Die nuwe BT-50 is ’n natuurlike meganiese tweeling van Isuzu se derdegeslag-D-Max. As gevolg van internasionale produkbeplanning gaan die BT-50 sy D-Max-tweeling maande vooruit op die Suid-Afrikaanse mark. Al word die D-Max plaaslik gebou, sal dit eers volgende jaar aan Suid-Afrikaanse kopers beskikbaar wees.

Ondanks hierdie bakkiepolitiek weet ons nou meer van die twee kragbronne wat vir die BT-50 beskikbaar gaan wees.

Vir baie jare kon Isuzu-eienaars in Suid-Afrika net lees van die Japannese vervaardiger se 1,9 liter-turbodiesel. Hierdie kleiner dieselenjin is sedert 2015 wêreldwyd beskikbaar, maar dit is nooit plaaslik aangebied nie.

Vreemd genoeg, Mazda se BT-50-intreevlakenjin is Isuzu se 1,9 liter-turbodiesel. Die slagvolume is dalk kleiner as mededingende bakkies, maar die 1,9 liter-turbodiesel lewer steeds 110 kW en 350 Nm. Daar sal slegs ’n sesganghandrat beskikbaar wees. Dit is ’n aanduiding dat Mazda die Hilux 2.4 en Ranger se 2 liter-enkelturbo wil aanvat.

As jy meer krag begeer, is daar ’n BT-50 met ’n 3 liter-enjin wat 140 kW en 450 Nm lewer. Dit is ook ’n Isuzu-enjin.

Met die 3 liter-Isuzu-enjin kan Mazda nie die Hilux 2.8 of Ranger 2 liter-dubbelturbo se kragsyfers ewenaar nie, maar verrigting behoort heel skaflik te wees. En Isuzu se beproefde meganiese duursaamheid is vir die meeste bakkiekopers meer werd as ’n paar kilowatt krag.

Die 3 liter-BT-50 bied ook ’n outomatiese sesgangratkas en 4x4-dryfstelsel, albei meganiese kenmerke wat nie opsies is met die 1,9 liter-enjin nie.

Prysbesonderhede

Mazda hou die prysbesonderhede van die BT-50 nog geheim, maar van die toerustingvlakke is bevestig. Daar sal ’n keuse van ’n sewe- of nege-duim-tikskerm vir die inligting- en vermaakstelsel wees, wat met jou Apple- of Android-slimfoon skakel.

Die teenwoordigheid van daardie tikskermstelsels sluit ook ’n truratkamera in, om te verseker dat jy nie per ongeluk in iets vasry nie.

Mazda beloof om sterk veiligheid te bied met die BT-50. Hierdie dubbelkajuitbakkie sal sewe lugsakke bied om insittendes tydens ’n botsing te beveilig.

As jy binnekort ’n 1,9 liter-D-Max-dubbelkajuit wil koop, bied Mazda met die BT-50 aan jou ’n oplossing wat Isuzu nie kan nie. Vreemd, maar waar.