Dit is net na 6vm toe ek die Toyota se enjin doodmaak onder die ou dennebome by die veepos. Volgens die voertuig se termometer is dit -3 °C buite. Die enigste teken van die son wat moet opkom, is ’n oranje kronkelstreep agter die donker Stormberge.

Ons klim uit en gaan ons toerusting na voordat ons koers kies na die klowe sowat 2km weg. Saam met my is my neef, Erre en my pa, oom Lawry. Die 45 minute se ry na Dwaalfontein toe is gebruik om die dag se plan van aksie en die geskiedenis van vorige jare se jagte met Erre te bespreek.

Dit is sy eerste jag saam met ons op Dwaalfontein. Sedert 1999 jag ons jaarliks vanaf hierdie veepos wat weggesteek lê tussen ander plase. Rooiribbokke is volop hier en hulle was die hoofrede vir ons besoeke elke winter. Omtrent 10 jaar gelede het dinge egter verander.

Koedoes (en vlakvarke) het hulle ook in hierdie deel van die Oos-Kaap kom tuis maak. Aanvanklik het ons hulle nie gejag nie, omdat die getalle maar laag was. Maar intussen het hul getalle só toegeneem dat hulle eintlik as ’n pes beskou word vir die meeste veeboere wat groenvoer plant.

Eie rigtings

’n Ligte briesie uit die noordweste was perfek in ons guns. Intussen het die wêreld rondom ons begin kleur kry met die son wat stadig oor die hoë berge loer. By die laaste konsertinahek slaan ons drie elkeen sy eie rigting in. Ek stuur vir Erre na die naaste kloof waar ons meer gereeld koedoes kry om sy kans te verbeter om een van die ou grotes suksesvol te jag op hierdie oop plaas sonder enige wildheinings.

Ek is met ’n draai na ’n ander kloof so ’n paar honderd meter aan Erre se regterkant. Tussen ons het oom Lawry stelling ingeneem op ’n koppie. Hy was slegs bewapen met ’n Zeiss 10x42-verkyker om ons te help soek. Hy self jag nie meer nie. Ek het baie stadig gestap om enige geraas te beperk. Dan het ek ook die gewoonte om rustig te raak vir ’n minuut of twee so op my eis, net om dankie te sê vir die voorreg.

Ek kon oor die tweerigtingradio hoor dat oom Lawry reeds koedoes gesien het wat besig was om in Erre se rigting te beweeg. Eers het ek op die rand van die kloof beweeg, maar kon nie sien wat aan die onderkant is

nie. ’n Ent verder, omtrent in die middel van die kloof, het ek in die koelte van ’n groot rots gaan sit.

Nadat ek ’n lemoen afgeskil het, het ek die groot kloof onder my met die Leica begin fynkam. Oom Lawry het oor die radio beduie waar hy koedoes sien. Vanuit my posisie kon ek ’n handjievol koeie en jong diere sien wat in Erre se rigting beweeg.

Agter hierdie troppie was twee pikswart bulle wat bo-op die berg bly staan het. Hulle wou nie beweeg nie. Hierdie bokke was seker meer as ’n kilometer van my af. Ek het eers my aandag op die kloof voor my gevestig. Stadig het ek elke bos en skaduwee deurgekyk vir iets wat beweeg. “Expect the unexpected”, sê ek heeltyd vir myself as dit by koedoejag kom.

Heel onder in die kloof in die lang wit gras het ek drie vlakvarke gesien op hulle knieë, besig met hul ontbytspyskaart. Omdat ek nie kon sien wat in ’n gedeelte van die kloof aan my regterkant was nie, het ek opgestaan en nader aan die grensdraad beweeg vanwaar ek hopelik ’n beter uitsig sou hê.

Ek het weer seker gemaak dat my roer patrone in die magasyn het en toe sover moontlik op die rotse en in skaduwees beweeg. Ek het my staan gekry onder ’n groterige bos en uit die hoek van my oog sien ek toe vyf koedoekoeie wat in die son staan, regs onder my, skaars 150m weg.

Slegs een koei het in my rigting gekyk, maar na ’n minuut of twee het sy belangstelling verloor. Langs die koeie sien ek toe skielik die stel horings van ’n volwasse koedoebul. As gevolg van die terrein kon ek egter nie sy lyf sien nie. Ek het plat gaan lê op die yskoue rots en my gemaklik probeer maak. Die bul was nou nie meer sigbaar nie en ek het geweet hy gaan sy verskyning maak waar ek dit die minste verwag.

Wag...

Terwyl ek wag, laat weet ek die ander twee manne oor die radio van die koedoes reg onder my. Behalwe vir die koeie het daar ook ’n jong bulletjie te voorskyn gekom. IN SIG! Later het die koeie staan-staan na die onderkant van die kloof begin beweeg en toe hulle daar kom, het die jong bulletjie hulle gevolg. Steeds was daar geen teken van die groot bul nie.

Toe, uiteindelik sien ek hom! Hy het dieselfde pad as die jong bulletjie gevolg. Ek het saggies ’n 180gr AccuBond in die .300 Win Mag se keel gedruk en die bul deur die teleskoop gevolg. Omdat hy reg weg van my af geloop het, kon ek nie skiet nie – al wat sigbaar was, was sy boude en horings. Ek het gewonder of ek moes fluit, maar voor ek dit kon doen, het iets regs van die bul sy aandag getrek.

Hy het plankdwars met sy regterblad na my toe gedraai. Die bul was nou omtrent 200m weg en daarom het ek die Z3 se eerste afmikmerkie op sy blad geplaas. Wat in die volgende minuut gebeur het, was ’n eerste vir my in die amper 20 jaar wat ek jag. Die .300 het gebrul en die rustigheid versteur, maar die bul het geen reaksie op die skoot getoon nie.

Nie van die impak van die koeël nie en ook nie van die klank nie. Terwyl ek vinnig herlaai en ’n 180gr Ballistic Tip in die .300 se keel druk, draai die bul sy kop in my rigting, gee my ’n kyk met ’n regte houtoog vir ’n paar sekondes en draai dan weer terug soos voor ek geskiet het. Teen hierdie tyd kon ek duidelik hoor hoe die klippe rol soos die ander koedoes hardloop.

Ek het weer op presies dieselfde plek laag op die blad gekorrel en toe brul die .300 weer. Weereens was daar geen reaksie van die bul af nie. Behalwe dat hy sy kop in my rigting draai, roer hy nie. Ek het my kop agter die teleskoop gelig om na die bul te kyk. Twyfel in my toerusting het begin posvat en ek het gewonder of ek dan skoon misgeskiet het.

Al raad was om weer te probeer. Ek druk toe ’n derde patroon in die kamer, weereens ’n 180gr AccuBond. Die bul het intussen in dieselfde rigting begin stap as wat hy gestap het voordat ek die eerste skoot geskiet het, maar na sowat tien treë draai hy toe skielik om en kyk reguit vir my. Toe gee ek hom ’n derde skoot, reg van voor af in die bors.

Hy het vir ’n oomblik soos ’n hingsperd op sy agterpote gestaan en toe agteroor geval. My horlosie het gewys dis 8:53. Erg verlig dat die bul uiteindelik plat is, het ek afgestap na hom toe. Wat so pas gebeur het was baie vreemd vir my. Gewoonlik hardloop ’n bok na die eerste skoot, maak nie saak of hy mis- of raakgeskiet is nie.

Voorreg

By die bul aangekom, het ek my aan die mooi dier verwonder. Dit is regtig ’n voorreg om nog op oop plase op jou eie te mag jag. Die bul was oud, sy rug was vol merke en sy bors vol rowe, seker van al die doringdrade wat hom geskraap het. Ten spyte van die droogte was hy steeds in goeie kondisie. Nadat ek my jagmaats se hulp oor die radio ontbied het, het ek die bul omgerol op sy sy.

Op die linkerblad was daar geen uitgangswonde nie, maar ek kon duidelik die twee knoppe van die koeëls onder sy vel sien, skaars 10cm uitmekaar. Die koeël van die derde skoot, die ander AccuBond, kon ons nie herwin nie. Nadat ons ’n hele klomp foto’s geneem het, het Erre my gehelp om die pens uit te haal. Die bul se borsholte was met bloed gevul – die longe en hart was flenters geskiet.

Die eerste skoot sou beslis al genoeg gewees het om die ou grote te dood, maar ek het al geleer om aan te hou skiet totdat die bok val. Dis veral belangrik met groot bokke wat soms ver kan hardloop en op ’n plek gaan val waar die herwinning van die karkas baie moeilik kan wees.

Ons is terug na die veepos om ’n stukkie vleis te braai en om te wag vir die helpers om die koedoe te kom laai. Later het ons op ’n ander deel van die plaas verder gejag. Daar was Erre gelukkig om sy eerste rooiribbokram suksesvol te jag.

- Mellies