JAC T8 1.9 TDi 4x2 Lux

Suid-Afrika se romanse met bakkies gaan nie ongesiens verby nie. Jaloerse oë soek deurentyd gapings om in Toyota en kie se slaai te krap. China sukkel egter met die ogies maak, want sy produkte was tot dusver flou.

JAC is nog ’n bakkievervaardiger uit dié land. Wiele het ’n 120 km-draai gaan ry met die T8-4x2-dubbelkajuit (handrat). Met swart metaalverf en spiertier-stilering het die toetsvoertuig swierig vertoon. Die bakpanele sit netjies en binne is dit ook so. Die gehalte van die plastiek is goed, maar die sitplekke stel teleur.

Die 1,9 liter-turbodiesel se 100 kW en 320 Nm is allermins kookwater-kragsyfers, maar dit voel tog of hy meer perde as dit het. Ongelukkig dring enjingeraas die kajuit binne. Teen ’n laer spoed het die luidsprekers se sterk klank die enjingeraas maklik uitgedoof.

Dat die rathefboom halsstarrig in eerste inskuif, het gepla, maar dit was nie so met die ander gange nie. Die bakkie sit behoorlik in die draaie en voel ook stabiel en vasvoetig bokant 120 km/h. Op grondpaaie was sy ritgehalte bogemiddeld, en hy troef ’n paar veel duurder bakkies in dié opsig.

Buiten die ordentlike klankstelsel het die T8 twee lugsakke, ABS met elektroniese remverspreiding, ’n trukamera en sensors, xenon- kopligte, Bluetooth, ’n kissie waarop jy jou arm kan rus, lugreëling en kunsleersitplekke.

Ter opsomming, sy naam is dalk heel gepas, want dié bakkie is ’n Jack of all trades, maar hy blink nêrens uit nie. Dit sal ’n spesiale eienskap in ’n bakkie verg, soos die nuwe GWM P-Series se reusekajuit, om kopers te laat regop sit.

Prys: R384 900 (voertuig verskaf deur MadMacs.co.za)

Mercedes-Benz GLE 400d coupe 4Matic AMG Line

Mercedes-Benz GLE 400d coupe 4Matic AMG Line

Die Toyota Land Cruiser 200 se sukses is welbekend en allermins verrassend. Dié kanniedood hou en hou, ongeag wat hy moet trotseer. Ry jy egter paaie wat netjies in stand gehou word, sonder stof wat oral indring, is daar luukser viertrek-rygoed om van te kies — soos die Mercedes GLE, voorheen bekend as die ML.

Nie eksklusief genoeg nie? Daar’s ook ’n nuwe skuinsdakweergawe, die GLE-koepee. Sy voorkoms is sportief en sy pens is laag. Daar’s net een weergawe beskikbaar, met Mercedes se fluisterende 3 liter-sessilinder-turbodiesel, wat ’n stewige 243 kW en 700 Nm opdis.

Met die regtervoet plat sal die motor van stilstand tot 100 km/h in net 5,7 sekondes versnel — genoeg om ’n stadsjapie se Golf GTI weg te ry. Brandstofverbruik is nietemin puik. Mercedes praat van 6,9-7,4 liter/100 km, maar 8 liter/100 km (12 km/liter) is nader aan die waarheid.

Daar is meer beenruimte en pakplek as tevore, en die suspensie is stywer vir beter padhouvermoë. Dit is jammer, want gerief is sekerlik belangriker. Onder die standaardtoerusting tel sportsitplekke, twee groot instrumentskerms van 12,3” elk, kameras reg rondom en Active Brake Assist, wat die motor vanself laat rem indien die bestuurder té laat reageer.

Is die kool die sous werd? Waarskynlik nie, want die gewone GLE kos sowat R300 000 min- der en is in byna elke opsig net so bekwaam, of beter.

Prys: R1 827 800.