Dis ’n onweerlegbare feit dat Suid- Afrika se wildlewe floreer en dat die getalle steeds besig is om te groei. ’n Klompie dekades gelede was daar skaars ’n halfmiljoen stuks wild in ons land. Vandag tel hulle ongeveer 16 miljoen.

Wanneer daar oor die grootskaalse uitwissing van wild gepraat word in die verlede, word die vinger dikwels na jagters gewys. Jagters, veral kommersiële jagters wat vir velle en ivoor geskiet het, het sekerlik ’n rol gespeel, maar daar is ook ’n groter prentjie.

Soos mense meer plase, dorpe en industrieë in die binneland gevestig het, het hulle toenemend in botsing met wild gekom – oor beskikbare water, weiding en habitat. Roofdiere het ook gemaai onder boere se vee en daarom is die meeste wildsoorte (roofdiere inkluis) op groot skaal van kant gemaak om die wêreld te tem vir menslike bewoning.

Weens die uitgestrektheid van die wêreld, die ongelooflike hoeveelheid wild, die aanvanklike klein menslike populasie, die feit dat niemand toe kon voorsien hoe die mens se getalle sou groei nie en die feit dat wild in baie gevalle as ’n las, eerder as ’n bate beskou is, het onder meer daartoe gelei dat wildbewaring nie hoog op die agenda was nie.

Die mens het die “wildernis” probeer tem om die voortbestaan sy boerderybedrywighede te verseker. Siektes soos nagana (die Trypanosoma- bloedparasiet), om maar een te noem, wat ook dodelik vir vee is, het daartoe gelei dat wild op groot skaal uitgedun is om vektorvrye sones te probeer skep.

Bek-en-klouseer, waarvan die buffel ’n asimptomatiese draer is en die virus oordra aan spleethoewiges soos beeste, bokke en skape het byvoorbeeld daartoe gelei dat buffels in sekere gebiede grootliks uitgedun is. So kort gelede as gedurende 2000 het buffels wat uit die Kruger-wildtuin gebreek het, besmetting van die plaaslike gemeenskap se beeste veroorsaak.

Dit het boere in die Letsitele- vallei ’n verlies van ongeveer R100 miljoen aan sitrusuitvoere laat verloor omdat die uitbreek van bek-en-klouseer die uitvoer van alle landbouprodukte stopsit. Tot vandag toe is daar dus steeds konflik tussen die mens en wild wat bestuur moet word.

Toe die kommersiële handel in wildprodukte soos velle en horings wat in die laat 1800’s en vroeë 1900’s groot geld ingebring het, in duie stort, was daar geen aansporing om wild buite bewaringsgebiede te bewaar anders as vir eie gebruik nie.

Wildtuine

Maar dankie tog vir die versiendheid van sommige boere en ander bewaringsbewustes! Dit sou lei tot die stigting van meer nasionale wildtuine en nog later private wildboerdery. Wildtuine doen baie om die fauna en flora vir die nageslag te bewaar, maar is nie die alfa en omega van bewaring nie en die proklamering van wildtuine kom met ’n klomp praktiese bestuursvraagstukke.

Weens menslike bedrywighede kan wildtuine slegs in sekere gebiede gevestig word en om hulle te bestuur, kos baie geld. Om ’n goeie inkomste te verseker moet parke ’n konstante vloei van besoekers kan verseker. Daar is ander maniere om geld te in, soos die verkoop van lewendige wild, maar dis nie altyd moontlik of wenslik nie en verseker nie volgehoue inkomste nie.

’n Verdere probleem met wildtuine is dat slegs dié in sekere gebiede gewild is omdat eko-toeriste wat Afrika besoek graag die Groot Vyf en ander ikoniese wildsoorte wil sien. Daarom is party wildtuine amper oorbevolk aan mense terwyl ander te min besoekers ontvang.

Baie wildtuinbesoekers neig ook om slegs dié wildtuine te besoek wat op of naby gebaande weë geleë is – plekke waar hulle gou-gou die maksimum aantal spesies kan sien en na ’n kort rit weer terug kan wees by die stad se blink liggies.

Dis ’n feit dat wildtuine deur sommige inheemse mense gesien word as die speelplek van welgestelde middelklas en ryk Europeërs. Hierdie mense (veral hulle wat reg teen wildtuingrense bly) voel wildtuine is ’n groot bron van proteïne waaruit hulle geen voordeel trek nie. Daar is dus vir hulle geen aansporing om die wild agter die hoë heinings te wil bewaar nie.

En dis hier waar die wildboer en jag as bewaringsinstrument ’n reuserol speel. Die nuwe ekonomiese eise van ons tyd vereis dat elke hulpbron optimaal benut moet word anders het dit geen bestaansreg nie. Dit wat nie waarde toevoeg nie, moet vervang word met iets wat ’n inkomste kan genereer. Wild is ’n hernubare hulpbron wat volgehou benut kan word.

Wildboerdery dien dus as ’n ondersteuningsnetwerk vir die bewaring wat deur wildtuine begin is. Die waarde wat wild vir die eindverbruiker het, verseker dat boere dit sal bewaar. Indien wild waarde verloor, sal boere dit noodwendig met ’n betalende kommoditeit móét vervang. Dis hierdie punt wat die groenes bloot eenvoudig ignoreer.

Soos genoem, is wildtuine beperk tot sekere gebiede. Wildplase is egter oor die lengte en breedte van ons land gevestig. Tans beslaan ons wildplase alreeds ’n veel groter area as die wildtuine. Groot dele van ons land is eenvoudig nie geskik vir vee-, vrugte-, graan- of groenteboerdery nie. Ons verbou tans baie van hierdie produkte op uiters marginale grond.

Wild doen veel beter in sulke gebiede. Deur wildboerdery dus oral te kon vestig, het dit ons land se bewaringsbasis aansienlik vergroot.

Wildboerdery wat op jag geskoei is lei nie net tot die groei van wildbevolkings nie, maar verbeter ook die genetika van die geteelde wild – mits die telingsproses verantwoordelik geskied en daar nie net op die teel van enkele goeie eienskappe gekonsentreer word nie.

Faktore wat help

Behalwe vir hul versiendheid en die roeping wat baie boere gevoel het om wild te bewaar, het ander faktore bygedra tot die suksesvolle vestiging van ons wildbedryf (ek noem slegs enkeles): Die behoefte van derduisende mense om wildsvleis vir eie gebruik te jag; die feit dat jy ’n jag- en eko-toerismevakansie op dieselfde wildplaas kan geniet; die persoonlike, vriendelike diens van wildboere en die dikwels bekostigbaarheid van ’n jag- en/of eko-toerismevakansie wat wildboere aanbied.

Dis oor en oor bewys dat boere in sekere dele van ons land glad nie kan staatmaak op slegs eko-toerisme vir oorlewing nie, want daardie dele is bloot nie geskik vir fotografie nie, maar wel vir jag. Suksesvolle eko-toerisme verg groot konsentrasies wild van verskeie spesies en geskikte, operige terrein waar wild maklik besigtig en gefotografeer kan word.

Jagters daarenteen, gee nie om vir laer wildbevolkings nie, en omdat baie te voet of op ander maniere jag waar terrein nie so ’n groot rol speel soos by fotografie en wildbesigtiging nie, is jag die enigste werklike volhoubare bron van inkomste vir die boer.

Omdat jagters die terrein beter benut as die eko-toeris en bereid is om te reis na jagbestemmings wat eko-toeriste vermy, verseker jagters die voortbestaan van spesies in gebiede waar mense andersyds eerder met vee of gewasse sou probeer boer het.

Probleme wat opduik

Een van die groot probleme waarmee wildtuine (wildplase ook) worstel, is die feit dat diere in beperkte gebiede vasgepen word. In geval van droogte het die wild vroeër jare gereeld migrasies onderneem na waar weiding meer volop was.

Nou is dit nie meer moontlik nie. Verlaat enige dier die wildtuin, word dit gou-gou as ’n probleemdier geklassifiseer en van kant gemaak (veral roofdiere, olifante en seekoeie wat ’n gevaar vir mense kan inhou). Sommige probleemdiere mag wel deur jagters teen betaling geskiet word met die uitreiking van die nodige “probleemdierpermitte”, maar die meeste, of te veel (volgens my siening) word steeds deur parkamptenare van kant gemaak.

Die gevolg is dat daar geen inkomste uit daardie diere gemaak word nie, geld wat die Parkeraad eintlik broodnodig het. Dieselfde geld vir wild wat weens droogte vrek. Hulle dood is feitlik nutteloos en baat slegs ’n klompie roofdiere in die wildtuin.

Deur voorkomend op te tree en wild vroegtydig aan jagters aan te bied, kan wildtuine ’n goeie inkomste verkry. Van wildstropers gepraat, dis een van die groot kopsere vir wildtuine regoor Afrika. En omdat die wild in wildtuine vir die meeste mense geen voordeel inhou nie, kan dit hulle nie skeel as stropery daar plaasvind nie.

Trouens, omdat hulle geen voordeel uit die wildtuin put nie, raak hulle eerder deel van die wildstropersindikate. Ek lees onlangs dat plaaslike inwoners wat hul beeste in die Ngorongoro Bewaararea in Tanzanië mag laat wei, leeus op groot skaal uitwis. Van die 125 leeus wat onlangs daar was, is daar blykbaar nou net 55 oor.

Dis ook bewys dat jagters wat in regeringskonsessies wild jag, goeie beheer oor stropers toepas. Jag in wildtuine, selfs beperkte jag, kan dus tot enige wildtuin se voordeel strek. Jagters in konsessiegebiede bewaar nie net wild nie, maar doen ook baie om die gemeenskap op te hef. Behalwe dat hulle werksgeleenthede skep, word daar dikwels skole en klinieke opgerig.

Dieselfde geld vir ondernemings wat op privaatgrond wild bedryf. Een onderneming waarvan ek persoonlik kennis dra is Wintershoek Safari’s wat groot opheffingswerk doen onder die plaaslike bevolkings oral waar dié onderneming betrokke is.

Daar is vele ander, nie net in ons land nie maar ook in die res van Afrika. Wildboere pas veel beter beheer oor hul wild toe as die nasionale Parkeraad oor wildtuine. Plase se kleiner groottes maak gereelde patrolliewerk en monitering van wild makliker as in ’n wildtuin.

Dit stel wildboere dus in staat om bedreigde spesies soos die renoster veel meer suksesvol te bewaar as wat wildtuine kan doen.

Wanneer ekosisteme bestuur word, is daar nie plek vir heilige koeie nie. Alle spesies in ‘n ekosisteem moet bestuur word, van die klein duiker tot die olifant. As wild té selektief bestuur word kan dit lei tot grootskaalse wanbalans en skade in ‘n ekosisteem.

Getalle neem toe

Wild wat vir jag en teeldoeleindes aangehou word, verseker ook dat hul getalle landwyd baie gesond toeneem, en ons praat nie net van gewone wildsbokke nie. In 1994 was daar byvoorbeeld net 50 geregistreerde buffelplase in Suid-Afrika.

Vandag is daar meer as 2 800 plase met buffels op en het die buffelbevolking in private besit gegroei tot 60 000, waarvan ongeveer 35 500 diere siektevry is. Daar is talle ander voorbeelde van hoe skaars wildsoorte soos swartwitpense, bastergemsbokke, tsessebes en vele ander tipes wild se getalle drasties toegeneem het as gevolg van wildboerdery.

Soveel so dat hierdie diere nou uitgedun moet word. Deur hulle aan jagters aan te bied, kry die wildboer dus ’n goeie addisionele inkomste wat sy eko-toerisme en teelbedryf ondersteun. Ook waar regerings- of kommunale grond oopgestel is vir jag het wildgetalle op verskeie plekke in die wêreld drasties toegeneem.

In Suid-Afrika het die renosterbevolking byvoorbeeld van 1 800 diere in 1968 tot 18 400 toegeneem in 2016. Sedert swartrenosterjag in Namibië toegelaat is, het die aantal diere van 2 300 in 2004 tot 3 900 in 2016 toegeneem. Dieselfde geld vir argali’s in Mongolië wat van slegs 200 diere tot 1 500 in 2014 toegeneem het.

In 1950 was daar 25 000 big horn sheep in Amerika, tans tel hulle 80 000. Markhors in Pakistan het ’n klompie jare gelede slegs 100 getel, nou is daar 3 500 van hulle, en so kan ek voortgaan. In die Bubye Valley Conservancy in Zimbabwe (voorheen ’n beesboerarea) wat 323 000ha groot is, bring trofeejag elke jaar miljoene in.

Sonder daardie geld sal dié bewaar-area eenvoudig nie kan bestaan nie en sal dit terug moet keer na veeboerdery. Hierdie reservaat oorweeg dit nou om soveel as 200 leeus in sy gebied uit te dun (te laat jag) om die balans in die ekosisteem tussen karnivore en herbivore te kan balanseer. Uitplasing van leeus na ander gebiede is nie ’n sinvolle opsie nie omdat feitlik niemand die leeus wil hê nie – leeus vreet baie vleis en moet goed bestuur word.

Tans maak sommige boere nog soveel geld uit die teel van wild dat hulle nie eintlik op jag ingestel is nie, maar soos die aantal diere in die land toeneem en die beskikbare grond nie die toenemende getalle kan hanteer nie, sal meer en meer wild op daardie plase vir jag beskikbaar gestel moet word.

En weens die hoër getalle en dus meer geredelike beskikbaarheid van wild, behoort pryse hopelik te stabiliseer en selfs effens te daal (tot voordeel van die jagter). Dit kan nog ’n paar jaar duur, maar dis net logies dat ons iewers in die toekoms ’n versadigingspunt sal bereik ten opsigte van beskikbare grond en weiding. Wild kan nie soos vee elke nou en dan slagpale toe weggelaai word nie.

Die enigste praktiese manier om van die oorskot ontslae te raak is uitdunning deur middel van jag. Groenes wil eenvoudig nie verstaan dat die uitdunning van wild ’n noodsaaklikheid is nie. Hul oplossings om van oorskotgetalle ontslae te raak grens altyd aan die absurde. Daar is net soveel grond en te veel diere sal oorbeweiding, erosie en die totale beskadiging van ekosisteme beteken wat baie dekades sal neem om te herstel, indien ooit.

Groenes wil ook nie verstaan dat ’n eko-sisteem in sy totaliteit bestuur moet word binne die hoeveelheid beskikbare grond nie. Daar is geen plek vir heilige koeie in ’n eko-sisteem nie. Alle spesies daarbinne moet bestuur word en van elk moet daar uitgedun word.

Jag bied die beste opsie om daardie bestuur toe te pas en te verseker dat die wildboer (jagkonsessiehouer of wildtuin) die hoogste moontlike inkomste uit die bestuursplan kry wat weer dien as aansporing om die wild verder te bewaar en so volhoubare benutting te verseker.

Jag het verander

Wat jagters op hulle beurt moet begin verstaan, is dat jag soos ons dit in die ou dae geken het, net nie meer altyd moontlik is nie. Op sommige plekke moet jagmetodes noodwendig soms aangepas word om te verseker dat die nodige getalle wild binne die beskikbare jagseisoene afgehaal word.

Enige tipe boerdery is deesdae ’n wetenskap wat op die mees praktiese en kosteeffektiewe manier bedryf moet word. Dit bring mee dat ander jagmetodes as die tradisionele stap en bekruip oorweeg en toegepas sal moet word. Alhoewel die druk op jag deesdae groot is, is daar baie mense wat insien dat wild uitgedun moet word.

Dis egter trofeejag wat nog vele dwars in die krop steek. Seker die grootste wanpersepsie is dat trofeejagters net die horings, vel en/of die ivoor gebruik en die res van die karkas onbenut in die veld agterlaat. Niks is verder van die waarheid nie. Elke krieseltjie vleis word benut en in die geval waar jag in konsessiegebiede geskied, word die vleis aan die plaaslike bevolking geskenk of baie goedkoop aangebied.

Hierdie vleis is ’n broodnodige proteïnbron in baie dele van Afrika waar hongersnood ’n daaglikse realiteit is. Ongelukkig word trofeejag ook gesien as iets wat bloot oor die jagter se ego gaan en nie soseer om die jagervaring of die verskaffing van vleis nie.

Die feit dat ons trofeekompetisies hou, pryse en toekennings gee vir rekordlengte-horings en sogenaamde Grand Slams van spesies, en mense gedurig foto’s of video’s op sosiale media plaas van hulself by ’n geskiete dier, versterk hierdie persepsie. Jillende jagters wat mekaar op die rug slaan, high five en ander verspottighede uitvoer rondom ’n geskiete dier doen ook niks goeds vir die jagter se beeld nie.

Ook die persepsie dat trofeejagters slegs die beste van elke spesie uitsoek en die swakkeres oor los, skaad die beeld van die trofeejagter. Alles in die jagbedryf (soos in enige ander bedryf ter wêreld) is verseker nie bo verdenking nie, maar die hoeveelheid geld wat trofee- en vleisjag inbring, bepaal in baie gevalle of ’n wildboer sal voortgaan met wildboerdery (bewaring) en of hy sal oorskakel na ’n ander tipe boerderybedryf.

Natuurlik is daar haakplekke in ons wildbedryf maar die betrokkenes werk hard daaraan om dit uit te skakel. Of hulle heeltemal suksesvol gaan wees, is moeilik om te voorspel want waar geld ter sprake is, word beginsels heel dikwels al te maklik aan die hoogste bod verkoop.

Jag is beslis nie die enigste manier hoe ons wild kan bewaar nie maar dis in ons moderne wêreld beslis een van die bestes, indien nie dié beste manier om volhoubare benutting en bewaring te verseker nie. In jag is daar elke keer ’n eindverbruiker wat verseker dat wild ’n geldwaarde het.

Sonder hierdie geldwaarde is daar geen aansporing om wild te bewaar nie en dit kan die uitsterwe van sekere spesies bespoedig. Ons sal moet kies; geen jag en bitter min of selfs geen wild nie, óf jag en gesonde wildpopulasies oraloor in ons land wat ook eko-toerisme tot voordeel strek.

  • Dié artikel het in die Junie-uitgawe van SA Jagter/Hunter verskyn.