Vir 2020 is daar weer twee weergawes – standaard en Adventure Sport – en albei is nuut. Soos tevore kan jy tussen die gewone (voet)ratkas of Honda se indrukwekkende outomatiese ratkas (DCT) vir jou Twin kies.

Wat’s nuut?

Soos die naam aandui, verplaas die twee silinders nou saam 1 084 cc teenoor die ouer enjin se 998 cc. Tesame met ander wysigings, soos enjinprogrammering en ’n nuwe uitlaatbeheerklep, ontwikkel die nuwe enjin 75 kW teen 7 500 r/min. en 105 Nm teen 6 250 r/min., teenoor 70 kW en 98 Nm vir die CRF 1000 L. Albei ratkaste het steeds ses ratverhoudings.

Die raam is ligter en nouer as tevore, wat dit vir kort mense makliker maak om by verkeersligte voet neer te sit. Al die modelle se saalhoogte is verstelbaar van 85 cm tot 87 cm. Daarby is die stuur hoër as voorheen, vir makliker staan-en-ry, oftewel “meerkat”.

Waar voorheen analoog-instrumente was, pryk nou ’n kleurskerm met aanraakfunksie. Dit laat ’n verbysterende hoeveelheid verstellings toe, wat bepaal hoe die fiets hom gedra. Wil jy die voorwiel lig, maar nie te veel nie? Daar’s ’n verstelling daarvoor. Daar’s gesoute ryers wat vir dié funksies neus optrek, maar dit gee gemoedsrus aan nuwe ryers en kan die meer ervare ryer se bas of sy fiets (of albei) red.

Die nuwe Twin het nie satellietnavigasie nie, maar Google Maps werk deur Apple CarPlay. Android Auto is nog nie beskikbaar nie, maar daar’s Bluetooth vir foonoproepe en om navigasie-instruksies hoor, mits jy ’n praattoestel in jou helm het. Daar’s te veel verstellings en nuwe toerusting om op te noem, maar hier’s van hulle: ABS wat op gruis en in draaie werk, glybeheer wat ook in draaie werk, flikkerligte wat self afskakel en snelheidsbeheer.

Foto: Verskaf

Standaardfiets of Adventure Sport?

Die gewone Africa Twin (AT) en die langasem Africa Twin Adventure Sport (AT-AS) is elk met voetrat of outomatiese ratkas te kry. Maar ongeag die soort ratkas, hoe besluit mens tussen die twee?

Die petroltenks se grootte kan ’n faktor wees. Die AT s’n hou 18,8 liter en die AT-AS hou 24,8 liter. Met verbruik van 5 liter/100 km kan jy 375 km van die AT verwag en 500 km van die AT-AS.

Die tekkies verskil ook. Die AT het knoppiesbande met binnebande, en die AT-AS se bande is vir teerpad en gruis bedoel en is sonder binnebande, wat dit makliker maak om gaatjies te stop. Die wielgroottes is dieselfde: 18” agter en 21” voor, almal met speke.

Daar is ook ’n gewigsverskil weens die beskermende onderdele wat die AT-AS dra, byvoorbeeld sy pensplaat. Dié ekstras maak hom 12 kg swaarder as die AT. Terloops, die outomatiese ratkas is 10 kg swaarder as die gewone een. Die AT-AS se lugskerm is hoogteverstelbaar en die AT het ’n kort skermpie, wat verklap dat hy dalk meer (duur) speelding as toerfiets is.

Dan het die AT-AS-DCT (dis nou die Adventure Sport met outomatiese ratkas) iets wat geen van die ander nuwe Twins het nie: vering wat ’n mens deur die raakskerm elektronies kan verstel.

Ry hy nou beter?

Die nuwe modelle voel meer sekuur en gehoorsaam; asof hulle meer gewig afgeskud het as die 5 kg waarvan Honda praat. Hulle voel ratser, maar ’n mens het tyd nodig om met die voorste dempers se verstellings te eksperimenteer, om te sien of hulle naastenby so doeltreffend soos die KTM 790 Adventure R s’n is. Die ekstra enjinkrag is welkom, maar diegene wat al die bokser-GS se hemelse wringkrag gesmaak het, gaan nie opgeklits wees met die Twin s’n nie.

Die nuwe enjin sing wel pragtig en sal waarskynlik tot in ewigheid hou. 

PRYSE:

CRF 1100 – R210 000

CRF 1100 DCT – R222 499

CRF 1100 Adventure Sport – R236 000

CRF 1100 DCT Adventure Sport met elektroniese suspensie – R269 000