiser 200 gewoonlik die aangewese beloning. Met goeie rede.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.