Die duinebesie was oorspronklik ’n Kaliforniese ontwikkeling van die Kewer, wat die lugverkoelde enjin en agterwielaandrywing aangepas het met ’n ligter, oop bak en groter bande. Vanaf die laat 1960’s het die duinebesie nie sy gelyke gehad as ’n eenvoudige duinverkenningsvoertuig nie.

Hedendaagse veiligheidsregulasies en die heengaan van lugverkoelde enjins het die einde van hierdie gewilde strandhuis-vakansievoertuig beteken. Maar VW is vasbeslote om die gees van sy ou gunsteling te laat herleef. Onder die projeknaam ID Buggy is daar batteryaandrywing en indrukwekkende verrigting in die vooruitsig vir VW-aanhangers wat iets eenvoudigers as ’n Amarok of Touareg verkies vir hul veldryavonture oor naweke.

Die ID Buggy se ontwerp het oral ooreenkomste met die oorspronklike duinebesie: ronde kopligte, ’n oop kajuit en ’n romp wat oor die wielboë vou. Binne is die ontwerp net so eenvoudig soos ’n ou duinebesie met waterdigte bekleedsel en ’n tweespeek-stuurwiel wat oorgetrek is met duursame, waterbestande Nappa-leer.

Op die oog af is die ID Buggy ’n groot speelding, maar daar is werklik treffende ingenieurswese wat die voertuig onderspan. Vir aanhangers van die duinebesie wat die vertroude klanke van die lugverkoelde enjin soek, sal daar net stilte wag . . . want die ID Buggy word deur elektrisiteit aangedryf.

Die ID Buggy se onderstel benut VW se nuwe Modularer Elektrobaukasten- (MED) platform, wat moontlik gemaak is deur ’n reusebelegging om die maatskappy se toekoms te verseker in ’n wêreldmark waarin die vraag na elektriese voertuie vinnig toeneem. Energie word opgeberg in ’n samestelling van batterye onder die kajuit en agteras, wat ’n T-vorm maak.

Hierdie 60 kWh-batterystelsel se kraglewering is ’n indrukwekkende 150 kW, met 309 N.m wringkrag. Daardie syfers sorg vir wakker verrigting, met VW wat daarop aanspraak maak dat die ID Buggy binne 7,2 sekondes van 0-100 km/h kan versnel.

As ’n duinveroweringsvoertuig sal die elektries aangedrewe ID Buggy baie gerekende veldwaens op hul neus laat kyk, veral met die groot 18 duim- BF Goodrich bande, wat 255/55 meet op die vooras en 285/60 agter. Hierdie bande sal oorgenoeg kloukrag bied om ’n ID Buggy se kraglewering in onkeerbare momentum om te skakel as jy duine wil aanpak.

VW se tegniese span het besluit om die ID Buggy so aanpasbaar moontlik te maak, met die binnekant wat as ’n twee- of viersitplekruimte aangepas kan word. Daar is ook ’n keuse tussen tradisionele agterwielaandrywing (soos die oorspronklike duinebesie) of vierwieltrek, wat moontlik gemaak word deur ’n kleiner elektriese motor op die vooras. 

Wat hou die toekoms in vir VW se ID Buggy? Is die ontwerp net ’n verbeeldingsvlug of ’n oomblik van heimwee vir VW se ingenieurs? VW hou vol dat die vertoonvoertuig gebou is met ’n samestelling onderdele wat as 70% produksiegereed geag kan word. As die mark roep, sal VW kan voorsien. Stel jou voor: ’n kragtige ID Buggy wat herlaai kan word deur die sonpanele op jou strandhuis se dak? Dit kan sin maak vir boere wat wonder oor ’n geskikte voertuig vir ’n vakansiehuis.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.