Die paneel wat me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, in Oktober 2019 in die lewe geroep, beoog steeds om sy werk teen einde November te voltooi.

Me. Pamela Yako, voorsitter van die paneel, sê hoewel die kwessies kompleks is, glo sy dat die paneel genoeg inligting het om sekere voorstelle te maak. Die paneel het nie na die onwettige handeldryf met hierdie diere gekyk nie. “Onwettige handel is ’n moeilike kwessie. Ons kyk nie daarna nie. Dit is ’n kwessie vir wetstoepassers, maar ons het samesprekings met hulle gehad en ons is oortuig dat genoeg gedoen word om na die kwessie te kyk.”

Insette

Sy het aan die parlement se komitee vir omgewingsake, bosbou en visserye gesê dat ’n span alle kommentaar wat ingedien is, nagaan om te sien of nog insette benodig word. Meer as 70 kommentare is van belanghebbendes ontvang.

Die paneel beoog om sy konsultasieproses teen middel November te voltooi en sy voorstelle in die derde week van November af te handel.

In 2018 het die departement ’n seminaar by die parlement gehou waar insette gekry is oor Suid-Afrika se geblikteleeubedryf nadat internasionale bewaringsorganisasies hom voor stok gekry het oor hierdie praktyk. Dit het die vraag laat ontstaan of die praktyk Suid-Afrika se goeie naam rakende bewaringsaksies skade berokken. Dit het aanleiding gegee tot die stig van die paneel wat na kwessies van nie net leeus nie, maar ook olifante, luiperds en renosters moet kyk.