Let wel: Die pryse is ingeligte raaiskote en dui die aanvangsprys vir elke modelreeks aan.

Haval P-reeks-dubbelkajuit – R575 000

Te oordeel na die groot Haval H9 se verrassende gehalte en rygenot, en die maatskappy se verkoopsukses in die land, gaan die P-reeks nie sonder aanhangers wees nie. Hy’s groter as die Hilux en Ranger, maar kleiner as ’n Ford F250. Jy sal hom dus met ’n kode 8-rybewys kan bestuur.

Sy laaibak is groter as die norm en die kajuit sal moontlik ’n nuwe standaard vir binneruimte stel. Die laaibak se klap is gedemp en dit het ’n trappie wat gebruik kan word vir maklik opklim. Daar sal ’n dieselenjin wees, maar ook ’n brandstofdoeltreffende tweeliter-turbo-petrolenjin, wat 140 kW en 360 Nm ontwikkel.

Die outomatiese agtgang-ratkas het vier modusse – standaard, ekonomies, sport en vierwielaandrywing. Tesame met intelligente vierwielaandrywing is daar elektroniese ewenaarslotte in die middel en agter. Vir ’n bakkie is die binneruim is buitengewoon luuks en tegnologies gevorderd.

Subtiele lekkerruikgoed kan by die ventilasiegate uitblaas, nes in luukse motors soos die BMW X5. ’n Bosch-veiligheidstelsel behels aanpasbare snelheidsbeheer en stel die bakkie in staat om vanself in noodgevalle te rem.

Daar’s elektroniese stabiliteitsbeheer, ’n funksie wat voorkom dat die voertuig uit sy baan dwaal en semi-outonome parkering. Boonop is die P-reeks toegerus met kameras wat die bestuurder ’n 360-grade-beeld om die voertuig gee vir makliker parkering.

Isuzu D-Max – R280 000

Isuzu Suid-Afrika wil niks verklap oor die koms van die nuwe D-Max nie, maar ons weet die bakkie word plaaslik gebou. Al lyk dit nie so nie, gaan die nuweling aansienlik van sy voorganger verskil. Omdat mense hul motors toenemend vir dubbelkajuitbakkies verruil, sal die D-Max se kajuit luukser wees as tevore.

Die duurder modelle sal parkeersensors voor en agter hê, die vermaak-en-inligtingstelsel (met Apple CarPlay en Android Auto) sal op stembevele reageer, die voorruit sal meer sonbeskerming gee en die lugreëling vir bestuurder en passasier voor kan afsonderlik beheer word. Die stuur verstel vir hoogte en diepte en daar is sprake van ’n ligter stuurgevoel, ’n kleiner draaisirkel, ’n sagter rit en sitplekke wat moegheid teenwerk.

Veiligheid word bevorder deur LED-kopligte, ses lugsakke, en kameras sal blindekolle monitor en die bestuurder waarsku as hy agteruit in ’n pad wil intrek terwyl daar verkeer aankom. Verder is daar ’n ewenaargrendel, frisser remme en die 4x4 kan voortaan deur water 80 cm diep ry (vroeër 60 cm).

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

’n Dryfas van aluminium verbeter verrigting en die bakwerk is stewiger as tevore. Die bekende drieliter-turbodiesel is aangepas om 140 kW en 450 Nm te ontwikkel (tans 130 kW en 380 Nm) en om brandstofdoeltreffender te wees. Die outomatiese en handratkas het elk ses ratte vorentoe.

Daar is ’n nuwe 1,9 liter-turbodieselenjin wat 112 kW en 350 Nm ontwikkel, maar dis onseker of hy vir Suid-Afrika bestem is. Mazda se nuwe BT-50 sal op die D-Max gebaseer word.

Mercedes-Benz GLB – R625 000

Mercedes-Benz gaan skeepsvragte veldvoertuie in Suid-Afrika aflaai, onder meer die amper reghoekige nuwe GLB, wat beskikbaar is met opsionele sesde en sewende sitplekke. Volgens berigte is daar meer beenruimte agter die bestuurder en voorste passasier as in die duurder Benz GLC, en meer kopruimte daarby.

Van sewesitplekmotors gepraat: Die grootste Mercedes-sportnuts, die GLS (R1,6 miljoen) sal ook in Suid-Afrika aanland. Met ’n lengte van meer as 5,1 m is die bagasieruim ’n hele 470 liter groot wanneer sitplek ses en sewe in gebruik is.

Foto: Verskaf

’n Veldrypakket sal weer beskikbaar wees en dit behels ’n laestrekratkas, ’n ewenaarslot op die middelste ewenaar, pensplaat vir die enjin en verstelbare rithoogte. Daarby sal die klein GLA waarskynlik ook volgende jaar opdaag (met 11,6 cm meer beenruimte agter), die GLE-koepee sal aanmeld en die elektriese EQC sal ook sy verskyning maak. 

Nissan Patrol 5.6 V8 – R1,5 miljoen

Die Nissan Patrol-stasiewa se aankoms in Suid-Afrika was voorheen laat, maar hopelik is hy dié keer betyds. Die 2020-model is in wese dieselfde as die 2017-model, maar hy’s ingrypend verbeter. Geraas en vibrasie is glo aansienlik minder – nie dat daar juis veel was nie.

Nissan het die Patrol se voorkoms verskerp en die kopligte lyk nie meer oudmodies nie. Dis steeds die 5,6 liter-petrolenjin wat hom aandryf. Die 140 liter-tenk gee ’n reikafstand van sowat 1 000 km.

Foto: Verskaf

Daar is nog onsekerheid oor die koms van die Nissan Juke, maar ons weet dit is luukser as tevore, met meer plek vir passasiers en bagasie.

Die Kicks, Nissan se weergawe van die Renault Captur, is op pad en die elektriese Leaf sal ook in 2020 aan wal kom. Die Leaf+ behoort 350 km te haal voor jy hom weer moet inprop. Verder is daar sprake van ’n enkelkajuit-Navara wat plaaslik gebou gaan word.

Toyota Land Cruiser 79 4.5D V8 Namib-enkelkajuit – R830 000

Toyota het die Land Cruiser 79 Namib-dubbelkajuit onlangs in Suid-Afrika losgelaat. Die eerste besending het gou base gekry, ondanks die aansienlike verkoopprys van R893 600. Sestig enkelkajuitbakkies sal vir die eerste keer vanaf Februarie beskikbaar wees, “omdat klante en handelaars daarvoor gevra het,” het ’n woordvoerder van Toyota Suid-Afrika gesê.

(Photo by Cornel van Heerden)
Foto: Cornel van Heerden

Nes die dubbelkajuit het die enkelkajuit-Namib spesialis-suspensie, 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx-bande, 16”-allooiwiele, ’n voorste staalbuffer, LED-kolligte en ’n effens luukser binneruim.

Die Toyota C-HR (Coupé High-Rider), een van die gerieflikste rygoed op grondpad tot nog toe, word opgeknap. Voortaan sal die intreevlak-weergawes ook ses lugsakke hê. Die onderstel word ook effens aangepas en die klankstelsel kry Apple CarPlay en Android Auto.

Foto: Verskaf