In Cuddle Me, Kill Me word die grusame feite oor dié bedryf onthul – eers kry betalende lede van die publiek kans om aan die klein welpies te vat, as hulle ouer is, kan toeriste ’n ent saam met hulle stap en uiteindelik word hulle in klein kampies gejag. In dié eksklusiewe uittreksel vertel Richard hoe jong welpies, net ure ná hul geboorte, van hul moeders weggeneem word. 

In Cuddle Me, Kill Me lig Richard Peirce die sluier oor geblikte leeujag.
Richard Peirce se nuutste boek ondersoek die geblikte leeujagbedryf.

By geboorte het die welpies net meer as ’n kilogram geweeg. Met moedersmelk tot hul beskikking het almal gewig aangesit, en toe hulle vier dae later by Cheetah Experience aangekom het, was die mannetjie die grootste, met ’n gewig van 1,5 kg. Op die teelplaas het die leeuwyfie steeds op en af teen die heining gestap en gehuil oor haar welpies.

Haar welpies, aan die ander kant, was meer besorg oor ’n goeie voeding as die verlange na hul ma. Lizaene (Cornwall, werknemer van Cheetah Experience, naby Bloemfontein) het hulle dadelik in ’n klein kampie gesit en saam met twee helpers het sy hul eerste “formule”-voeding voorberei.

Op ’n manier was die welpies gelukkig: Hulle het vier dae se moedersmelk geniet, wat beteken hulle het ’n goeie voorraad kolostrum ingekry. Kolostrum is ook bekend as “eerste melk”, en word deur soogdiere geproduseer tydens die eerste dae nadat hulle geboorte geskenk het.

Die melk bevat teenliggaampies wat die immuunstelsel aanhelp, dis goed vir die werking van die spysverteringskanaal en dien as ’n ligte lakseermiddel om die mekonium, die eerste ontlasting van pasgeborenes, uit te werp.

Selfs al het die welpies die voordeel van moedersmelk vir vier dae lank gehad, wou Lizaene nie kanse waag nie en sy het seker gemaak die melkformule bevat ’n kolostrum-plaasvervanger.

Hoewel ’n produk beskikbaar is wat baie soortgelyk is aan ’n leeuwyfie se melk ten opsigte van proteïene, vet, koolhidrate en droëmateriaal-inhoud, het hulle by Cheetah Experience agtergekom dat leeuwelpies baie beter vaar as hulle ’n produk inkry wat vir honde ontwikkel is.

Die welpies moes elke 2-4 uur gevoed word, wat beteken Lizaene en haar kollegas moes ’n melkvoedingsproduksielyn vir 24 uur van die dag inrig.

eerste voeding

Die eerste voeding was ’n spesifieke proefneming. Nadat die welpies geweeg is, het Lizaene en haar span elkeen met hul linkerhand opgetel en met ’n bottel in die regterhand met die proses begin. Die melk was warm, die fopspene is getoets, die hanteerders was almal opgelei en die welpies was honger.

Al die basiese dinge was gereed vir ’n suksesvolle voeding, maar dit het nie heeltemal so uitgewerk nie. Elke welpie het sy eie plan gehad met die bottelvoeding, en dit het niks te doen gehad met hoe die hanteerders gedink het dinge behoort te werk nie!

Daar is vreeslik gewoel en gewriemel; hul bekke was bottoe as die fopspene nader kom en moes dan saggies oopgedwing word; die agterbene het ’n lewe van hul eie gehad en op maniere beweeg wat nie die saak aangehelp het nie.

Die hanteerders se vaardighede, geduld en humor het uiteindelik geseëvier en die drie welpies het ’n paar milliliter gedrink – maar dit was onmoontlik om te sê presies hoeveel die welpies ingeneem het, want meer melk is gemors as wat hulle gedrink het.

Van die heel eerste voeding af het Lizaene ’n volledige rekord gehou van die welpies se vordering: Die hoeveelhede wat hulle gevoer is, hul gewigstoename, urinering en ontlasting en enige ander relevante waarnemings is alles aangeteken.

Welpies word dikwels van hul ma’s weggevat as hulle net ’n paar ure oud is. Foto’s: Kopiereg: Jacqui & Richard Peirce (2018)
Obi kort ná sy aankoms by die Cheetah Expe­rience.

Met elke voeding het dit ietwat makliker gegaan en teen die einde van die vierde dag het al die welpies gereeld 10 ml ingeneem met elke voeding. Teen hierdie tyd het die welpies ook name gehad. Aangesien hulle in Oktober gebore is, is daar besluit dat almal se name met die letter ‘O’ moes begin.

Die mannetjie is Oliver gedoop, en sy twee susters Omega en Orva. Oliver het die meeste gedrink en sy oë was nou oop. Orva en Omega het ook oor die volgende paar dae hul oë oopgemaak.

Lizaene het begin ontspan: Die welpies drink goed, daar is nie komplikasies nie en elkeen se gewig was op peil. Kort voor dagbreek op 26 Oktober, sowat 50 km van Bloemfontein, en op dieselfde plaas waar Oliver en sy sussies geteel is, het dieselfde siek drama as voorheen hom afgespeel.

Hierdie keer sou dit egter groot hartseer vir Lizaene en haar vrywilligers bring. Onder die wakende oog van wagte het ’n leeuwyfie geboorte geskenk aan drie welpies: twee mannetjies en ’n wyfie.

Twee uur later, toe die wagte seker is daar word nie nog welpies gebore nie, het hulle nader gegaan en die leeuwyfie na die verste kant van die hok verjaag, sodat sy tydelik haar pasgebore welpies moes verlaat.

Gewoonlik sou die leeuwyfie eers ’n welpie optel voor sy na veiligheid vlug, maar sy was so verskrik en paniekerig dat sy dit nie gedoen het nie.

welpies gegryp

Die wagte was gereed: Die oomblik toe sy wegbeweeg, het hulle die hek oopgemaak en twee van hulle het ingegaan om die welpies te gryp, terwyl ’n derde wag ’n oog oor die leeuwyfie hou. Hulle het die nag in verdwyn, terwyl die angstige leeuma op en af teen die heining loop en na haar welpies roep.

Deur die dag keer sy gereeld terug om te snuffel op die plek waar haar welpies net ’n paar uur tevore gebore is. Lizaene was gereed vir die tweede groepie se aankoms. Hoewel niemand vir haar gesê het presies hoe oud die welpies is nie, het sy ’n herhaling verwag van toe Oliver en sy sussies daar aangekom het.

Sy sou ’n oog hou oor die grootmaak van albei groepies, maar tot sy seker was dat nie een van die groepe enige oordraagbare gesondheidsprobleme het nie, sou sy hands on wees by net een stel welpies – Oliver-hulle, omdat hulle gewoond was aan haar. Sy sou wel toesig hou oor die vrywilligers wat die nuwe aankomelinge hanteer. Kort na 10:00 hou daar ’n wit motor stil.

’n Groot kartonboks word oorhandig. Dit was lig, met min beweging binne. Die rede daarvoor was gou duidelik: Die welpies binne-in was ooglopend net ’n paar uur oud! Hul ma het nog nie eers kans gehad om hulle skoon te lek voordat hulle gegryp is nie; oorblyfsels van hul naelstringe was nog aangeheg en die welpies was nog klam.

Oliver en sy susters was op vier dae oud robuus, as jy hulle met hierdie patetiese klein skepseltjies vergelyk. Dit het ’n heel nuwe uitdaging gebring en Lizaene het gewonder of sy hulle sou kon deurtrek. Sy moes nou toesig hou oor ses klein lewetjies, en drie is deur groot risiko’s in die gesig gestaar.

Sy was gewoond daaraan om verantwoordelikheid te neem, maar dit het nooit so swaar op haar geweeg as nou nie.

Cuddle Me, Kill Me word deur Struik Nature uitgegee. Die boek is slegs in Engels beskikbaar en kos sowat R200.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.