VW se derde geslag Touareg is pas in Suid-Afrika bekend gestel en word bestempel as die mees gevorderde voertuig wat nóg plaaslik deur Volkswagen bemark is.

Touareg is die slim koper se weelde-veldwa, met ingenieurswese en onderdele wat gedeel word met Audi se Q7, teen ’n billiker prys, met die reeks wat begin teen R999 800.

Die jongste Touareg het ’n sagter voorkoms, wat help om die groter bakvorm – 77 mm langer en 44 mm breër – kleiner te laat vertoon as wat dit werklik is. Belangriker is die onderstel, wat gedeel word met Bentley se Bentayga en Lamborghini se Urus – ongetwyfeld ’n gehalte bloedlyn.

Passasiers trek voordeel uit die groter afmetings met baie meer binneruimte. Die bagasieruim is heelwat groter as voorheen, met 810 liter pakplek. Die agterpassasiers se sitplekke het amper soveel verstelling as die bestuurder en voorpassasier s’n: 160 mm vorentoe of agtertoe en ’n rugleuning wat 21 grade kan terugkantel.

Reuse-inligtingskermoppervlaktes oorheers die Touareg se voorpaneel met 15 duim se helder grafika wat jou op hoogte hou van wat binne en buite die voertuig aangaan.

Altesaam 256 LED-liggies verskaf beligting en elkeen kan onafhanklik werk, wat beteken dat jy in ’n nuwe Touareg met die hoofligte op hul helderste verstelling kan bestuur en nooit ander padgebruikers sal verblind nie. Die LED-ligte herken ’n aankomende voertuig en skakel dan sekere van die 256 onderligte af – alles om die naderende voertuig te verhelder sonder om die aankomende bestuurder te verblind.

Buiten die slim kopligtegnologie het die Touareg ’n indrukwekkende eienskap – iets wat Suid-Afrika se langpad en plattelandse bestuurservaring baie veiliger kan maak. Dit klink dalk soos iets uit ’n wetenskapsfiksieboek, maar die Touareg beskik nou oor hittebeeldtegnologie wat ’n mens of dier se teenwoordigheid langs die pad buite die kopligte se straalbeeld kan bespeur. Die bestuurder sien dan die hittebeeld en word gewaarsku op die Touareg se digitale instrumentepaneel.

Ten spyte van al die tegnologie is die nuwe Touareg nie swaarder as sy voorganger nie, te danke aan ’n vermenging van gevorderde metale wat die voertuig se gewig met 106 kg verminder. Dit beteken flink verrigting en die bekende 3 liter-V6-turbodieselenjin is nou ’n rapsie sterker as voorheen, met 190 kW drywing en 600 N.m wringkrag.

Onafhanklike lugvering is ’n opsie en bring die gevorderde onderstel tot sy reg, met ongelooflike ritgehalte, veral as die kleiner 18 duim-wiele, met groter lugvolumebande, gekies word. As voorkoms vir jou belangriker as grondpad-ritgehalte is, bied VW ook 21 duim-wiele, met ’n baie laer profiel band.

Al is die Touareg in beginsel nou ’n grondpad-toervoertuig wat gepantser is teen slaggate op Suid-Afrika se hoofroetes, is daar steeds ’n billike hoeveelheid veldryvermoë. Lugvering gee 70 mm se hoogteverstelling, wat ’n maksimum grondvrye hoogte van 270 mm bied – oorgenoeg om enige rotshindernis sonder moeite te oorkruis.

Die Touareg is ongetwyfeld die weelderigste voertuig in VW se modelreeks. Dit is waarskynlik nou ook die veiligste veeldoelvoertuig vir ’n gesin wat gereeld in die donker moet terug plaas toe op paaie waar voetgangers en diere onvoorspelbaar kan kruis.