Ek sit tussen die kort grassies in ’n koeltetjie en tuur oor die oopte voor my – die rivierloop met die digte rivierbos is ongeveer 400m ver. Die oop stuk veld tussen my en die rivier is brakkerig en sonder enige noemenswaardige wildaktiwiteit. Terwyl ek nog die bosse rustig deurkyk, kom ’n mooi koedoebul van regs af al langs die oorkantste bome aangestryk.

Deur die verkyker sien ek hoe hy doelgerig half voor my verbystap, maar ek besef dat hy reg in my reuk gaan vasloop. Die windjie waai skuins van agter af, en dis ook nie ’n honderd jaar nie, of hy steek vas asof hy in ’n muur vasgeloop het. Hy snuif die lug en kyk stywenek rond, vlieg dan om en hardloop so 150m terug voordat hy waaksaam tussen die digte rivierbosse in verdwyn...

Jagtersparadys

Dit was Junie 2014, en ek het op uitnodiging die geleentheid gehad om in die Vrystaatse Sandveld te gaan jag. Hoewel die area hom tot gesaaides leen, het al hoe meer wild hulle op die oop plase begin tuismaak. Ek het tydens my jag heelwat wild raakgeloop, asook baie spore gesien en mis en haartjies aan die doringdrade opgemerk.

Ek kon as gevolg van verantwoordelike bestuur op ’n oop plaas in ’n jagtersparadys instap. Dit verg egter dat elke grondeienaar dieselfde visie moes deel, naamlik om nie net voor die voet uit te roei wanneer die wild hulle inkomste verslind nie.

Dit was bitter koud toe ek voordag die veld in is. Ek het katvoet al met die wildspaadjiesf langs gestap en kort-kort gestop om deur die verkyker elke skadukolletjie te bekyk. Nie lank nie, of ek kom by ’n dam met ’n windpomp en waterkrip aan. Daar was heelwat paadjies wat van verskillende kante af by die waterpunt bymekaar gekom het.

Terwyl ek al om die krip en in die spinnerak van paadjies na wildspore gesoek het, het ek glimlaggend gedink aan die gesegde dat alle paaie na Rome lei. Die paadjie wat ek gekies het, vurk later en ek het besluit om op die linkerkantste een te hou. Dure ondervinding het my geleer om in ruie bos altyd die duidelikste en mees uitgetrapte paadjies te volg.

Dit is bykans onmoontlik om, veral in die winter, geruisloos en heelhuids tussen digte haakbosse met hulle alewige kom-terugtakke deur te sluip. Na ’n paar honderd meter het ek ’n paar vlakvarke opgemerk. Daar was genoeg skouerhoogte struike sodat ek ongesiens kon nader gaan.

Deur die verkyker kon ek aan die vier gesigvratte ’n mooi vet beer tussen hulle uitken. Hulle was wei-wei op pad, en ek het probeer om hulle roete af te sny. Daar was egter te veel waaksame oë in die trop, en hulle het my stert-in-die-lug met wippende boude agtergelaat.

Ai man, ek kon al die knakworsies in die pan hoor braai! Na ’n rukkie se stilsit (om die veld te laat bedaar na die vlakvarke se skielike vlug) is ek weer met die bospaadjie verder. Skielik het tarentale vlak voor my skril geroep en kon ek sien hoe hulle verwilderd tussen die bosse inskarrel.

Ek het dadelik halt geroep om te verhoed dat hulle die lug invlieg, want die lawaai van ’n woeste vlerkgeklap sou die wild vir honderde meter ver waarsku dat daar gevaar op hande is.

Koedoespore in die sand.

Hindernisse oorkom

Ek het stadig vorentoe beweeg in die tarentale se rigting. Die kanse was goed dat hulle sou padgee sonder om te veel lawaai op te skop. Al wanneer hierdie tegniek nie werk nie, is wanneer daar een of meer tarentale in ’n digte bos wegkruip, of langnekskreeuend op boomtakke sit. Dan sal die enigste uitweg wees om eers versigtig te retireer en met ’n wye draai om hulle te stap.

Die geluk was egter aan my kant, want die voëls het na regs geswenk en my die kans gegee om met relatief min steurnis by hulle verby te kom. Die onrustige “tjirr-tjink!” van ’n paar waaksames het nog vir oulaas af en toe agter my opgeklink terwyl ek verder aanstap.

Die tarentale se onrustigheid sou natuurlik die wild in my onmiddellike omgewing se waaksaamheid verskerp en daarom het ek suutjies en versigtig aangestap. Aan die rand van ’n groot oopte, in die skaduwee van ’n ou doringboom het ek my tuisgemaak. Om die oopte goedsmoeds oor te steek, sou nie deug nie, want vanwaar ek gesit het, was daar bykans ’n kilometer se bosse oorkant die oopte sigbaar.

Ek wou eers doodseker maak dat daar nie dalk wild op die rand van die oorkantste bos was wat ek die skrik op die lyf sou jaag nie. Wanneer ’n mens in die skaduwee sit, kan die wild jou nie maklik identifiseer nie. Nogtans wou ek so min as moontlik vroetel en vinnige bewegings maak wat die aandag op my kon vestig.

Met my agterstewe lekker gemaklik ingewoel, het ek my stokou Tasco-verkykertjie na my oë gebring. Terwyl ek die hele wêreld noukeurig bespied, het die helder klank van visarende se geroep skielik die oggendstilte verbreek. Ek het orals rondgekyk, maar kon hulle nêrens opmerk nie.

Hulle het egter aangehou roep asof dit hulle eie amfiteater was, met die wild en myself as die gehoor. Ver regs van my, naby die rivierbos, het ’n paar kroonkiewiete lawaaierig opgevlieg. Daar was twee jakkalse naby hulle besig om rond te snuffel, maar met die kiewiete se aanmoediging het hulle die aftog geblaas en half in my rigting verder gesoek na ontbyt.

Hulle is ’n ent regs van my die bosse in, en nie lank daarna nie, het die tarentale skuins agter my tekere gegaan. Na enkele minute het hulle mettertyd stiller geraak. Ek het gewonder of dit dieselfde klomp was wat voor my padgegee het, en of enige van hulle jakkalskos geraak het.

Toe ’n troppie waterbokkoeie met kalfies teen die bosrand uitkom, het hulle net af en toe in die rigting van die tarentaallawaai gekyk, maar het nie besonder onrustig voorgekom nie. Dalk het hulle die tarentale as oormatig raserige bure beskou, of dalk was dit die wete dat daar ’n groot afstand tussen hulle en die tarentale was, met die skuiling van die digte rivierbos reg langs hulle.

Hulle het egter nie lank vertoef nie, een koei het skielik langnek getrek en met haar radarskottelore na iets naby hulle in die bos gedraai en toe geluidloos tussen die bome verdwyn.

Koedoebul

Die mooi koedoebul het kort daarna sy verskyning gemaak... Ek gee hom ’n paar minute om dieper die bos in te gaan, haal my getroue 7mm oor, druk ’n handgelaaide patroon met ’n 175gr Stewart-koeël in die kamer, sit die veiligheidsknip op, staan dan styf-styf op en begin vinnig die oopte oorsteek.

Terwyl ek die vlakte doekvoet oorsteek, kyk ek deurentyd of daar nie dalk ander wild is wat my teenwoordigheid sal verraai nie. Teen die oorkantste bosrand kry ek ’n goed uitgetrapte paadjie waar die koedoebul vroeër gestap het en, na ’n bietjie rondsoek, sy vlugspore wat duidelik met die paadjie langs teruggaan. Uiters versigtig, voetjie vir voetjie beweeg ek met sy spore langs.

Ek het geleer dat ek nooit bo-op spore wat ek volg moet trap nie, want soms verloor ’n mens die spoor, en as jy daarop getrap het, is dit moeilik om die spore weer op te tel. By die boom waar die bul die bos in is, volg ek sy spore dieper die bos in, nog stadiger en sagter as voorheen.

Met byna elke tweede of derde tree stop ek eers om die wêreld goed te bespied. Sowaar, skaars 50m met die bospaadjie langs gewaar ek die wit van die koedoebul se stert... Hy is ongeveer 30m regs van my tussen digte bosse, sy goed gekamoefleerde lyf en horings vaagweg in die skaduwee van die bome sigbaar. Hy smul lustig aan ’n soetdoring se blare en is onbewus van my teenwoordigheid.

Daar is heelwat takke en blare tussen my en hom en ek moet nóg vorentoe sluip met die hoop om ’n onbelemmerde skootvak te kry. Die volgende 15m kruie ek geluidloos en behoedsaam nader, dankbaar vir die lekker oopgetrapte paadjie waarin ek geruisloos kan beweeg en bly oor die digte katbosse tussen my en die bul. Hy stap ’n entjie vorentoe om aan ’n ander boom te vreet.

Net voor ek die laaste tree om die bos gee, haal ek die Mauser se veiligheidsknip af, maak seker dat ek my vinger lángs die sneller hou, en nie óp hom nie. Versigtig, geweer aan die skouer, beweeg ek om die bos tot daar geen obstruksies meer tussen my en die bul is nie. In ’n sonkol staan hy en vreet, byna plankdwars. Toe die korrel mooi stil op sy blad lê, klap die skoot.

Met ’n boggelrugsprong, ’n rou blaf en sy horings plat op sy rug gegooi, bars hy vervaard tussen die takke deur, bo-oor bosse en jong boompies. Onmiddellik weet ek dis ’n hartskoot, maar soos die geraas van die vlugtende bul sagter word, begin my selfvertroue kwyn... totdat ek hoor hoe sy swaar lyf eers die bosse breek en daarna die grond dof tref.

Onmiddellik het ek die oorweldigende behoefte om nader te storm om te verseker dat hy wel dood is, maar ek onderdruk dit om vir ’n oomblik op my hurke te gaan sit terwyl ek my geweer sag oorhaal en veilig maak. In die minute wat volg hoor ek ander koedoes wat veraf wegvlug (hoewel ek nie een van hulle vroeër opgemerk het nie). Ek staan op en stap na waar die bul oorspronklik gestaan het.

Ek het al by ’n vorige geleentheid in digte bosse kort pad probeer kies na wild toe wat ek geskiet het, maar kon hulle spore nie vind nie, dus het ek geleer om die spoor op te tel daar waar dit begin. Die diep wegspringspoor is duidelik sigbaar en ook die hardloopspore wat ek met redelike gemak kan volg.

Dan is daar ’n duidelike bloedspoor na omtrent 15m, en 50m van die plek waar die bul geskiet is, sien ek hom bo-op die lae bossies lê. Behoedsaam stap ek nader, my geweer gereed om dadelik weer te skiet. Ek druk versigtig met die geweer se tromp eers aan sy kruis en toe aan sy oogbal, gelukkig is daar geen reaksie nie.

Nabetragting

Die ingangswond was duidelik sigbaar, maar geen uitgangswond nie. ’n Knoppie onder sy vel op sy regterblad het egter gewys waar die Stewart-jagkoeël tot stilstand gekom het… Na die pragbul se herwinning het ons hom begin afslag en die pad van die koeël gevolg.

Dit is op die linkerblad in, het redelik vinnig omgeklink en ’n groot gat deur die longe en hart getonnel. Toe is die koeël deur die regterblad waarna dit onder die vel vasgesteek het. Die Stewart se gewigsbehoud was ±159gr (±91%). Die voorste oppervlak van die omgeklinkte koeël was ±14mm.

Alhoewel dit slegs vel, weefsel en ribbebene getref het, het die Stewart-koeël steeds goed omgeklink en voldoende gepenetreer in ’n reguit lyn. Weens die relatief lae koeëlspoed van die 7x57 (±2 370vps) was daar weinig vleisskade, en as gevolg van die Stewart-koeël se gebinde kernontwerp geen loodneerslag in die weefsel nie.

Hierdie was ’n uiters bevredigende stapjag, met soveel wilden natuurlewe wat ek gesien en beleef het. Die koedoe was natuurlik die perfekte hoogtepunt en het ons boonop van heelwat kookvleis en biltong voorsien. Dit is voorwaar lekker in die Vrystaat!