Volgens die nasionale vereniging vir voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) is altesame 557 586 nuwe voertuie in 2017 van die hand gesit. Dit is 1,8% (of 10 039 eenhede) meer is as die 547 547 nuwe voertuie wat in 2016 nuwe base gekry het.

Hoewel ruim 16% van 2017 se verkope toegeskryf word aan motors en ligte kommersiële voertuie wat deur voertuigverhuringsmaatskappye aangekoop is, glo optimiste dat hierdie styging in die totale verkoopsyfer die keerpunt van ’n dalende verkoopsiklus kan wees.

Suid-Afrika se allerbeste verkoopsyfer vir nuwe voertuie is 11 jaar gelede bereik met 714 314 eenhede, waarvan 481 558 motors was. In 2014 is 643 744 nuwe voertuie verkoop teenoor die 617 648, 547 547 en 557 586 wat onderskeidelik in 2015, 2016 en verlede jaar (2017) verkoop is.

Die uitvoersyfer vir nuwe voertuie in 2017 was 329 053 eenhede, wat 4,6% (15 767 eenhede) minder was as die 344 820 eenhede wat in 2016 uitgevoer is. Terloops, die 2017-uitvoersyfer is steeds die bedryf se derde beste uitvoerprestasie tot nog toe.

Somber toneel
Die verkope vir Desember 2017 op ’n jaargrondslag skilder ’n somberder toneel met die verkoop van 40 636 nuwe eenhede, wat 2,4% (1 008 eenhede) minder is as die 41 644 eenhede wat in Desember 2016 van die hand gesit is. In Desember 2017 is 17 374 nuwe eenhede uitgevoer, wat 7,1% (1 333 eenhede) minder is as die 18 707 eenhede wat in Desember 2016 uitgevoer is. 

Naamsa sê te midde van onsekere ekonomiese en fiskale beleid, politieke struikelblokke, die risiko van ’n verdere ekonomiese kredietafgradering en toenemende geopolitieke spanning het Suid-Afrika se finansiële markte gunstig op die ANC se 2017-verkiesingskonferensie gereageer.

Nóg ’n konstruktiewe aspek is die onlangse ekonomiese aanwysers dat die Suid-Afrikaanse ekonomie beter presteer ondanks die lae vlakke van sake- en verbruikersvertroue. As Suid-Afrika ’n verdere kredietafgradering sou vryspring, is dit heeltemal moontlik dat die ekonomiese groeikoers van 1,0% vir 2017 kan styg tot 1,9% vir vanjaar (2018).

Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel ekonomiese groei van 3,7% vir die wêreld, wat net ’n gunstige uitwerking op die plaaslike voertuigbedryf se uitvoerprogram kan hê.

Versnelde ekonomiese groei in Suid-Afrika is noodsaaklik en bly afhanklik van hoe sosiaal-ekonomiese uitdagings deur die motorbedryf, die Regering en die arbeidsmag getakel gaan word om ’n meer beleggingsvriendelike omgewing te skep.

Naamsa reken die mark vir nuwe motors kan in 2018 met 2% styg teenoor 2017 se syfers en dié vir nuwe ligte kommersiële voertuie met 4%.