Só het mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), op dié organisasie se 54ste jaarkongres in Windhoek, Namibië, gesê.

Die enigste buffels in Namibië kom in die wildreservaat in die Waterberggebied in die noorde voor, waar bek-en-klouseer soms voorkom. Daarom mag geen Namibiese boer buffels aanhou nie uit vrees dat die verspreiding van dié gevreesde siekte Namibië se uitvoer van rooivleis in sy spore kan stuit.

Daar is egter pogings uit wildkringe om boerdery met buffels elders in die land toe te laat.

Gouws het gesê die georganiseerde landbou onderhandel voortdurend met die departement van omgewingsake en toerisme oor die Waterberg-buffels en olifante, maar die gebrek aan die implementering van besluite bly ’n frustrasie.

“Die LPO se standpunt is baie duidelik: Ons beskerm ons rooivleisbedryf, die bedryf waarvan bykans 70% van Namibië se bevolking regstreeks én onregstreeks afhanklik is en wat ’n inkomste van R3 miljard per jaar genereer. Ons beroep ons op die departement van veeartsenykundige dienste om ons dieregesondheid- en uitvoerstatus te waarborg. Die uitvoermark in die Europese Unie is beding teen die agtergrond dat daar geen buffels in die kommersiële boerderygebied voorkom nie, behalwe in die Waterberg,” het hy gesê.

Hierdie gunstige bemarkingsituasie sal net volhoubaar wees indien Namibië sy dieregesondheidstatus kan waarborg én behou.