Windkrag is ’n volhoubare energiebron wat besig is om fossielbrandstowwe, soos steenkool, aardgas en ruolie, toenemend te vervang. Onlangse navorsing oor die witkruisvleivalk (Circus maurus) toon egter watter ongunstige impak windenergie op bewaring en natuurlike hulpbronne kan hê.

Die witkruisvleivalk is die seldsaamste inheemse roofvoël in Suid-Afrika. Dit is ook die vleivalk met die kleinste verspreidingsgebied ter wêreld. Wêreldwyd is daar slegs sowat 1 000 volwasse voëls oor. Daarom word hulle as bedreig beskou.

Witkruisvleivalke het ’n onmiskenbare swart veredos, liggeel oë en bene en ’n wit kruis. Die swart stert het grys bande aan die bokant en tipiese swart en wit strepe onder. In vlug is die ligte kruis en gebande stert kenmerkend. Witkruisvleivalke vang hoofsaaklik knaagdiere, hoewel hulle ook voëls, reptiele en paddas vreet.

Hulle kan soms ook aas vreet. Hierdie spesie verkies oop en droë landskappe, en kom in bergagtige fynbos, renosterveld, strandveld en droë grasveld voor. Hulle broei veral in fynbos en verkies habitatte wat deur renosterveld oorheers word, hoofsaaklik in die kus- en bergagtige streke van die Wes-Kaap.

Hulle is geneig om in die herfs en winter van die fynbosbioom na die Karoo en Noord-Kaap, asook die grasvelde van die Vrystaat en Lesotho te beweeg. Hierdie nomadiese gedrag word tans intensief bestudeer juis omdat hulle kwesbaar kan wees by windenergie-aanlegte.

Broeityd bring probleme

Me. Samantha Ralston-Paton, bestuurder van BirdLife Suid-Afrika se afdeling vir voëls en hernubare energie, is bekommerd oor gevalle waar witkruisvleivalke vrek weens botsings met windlaaiers. Alle botsings en vrektes van voëls en vlermuise moet gemonitor en aangemeld word. Dit stel navorsers in staat om hul aannames te toets, maar veral om as ’n vroeë waarskuwingstelsel te dien. Só kan beduidende probleme betyds geïdentifiseer en opgelos word.

Dr. Rob Simmons, ’n spesialis wanneer dit by witkruisvleivalke kom, het vasgestel dat witkruisvleivalke ’n baie groter risiko het om met die windlaaiers se lemme te bots as wat aanvanklik verwag is. Hierdie roofvoëls jag gewoonlik baie laag oor die landskap – laer as die reikwydte van die lemme. Die risiko vir botsing verhoog egter aansienlik tydens die broeityd wanneer die voëls gewoonlik baie hoër vlieg.

Projeksies toon indien drie volwasse voëls per jaar weens sulke botsings vrek, sal die bevolking binne 100 jaar in duie stort. Indien vyf voëls per jaar vrek, sal die bevolking in ons leeftyd probleme hê.

Voorkomingsmaatreëls

’n Span navorsers het die beste beskikbare navorsing en spesialisverslae gebruik om ’n eenvoudige stel riglyne te ontwikkel vir die toepaslike plasing en bestuur van wind- kragaanlegte. Dit behoort ’n belangrike bydrae te lewer tot die beskerming van die bedreigde witkruisvleivalk.

Een van die belangrikste aanbevelings is dat die aanlegte nie naby witkruisvleivalke se belangrike broeigebiede gebou moet word nie. BirdLife Suid-Afrika het modelle ontwikkel wat aandui waar hierdie roofvoëls die waarskynlikste sal broei.

Ontwikkelaars kan dié kaarte gebruik in hul beplanning sodat daar nie in ontoepaslike gebiede gebou word nie. Die riglyne bespreek ook ’n aantal maatreëls om die moontlike impak van die aanlegte te verminder.

Een van die lemme van die windlaaiers kan byvoorbeeld swart geverf word om dit meer sigbaar te maak vir die voëls. Luidens onlangse navorsing in Noorweë kan dié stap botsings met tot 72% verminder. Die doeltreffendheid daarvan vir die witkruisvleivalk moet egter nog getoets word.

Oor die voordele wat volhoubare energie inhou, kan daar nie gestry word nie, maar dat daar probleme is, is gewis. BirdLife Suid-Afrika werk dus saam met belanghebbendes in die windenergiebedryf sodat besluite volgens die beste inligting geneem kan word.

Groot sukses is al met soortgelyke riglyne vir kransaasvoëls en witkruisarende behaal. Deur die impak van hernubare energie op skaars roofvoëls te verminder, kan ’n wen-wen-situasie geskep word: Skoon energie én hopelik ’n hemelruim vol roofvoëls.

NAVRAE: Elaine Odendal, e-pos: mwjasser@mweb.co.za, 082 455 8402, oor aanlyn voëlidentifikasiekursusse; Shireen Gould, e-pos: membership@birdlife.org.za, vir die kontakbesonderhede van ’n voëlkykklub naby jou.