Opel Grandland X 1.6T A/T Cosmo

Nie lank ná Opel van General Motors weggekom het nie, het Frankryk se PSA-groep (Peu- geot/Citroën) hom gekoop. Die eersteling uit dié huwelik is die Opel Grandland X, wat sy onderstel en heelwat meganika met die indrukwekkende Peugeot 3008 gemeen het.

Die Grandland X is een van die verfyndste voertuie in sy klas. Teen kruisspoed is wind- en padgeraas so te sê afwesig, en die sitplekke ondersteun die lywe deeglik. Dit maak die Grandland ’n goeie langafstander. Die turbo-aangejaagde petrolenjin van 1,6 liter het nie die vertraagde reaksie wat sommige turbo-enjins lam lê nie.

Selfs met twee volwassenes, twee tieners en ’n klomp bagasie aan boord was daar geen tekort aan krag nie. Die outoratkas is van die slim soort wat nie op die verkeerde oomblik ’n rat haak nie. Ry ’n bergpas van bo na onder, en hy verstaan die bestuurder wil in ’n laer rat bly om die snelheid te beperk en die padhouvermoë te verbeter.

Die Grandland het dus baie wat in sy guns tel, maar hy laat ook soms die bal uit sy hande gly. Die knoppies op die paneelbord is klein en dit is soms moeilik om te sien of hulle aan of af is, soos die lugver- sorging se hersirkulasiefunksie of die verhitte agterruit. Daar’s ’n funksie wat die bestuurder met ’n irriterende geluid waarsku as sy haar baan verlaat.

’n Mens kan dit afskakel deur ’n klein knoppie te druk, maar jy moet dit vyf sekondes lank inhou. Op ruwe grondpaaie was dit gou duidelik dat die Grandland meer kar as veldwa is. Selfs met ’n laer banddruk was die rit stamperig. As jy daagliks slegte paaie ry, is die Grandland X nie vir jou bedoel nie en sal die Toyota CH-R of Fortuner meer gepas wees.

Oorweeg ook die Grandland X Enjoy-weergawe vir ’n vet R100 000 minder.

Prys: R565 000.

Nissan Qashqai 1.5 dCi Acenta Plus

Die afgryslike brandstofpryse in Suid-Afrika, waarvan 40% van elke tenk in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se bodemlose put verdwyn, dwing motoriste om alternatiewe te oorweeg. Elektriese aandrywing is uiters kostedoeltreffend, maar dis vir weinig mense prakties.

Dit laat ’n mens met klein dieselenjins as oplossing, en nêrens werk dit beter as in die Nissan Qashqai 1.5 dCi nie. En wat ’n verstommende enjin is dit nie . . . Ná ’n toetsrit van 60 minute, teen 160 km/h, was die gemiddelde verbruik ’n skamele 6,4 liter/100km. In stadsverkeer was die gemiddelde soms minder as as 4,5 liter/100km.

Bogenoemde is ongeveer die helfte van wat ’n Toyota Fortuner (diesel) in soortgelyke toestande verbrand en ’n derde van dié van die Qashqai se V8-stalmaat, die Patrol. Moenie dink lae brandstofverbruik is die enigste kaart in die Qashqai se mou nie. Daar’s ’n spul goed wat in sy guns tel, soos ’n sagte en gerieflike rit en ’n stil kajuit – selfs teen ’n hoë snelheid.

Die binnekant is ruim en daar’s genoeg plek vir langbeen-tieners en ’n spul sportsakke. Die dieselenjin is ywerig, maar nie uitermate kragtig nie. Dit is gekoppel aan ’n sesgang-hand- ratkas met ’n heerlike, láááng sesde rat. Die ratskuiwe is nie van die gladste nie, maar die enjin sal nie sommer vrek as jou koppelaar-en-ratkoördinasie nie perfek is nie.

Die gehalte van die binneruim is goed, maar dis nie op die Opel Grandland X (hiernaas) se premievlak nie en voel ook nie so stewig gebou nie. Die Qashqai 1.5 dCi se lae verbruik kan ’n groot verskil aan ’n motoris se brandstofrekening maak en hy gaan haar dalk net so goed dien as ’n Fortuner of Everest, wat omtrent twee keer so dors is.

Prys: R421 900.

Volvo XC40 D4 R-Design

In Latyn beteken “Volvo” “ek rol”. Dis veral nou gepas, want, soos die Engelse sê, they’re on a roll. Vanjaar het Volvo reeds die XC40 en die XC60 na Suid-Afrika gebring, en die S60 is op pad.

Die XC40 is ’n klein sagtebaard-veldwa soortgelyk aan die BMW X1 en Audi Q3. Die luukse D4 R-Design-weergawe wat ons bestuur het, dryf ál vier wiele aan. Vanweë sy hoekige, regop ontwerp lyk die XC40 klein, maar hy’s g’n Fiat Punto nie. Die bagasiebak is ruim en daar’s genoeg kopruimte agter vir lang passasiers.

’n Faset van sy ontwerp wat egter teen hom tel, is die heuplyn wat skerp styg na agter en die bestuurder se sig versper. Op ’n grondpad noord van Heidelberg (Wes-Kaap), naby die Grootvadersbosch-natuurreservaat, het die XC40 gewys hoe tuis hy op gruis is. Sy breë tekkies het stewig vasgetrap en die rit was nie uitermate stamperig nie.

Die bakwerk en veral die onderstel het onwrikbaar gevoel. Die D4 R-Design het ’n outokas met agt ratte vorentoe. Om trurat of Drive te kies, druk die bestuurder ’n kort hefboom twee keer vorentoe of twee keer na agter.

Dit klink omslagtig, maar voel gou moeiteloos. Getrou aan Volvo se aard is daar heelwat veiligheidstoerusting, maar sommige daarvan kos ekstra, soos die afstandbeheer wat die snelheid aanpas volgens die voertuig voor hom en die stuurstelsel wat die bestuurder help om die pad se kontoere te volg.

As ’n mens dit en ander ekstras byvoeg, styg die prys maklik met R60 000. Gelukkig is daar nou ook ’n T3 Momentum met handrat en voorwielaandrywing beskikbaar vir ’n meer verteerbare R486 500.

Prys: R637 800

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.