Selfs dié skuif was histories, want in dié Karoogedeelte – in die omstreke van die Darlingtondam – is die Addo-olifant se voorsate al 150 jaar gelede uitgewis.

Die hoofgedeelte van die Addo-olifantpark is 180 km van die dam in die omstreke van die Sondagsriviervallei.

Mnr. John Adendorff, hoofnatuurbewaarder van die Addo-olifantpark, sê die olifante moes skuif. Hoewel hul goeie aanteel tot 600 (in 2002-’03 is ses bulle van die Krugerwildtuin ingebring om die genepoel te versterk) ’n wêreld-suksesstorie is, was hul impak op die omgewing in die hoofgedeelte van die park net te groot.

’n Familiegroep van 27 olifante en Boetie, ’n weesbulletjie, is geïdentifiseer en hulle is drie maande voor die “groot trek” na ’n kamp van 800 ha naby die park se hoofruskamp gebring.

Die dieresorggroep Network for Animals (NFA) het geldelike bystand aan Sanparke verleen om dié verskuiwingsoperasie, wat meer as ’n halfmiljoen rand gekos het, moontlik te maak.

Die groep olifante is met die hulp van spesialis-verskuiwingspanne van die Krugerwildtuin en die Noord-Kaap geskuif na die Nama-Karooveld by die Darlingtondam.

Adendorff voorsien dat nog olifante in die toekoms na díe gebied gebring sal word.

Een van die grootste uitdagings met die Addo-olifant verskuiwing was om die kalfies saam met hul ma's in dieselfde trok te laai, het mnr. John Adendorff, hoof natuurbewaring van die Addo-olifantpark, gesê. Hier hou mnr. Nick de Goede, bestuurder van die park, 'n wakende oog oor een van die kalfies tot hy op die trok gelaai kon word. Foto: Mariska Spoormaker
Een van die gedoofde Addo-olifante word opgehys om op 'n platbed-vragmotor gelaai te word. Van hier is die dier na die laaitrok vervoer. Daar is die olifant wéér opgehys op 'n rubbermat op 'n hoër trok wat op gelyke hoogte is met die reuse vervoerkrat op die swaarvragmotor sodat dit met behulp van 'n kabel in die krat geskuif kon word. Foto : Mariska Spoormaker
Altesaam 28 Addo-olifante - 27 van een familiegroep, en Boetie, 'n enkellopende bulletjie wat op sy eie rondgedwaal het nádat sy ma dood is - is na die Darlingtondam-gedeelte van die park geskuif. Foto: Mariska Spoormaker
Drie veeartse was aan diens om na die olifante te help omsien tydens die verskuiwing. Foto: Mariska Spoormaker

’n Aanpassing

Dit gaan nie vir die olifante maklik wees om in hul nuwe omgewing aan te pas nie, sê Adendorff. “Valleibosveld, soos in die hoofgedeelte van die park, is vir hulle lekker. Dit is van die lekkerste olifantkos ter wêreld. In die Karoogedeelte waar hulle nou is, is daar wel ’n vleilandskap om die dam, maar daar is ook lekker ruigtes en daar is akasia- en spekbome in die koppe.”

Oor vrese dat stropers makliker in dié afgeleë gebied van die park kan toeslaan, sê Adendorff die park het elke dag meer as 80 veldwagters in die veld om teen olifant- en renosterstopery te waak. “In hierdie stadium het ons nog geen diere verloor nie. Ons is proaktief in alles wat ons doen. Ons het spesialisspanne, ons het vliegtuie, ons het wapens en ons nagtoerusting is ook van die beste wat jy kan kry . . . en ons hou die veldwagters gemotiveerd.”

Ander wildsoorte, waaronder luiperds, leeus, elande en verskeie kleiner boksoorte, is onlangs ook in die Darlingtondam-gedeelte gevestig en hulle pas baie goed aan. Tot dusver het die geëlektrifiseerde heining die wild binne gehou.

“Ons olifante het nog nooit ’n elektriese draad gebreek nie. As daar olifante is wat drade ken en nie daarmee lol nie, dan is dit die Addo-olifant,” sê Adendorff.

Daar is verskeie natuurreservate in die omgewing, maar ook veeboerderye.

Adendorff sê 99% van die boere en wildboere in die omgewing is tevrede met die olifante wat na dié streek gebring is. “Van die vee- en wildboere was op die eerste aand by toe die eerste 13 olifante vrygelaat is in die park.”

Die eerste groep vrygelate olifante (13) en die tweede groep olifante (9) het mekaar nog nie in hul nuwe woongebied gevind nie. “Hul stresvlakke is nog hoog. Hulle verken nou die omgewing, hulle oriënteer hulself. Die derde groep (6) is op 2 Augustus afgelaai en hulle sal ook eers hul voete in die nuwe woongebied moet vind.

“Hul stresvlakke sal hoog bly totdat die drie groepe mekaar opspoor,” sê Adendorff.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.