Ek het hom die eerste keer teen skemeraand sowat agt maande gelede gesien. Hy het uit die fynbos teen die rant voor die bakkie verby gebars en met ’n paar vloeiende hale in die veilige donkerte van die digte bome onder in die kloof verdwyn.

In die bakkie se ligte kon ek hom vir ongeveer drie tot vier sekondes duidelik genoeg sien om hom weer te kan eien. Die bakkie het tot stilstand geploeg en ek het met kloppende hart lang sekondes na die kol gestaar waar die donkerkleurige bok verdwyn het. Hóm wou ek hê! Maar Moeder Natuur het anders besluit, ten spyte van die feit dat ek vir twee en ’n halwe dae na die ram gesoek het.

Sy ooie en verskeie duikers het die omgewing in en rondom die kloof snuif getrap en ek het dié bokke lang ure deur die verkyker sit en dophou. Van die sjokoladebruin ram was daar egter geen teken nie... hy kon net sowel van die aardbol af verdwyn het.

'n Terugkeer 

Gelukkig het Nico Herselman, die eienaar van Witklip naby Kareedouw, goedgunstiglik sy uitnodiging verleng en toe dit jagtyd raak hierdie jaar het ek ons wit Isuzu-bakkie se neus skuins suid gedraai, Langkloof en Witklip se fynbos toe.

Omstandighede het my verhoed om vroeg op my eerste jagdag veld toe te gaan en dit was al amper middag toe ek die Isuzu teen ’n rant sowat 400m van die ram se boskloof af staanmaak. Ek moes stap tot bo-op die rant om die “bosbokkloof” in sig te kry. Met ’n bos as skuiling het ek gaan sit... Die kloof het onder my gelê en amper reg weg van my af gestrek.

Die regterkantse helling van die kloof was die plek waar die ek die bosbokke op my vorige jag die meeste kere gesien het. Aan die voet van dié helling lei ’n tweespoorpaadjie na die bopunt van die kloof. Dit was toe hy oor hiérdie paadjie gehardloop het dat ek die bosbokram byna agt maande gelede gesien het.

Regs van my het nog ’n kloof gestrek waarin ek geweet het ’n gronddam is. Die twee klowe het ’n byna perfekte winkelhaak gemaak met die hoek daarvan reg onder my. Ten spyte van die afgelope droogte was die bosse plek-plek steeds dig en dit het my ongeveer 15 minute geneem voordat ek ’n bosbokooi redelik hoog op teen die helling in die bosbokkloof sien wei het, dis nou die kloof wat reguit voor my uitgestrek gelê het.

Sy was net oor die 500m ver en houtgerus. Ek het haar vir die volgende 20 minute dopgehou waartydens sy skaars 10m beweeg het. Sy het nou en dan omgekyk na die bopunt van die kloof toe (die verste deel van my af) en ek het naarstigtelik met die verkyker probeer soek waarna sy kyk, maar die bos was te ruig.

Die enigste manier om ongesiens nader te gaan, was om terug in die rigting van die bakkie te stap en dan agterom die rant tot aan die bopunt van die kloof te stap waarin die gronddam geleë is. Dan kon ek al met die gronddam se kloof af stap tot by die dam en die hoë kop klim. Dit sou my tot reg bokant die bosbokkloof bring.

Van die rant af sou ek hopelik genoeg van die helling kon sien om die bosbokooi wat ek besig was om dop te hou, weer op te spoor. Net toe ek opstaan, sien ek ’n tweede bosbokooi naby die eerste een wei. Ek het dié twee nog ’n paar minute lank dopgehou en toe pad gevat. Dit het ’n hele ruk geneem om die bopunt van die gronddamkloof te bereik.

Vandaar af het ek baie stadig aangestap, maar nie stadig genoeg nie. Reg by die dam het ’n jong bosbokooi skielik te voorskyn gekom. Gelukkig het sy sonder om te blaf in die fynbos verdwyn, weg van die rigting waarin ek die kop moes klim. Eens bo-op die kop, het ek die windrigting weer met my assakkie getoets. Daar het ’n lui briesie vanuit die bokant van die kloof gekom.

Ek kon dus met dié dwarswindjie wat van regs af gekom het teen die helling af beweeg, hopende dat die twee bosbokooie nog nie verby beweeg het om onderkant my wind te wees nie. Die helling van die kop en die fynbos het gemaak dat ek nie die diep deel van die kloof met sy digte laning bome kon sien nie. Ek sou ’n ent teen die helling moes afbeweeg.

Skaars die helfte van die bome se hoogte het in sig gekom toe ek skielik beweging skuins regs van my sien... ’n bosbokooi. Sy was skaars 25m weg en kop omlaag besig om te wei. Ek het plat gaan sit, maar dit het my uitsig beperk tot skaars 15m. Dit sou nie deug nie.

Na 10 minute het ek stadig opgestaan. Die ooi was byna nog op dieselfde plek. Ek het haar vir omtrent 10 minute uit ’n half gebukkende houding dopgehou. Rondom haar was die fynbos so hoog dat ek in elke rigting, behalwe na skerp links, skaars 30m ver kon sien. Dit was redelik koel en volgens die weervoorspelling sou dit die volgende oggend lekker warm wees.

Dus het ek besluit om suutjies weg te sluip en die ooi in vrede te laat. Ek sou sorg dat ek die volgende oggend voor sonop in die bosbokkloof is. As die bosbokke uitkom om die vroeë môreson te geniet, sou ek my kans waarneem. Ek het terug gestap tot bo die gronddam en ’n verdere 30 minute daar teen die rant gesit. Links van my was ’n troppie blesbokke wat ek dopgehou het.

Nadat ek opgestaan en tot by die gronddam gestap het, het ’n skielike impuls my weer regs laat swaai. Miskien moes ek tog maar stadig met die tweespoorpaadjie in die bosbokkloof opstap. Dit was nou middel-namiddag en grou wolke het oor die gronddam- en bosbokklowe begin saampak.

Na ’n verdere 20 minute was ek reg in die winkelhaak wat die klowe gevorm het, net daar waar die tweespoorpaadjie wat in die kloof op loop, begin. Ek het besluit om baie geduldig te wees en het letterlik voetjie vir voetjie vorentoe beweeg. Na elke drie tot vier treë het ek doodstil gaan staan om te kyk en te luister...

Die ou bosbokram wat my amper agt maande gelede ontglip het.

Fynbosveld

Ek het verlede jaar reeds oor ’n jag op Witklip geskryf en vertel hoe verfrissend anders dit was om ’n slag in fynbos te jag. Soos julle uit die foto’s kan aflei, bestaan Witklip uit golwende, fynbosbedekte heuwels, oop grasveld en rivierlope. En dis in hierdie rivierlope waar inheemse bome en wattelbome dig groei – ideale wegkruipplek vir bosbokke.

Behalwe vir bosbokke, het Nico ook blesbokke, blouwildebeeste, swartwildebeeste, baie duikers en grysbokke. Daar is ook ’n klompie sebras. Alhoewel bosbok die hoofdis op my spyskaart was, het ek hierdie jaar ook twee blesbokke op Witklip geskiet. Op een het ek my .243 RSA gebruik en op die ander my .30-06 wat onlangs met ’n nuwe Boyds-kolf toegerus is.

Beide die blesbokke is vanaf ’n sittende posisie geskiet met behulp van nuwe skietstokke wat ek getoets het. Ek het ook nuwe ammunisie van Sellier & Bellot getoets wat met dié maatskappy se ekwivalent van Barnes se X-koeëls gelaai is. Die gewig van die koeël is 165gr en ek is met 20 van hulle jagveld toe, maar het nie eens voor die tyd kans gekry om die koeëls se spoed te meet en hulle oor langer afstande as 150m te skiet nie.

Oor die blesbok wat ek met die .243 geskiet het, is daar nie veel te vertel nie. Ons het in ’n oop stuk veld in die skadu van ’n bos gesit toe die ram oor die naaste rantjie peul en op 110m van ons af vassteek. Toe hy effens wegkyk, het ek hom agter die linkeroor gepiets met ’n 87gr Hornady V-Max. Die tweede ram wat met die .30-06 geskiet is, het ons (ek en my vrou, Eunia) van ver af bekruip.

Ons het hom vanaf ’n hoë rant gesien waar hy in ’n oop stuk veld lê. Om die wind in ons guns te kry, moes ons ’n wye ompad neem en sy lêplek oor ’n rant bekruip. Gelukkig was daar genoeg bome reg bo-op die rant wat ons in staat gestel het om ongesiens nader te beweeg. Toe ek stelling inneem om te skiet, was die ram 238m ver en ek het nog so ’n paar meter op my boude nader geskuif.

Omdat ek nog nie met die Sellier & Bellot-ammunisie verder as 150m geskiet het nie, was ek huiwerig om die skoot te waag, ook omdat die blesbok gelê het. As ’n bok lê, maak jy maklik ’n fout. Ons het seker goed 45 minute lank gewag dat die blesbokram moet opstaan maar hy het sy oggendrus in die behaaglike vroeë winterson te veel geniet.

Die geweer was ingestel om op 150m in die kol te skiet en ek het toe besluit om sowat 4” (10cm) hoër te mik om te kompenseer vir die val van die koeël oor die langer afstand. Ek het lekker gemaklik gesit en met die skietstokke as rus kon ek die geweer bykans doodstil hou. Toe die skoot klap, het die blesbok opgespring. Hy was reeds op sy voete toe die dowwe “dup” van die koeël se trefslag my ore bereik.

Die ram het vervaard weggespring maar na 20m of so was dit duidelik dat hy nie ver sou kom nie. Skaars 40m vanwaar hy die skoot ontvang het, het sy krag hom begewe. Terug na die bosbok... Die steil helling van die rant aan my regterkant, tesame met die fynbos se hoogte, sou dit moeilik maak om die bosbokke – indien daar enige was – raak te sien.

Sig was veel beter met die tweespoorpaadjie langs en af in die boskloof aan my linkerkant. Om die hele toneel voor my goed met die oë te kan fynkam, het beteken dat ek letterlik voetjie vir voetjie moes beweeg, soos ek reeds genoem het. Grys wolke het soos Zeppelins oor die Langkloof gedryf en die luggie het merkbaar koeler geword. Waar sou die twee bosbokooie wees? En sou die ram in sulke koel weer dit buite die beskutting van die bosloop waag?

Volgens my ondervinding kan bosbokramme nogal kieskeurig wees oor wat hulle doen of waar hulle beweeg as die weer nie na hul sin is nie. Stadig, tree vir tree vorentoe... dan weer staan, kyk en fyn probeer luister. Niks... net die ligte windjie wat genadiglik reg met die kloof af skuifel en dus mooi in my guns is. Ek het stadig gevorder, 100 treë... 150... amper 200...

Ek het net weer gaan staan om die kloof se donker bosse links van my te fynkam toe ’n beweging uit die hoek van my regteroog my aandag trek. My kop het na die helling se kant toe gedraai... niks. Ek wou net weer wegkyk toe die ram asof uit die niet, skielik met volle silhoeët teen die luglyn bo my staan.

Die .30-06 se kolf het instinktief my skouer gesoek en deur die teleskoop het die ram groot en donker bo my getroon. Hy het kloof-af gekyk, verby my, en was duidelik nie van my bewus nie. In daardie oomblik het ek besef dat ek uit die vuis sou moes skiet.

Voor ek egter die sneller kon druk, het die bosbok aangestap. Ek het hom deur die teleskoop gevolg... hy het ’n oomblik agter ’n bos verdwyn en toe was hy in ’n opening. Die knaldemper op die .30-06 het die skoot dof laat klink, amper soos wanneer jy iemand met ’n nat handdoek slaan. Regs van my het ek bokke hoor hardloop – moontlik die twee bosbokooie wat ek vroeër gesien het.

Ek het die koeël nie hoor tref nie, maar die ram het boggelrug gespring en teen die helling afgestorm, hy kon dit egter vir skaars 20m volhou... Toe dit stil raak waar hy geval het, het ek die .30-06 met my linkerhand in stilte in saluut bo my kop gelig. Eintlik wou ek ’n kreet van triomf die lug instuur, maar om so ’n banale geraas te maak, het net nie reg gevoel nie.

Ek het stadig teen die helling opgestap en by die ram gaan kniel. Dit was ’n ou slytbekbok en sy horings het gelyk soos dié van die ram wat ek agt maande gelede gesien het toe hy voor die bakkie oor die pad gebars het.

Bosbokke is baie territoriaal, so ek glo dit is dieselfde ram. Nadat ek foto’s geneem het, het ek met die afstandmeter vasgestel dat die skietafstand 65m was.

* Diegene wat belangstel om in die Langkloof te gaan jag, kan Nico Herselman kontak by 082-441-2467.