Vir Ficksburg se Louis du Toit is daar net een bakkie. En dit is ’n Ford Ranger.

Die Oos-Vrystater het ’n saagmeule en ry sowat 60 000 km per jaar op teer- en grondpaaie. Al is die Oos-Vrystaat aangrypend mooi, met daardie berge, is die padoppervlakke maar gehawend, wat ’n strawwe lewe vir plaaslike voertuie beteken.

Louis het sy Ranger 2.2 XLS 4x4-enkelkajuit in 2013 gekoop, ’n paar jaar nadat die huidige reeks T6-Ford-bakkies in Suid-Afrika bekend gestel is. As jy jou Ranger-bakkies ken, sal jy onthou dat die 2,2 liter-weergawe, met 110 kW en 375 Nm wringkrag, ’n groot deurbraak vir Ford met tegnologie vir kleiner dieselenjins was.

Hierdie bakkie het nou 455 000 km op die klok en dit beteken dat Ford vir Louis ’n tweede diensboek moes gee, omdat die gewone diensboek slegs genoeg bladsye vir 300 000 km het.

Al het Louis destyds die kleiner 2,2 liter-turbodieselenjin gekies, was werkverrigting nog nooit ’n kwessie nie. Hy laai en sleep graag met sy Ranger. Selfs in die dun lug om Ficksburg ken Louis se Ford-enkelkajuit nie van sukkel nie.

Bakkie-eienaars begin gewoonlik ná so vyf jaar jeuk vir allerhande opgraderings, maar Louis se Ranger is net soos hy in 2013 deur Ford in Silverton, Pretoria, gebou is. Daar is geen veranderinge ten opsigte van vering nie. Louis het ook nie aan die dieselenjin laat peuter nie.

Al wat verander, is van die gewone vervangingsonderdele. Louis se Ranger is op sy tweede stel skokbrekers en loop op ’n vyfde stel bande.

Die mikpunt is nou om hierdie Vrystaatste bakkie tot by 1 miljoen kilometer te kry. Iets wat Louis glo heel haalbaar is.

Wat is die geheim tot sy Ranger-werkbakkie se duursaamheid? Louis glo die antwoord is heel eenvoudig. “Ek laat my bakkie slegs diens by die Ford-handelaar op Bethlehem. Veral wanneer ’n bakkie ouer raak, is dit belangrik om dit by ’n amptelike handelaar te laat versorg.”

Die Oos-Vrystater is so ingenome met sy Ranger dat hy nog twee aangeskaf het. Daar is ook ’n 2018 Ranger XL SuperCab en 2019 Ranger XLT SuperCab 4x4 in Louis se vloot, met onderskeidelik 130 000 km en 51 000 km op hul afstandmeters.

Met sy lae kilometers is die SuperCab XLT 3.2 4x4 heel moontlik Louis se vakansie- en naweekbakkie, vir dorp toe gaan.