ISUZU D-Max 300 LX 4x4 Auto

Anders as passasiersmotors het bakkiemodelle ’n lang lewensiklus. Ry vandag ’n nuwe D-Max (KB) van die vloer af, en jy’t ’n model wat Isuzu al in 2012 bekend gestel het. ’n Ervare ontwerp het wel voordele: Hy’t hom al bewys, en die ingenieurs het tyd en ondervinding gehad om hom te verbeter. Só verskaf die D-Max nou ’n gemakliker rit, en onlangs is ’n ses-de rat bygevoeg vir die handrat- én outomatiese model.

Terloops, laasgenoemde werk gladweg, maar die handratkierie is soms halsstarrig en skuif minder bevredigend as ’n Hilux s’n. Die enjin in ons luukse D-Max LX-4x4-toetsbakkie is die bekende drieliterdiesel, met vier silinders en ’n turboaanjaer.

Dis nie ’n stil enjin nie en sy kraglewering van 130 kW en 380 N.m steek af by die ander fabrikate s’n. Maar hy’s darem nie ’n lamsak nie. Die sesde rat stel die enjin in staat om sy werk teen laer omwentelings te verrig. Meer ratte help dalk om enjingeraas te beperk, maar brandstofverbruik is bykans onveranderd.

Ander noemenswaardige toerusting in die D-Max LX is LED-koplampe, ses lugsakke en glybeheer wat ’n sleepwa wat wil swaai, in toom sal hou. Die nuwe D-Max sal waarskynlik op die vroegste in 2021 hier wees.

Intussen het Isuzu Suid-Afrika sowaar die regte bekom om die Arctic Trucks-weergawe van die D-Max hier te bou en te verkoop. Dit behels spesiale vering deur Fox (wat ook die Ford Ranger Raptor s’n verskaf), enorme wiele met BF Goodrich-tekkies van 890 mm, en vergrote wielnisse.

Die enjin bly onveranderd, maar die Isuzu Arctic AT35 (soos hy heet) is aansienlik meer veldvaardig as die LX 4x4, ook danksy ’n rithoogte van 268 mm. Die AT35 se prys? R785 000.

Prys: R640 500

Isuzu Arctic AT35
Hyundai Tucson R2.0 Sport

Hyundai Tucson R2.0 Sport Turbodiesel

As toegewyde sportmotorver- vaardigers nou luukse veldvoertuie bou, weet ons die behoefte om op grondpaaie te “Giniel” gaan nie gou oorwaai nie. Die Hyundai Tucson R2.0 Sport Turbodiesel kom nie uit ’n befaamde sportmotorfamilie soos Porsche se Cayenne Turbo nie, maar die resep stem ooreen: Neem ’n vaartbelynde stasiewabakwerk, sit dit op stelte en gooi ’n hitsige enjin onder die kap.

Soos die ou Ford Capri Perana en BMW 333i is dié ongeduldige Tucson ’n boer-maak-’n-plan-produk. Hyundai Suid-Afrika het gewone Tucsons gevat, hulle warm gemaak en kosmeties vin- niger laat lyk. Hy het dit voorheen met die 1.6T petrol-Tucson 4x4 gedoen, maar nou kan jy dié vinniger diesel-Tucson kry.

Die gewone tweeliterdieselenjin ontwikkel reeds ’n fris 131 kW en 400 N.m, maar na-dat die boere hom onder hande gehad het, skop hy 150 kW en 460 N.m uit. Vir dié massering betaal jy R56 000. Die R2.0 Sport en sy outomatiese ratkas (agt ratte vorentoe) trek soos ’n stoomtrein en is ’n vreugde om op grondpaaie én teer te bestuur – danksy goeie hantering, ritgehalte en bak- stewigheid.

Anders as Hyundai SA se eerste Tucson Sport-weergawes is die aandrywing nou slegs deur die voorwiele. Die R2.0 Sport Turbodiesel is ’n opwindende ryding, maar vir net R5 000 meer kan ’n mens die nuwer Hyundai Santa Fe 2.2D Executive koop. Dis ’n groter en veelsydiger wa, wat boonop twee ekstra sitplekke bied, en het geen tekort aan krag nie.

Prys: R664 900

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.