Daar is net een pad vorentoe vir die wildbedryf en dit is om te teel wat die breë mark werklik wil hê; nie net enkele diere vir die skatryk sakemanne met dik beursies nie. ’n Wildboer kan nie net op uitskietpryse vir uitsonderlike wild staatmaak nie, maar moet ook bereid wees om geld te maak deur wild vir die gewone teel- en jagmark te lewer.

Daarvoor is ’n wetenskaplike benadering noodsaaklik, sê me. Terry Herholdt, wat goeie sukses met haar Livingstone-elandstoetery op die plaas Livingstone Estates by Dwaalboom in Limpopo behaal. Daar boer sy intensief met dié manjifieke bokke.

Sy doen selektiewe paring met haar volledige databasis van elkeen van die sowat 100 elande in haar en haar vennoot, Kwaggashoek Game Ranch, se Kwali-elandstoetery.

Livingstone Estates Vulindlela, F3-Charbraybul. Herholdt het eers met Brahmane geboer, maar nou verkies sy die Charbray. Sy het die enigste geregistreerde stoetery in Suid-Afrika.

Sy het ook ’n Charbray-stoetery. Sy en haar eksman, Richard, het die elandboerdery in 1995 met 3 bulle hoen 20 verse begin wat hulle by mnr. Boetie Visser van Musina gekoop het.

Hy het sy Livingstones uit Nuanetsi in Zimbabwe ingevoer. Dié bokke en die Herholdts se eie aanteel het boerdery met hierdie uitsonderlike groot elande in die Bosveld ingelui. Herholdt sê die rede waarom sy steeds met Livingstones boer, is omdat die Bosveld nie werklik vir Kaapse elande geskik is nie.

Dit is omdat dié bokke nie goeie pigment in die vel het nie; nie soos Livingstone-elande wat deur natuurlike seleksie opvallend met ’n oorvloed pigment geseën is nie.

“Enige dier met swak pigment is ’n aanloklike teiken vir bosluise, veral op hul ore en die koeie se spene. Dit gebeur dikwels dat dié dele so erg aangetas word dat hulle hul ore of spene weens bosluisbyte verloor.” Sterk pigmentasie stel die bokke in staat om bosluisskade in so ’n mate te verminder dat hulle nie absesse kry wat die verlies van liggaamsdele veroorsaak nie.

Een van die indrukwekkende verse met goeie gene vir horings. Sy was net 18 maande oud toe dié foto geneem is. Foto: Herman Steyn

Jagplaas bedryf

Toe hulle die Livingstones gekoop het, het hulle ’n jagplaas, Vetboom, by Dwaalboom gehad waar hulle eers met Brahmanbeeste geboer en toe na wild oorgeslaan het. Hulle het dit mettertyd in ’n voorkeurbestemming vir buitelandse trofeejagters ingerig.

Om inteling te voorkom, het die Herholdts nóg elande gekoop en uiteindelik met vier verskillende bloedlyne geboer; twee uit Zimbabwe en nóg twee uit die Mashatu-wildreservaat in die Tuliblok in Botswana. “Genetiese diversiteit is noodsaaklik om inteling te verhoed, want inteling verswak vrugbaarheid, horingvorm en liggaamsgrootte.”

Sy sê inteling is juis die probleem met menige elandkudde in Suid-Afrika, want die Kaapse elande is baie aan inteling onderwerp. Die Livingstones het ook maar hul probleme gehad omdat daar min goeie bulle beskikbaar was. Party telers glo ook hulle kan gewenste eienskappe vasteel deur ’n bul by sy eie dogters en kleindogters te gebruik.

“Ons wou wegkom van dié benadering. Ons het lank met beeste geboer en weet hoe inteling ’n kudde kan verswak. Destyds was ons Livingstone-kudde ook die enigste een in die Bosveld. Dis hoekom ons bokke uit vier uiteenlopende bloedlyne gekoop het.

Intensiewe boerdery

“Ek moes ’n paar van ons Livingstones hans grootmaak. Die eerste hansbok was Pixie. Haar ingevoerde ma het haar weens ’n abses onder die ken verstoot. Daarna het ons nog tien gespeende Livingstone-kalwers gekoop.

“Só het ons met ’n stelsel van intensiewe boerdery in kampies op ’n ander plaas, Livingstone Estates, begin en met hulle soos met die Brahmanbeeste gewerk. Ons hanteer die elande baie en werk daagliks met hulle. Elande is baie soos beeste en nie so wild soos ander wild nie. Hulle word maklik hanteerbaar.”

Tydens my besoek het sy gedemonstreer hoe sy die bokke verskuif deur hulle bloot baie rustig met die bakkie aan te keer. Hulle is al só mak dat baie van die bokke nader kom om geelwortels uit haar hand te eet.

In 2000 het hulle na ’n wetenskaplike rat oorgeskakel deur met selektiewe paring te begin.

’n Baie mooi stoetbul, Livingstone Estates Lesoma. ’n Bepaalde bul word by ’n troppie vroulike diere in ’n kamp gehou sodat Herholdt agterna presies weet wie ’n kalf se vaar en moeder is. Foto: Charl van Rooyen

’n Bepaalde bul word by ’n troppie vroulike diere in ’n kamp gehou sodat Herholdt presies weet wie die vaar en moeder is as die kalwers gebore word. Toe was daar nog nie ’n klem op lyfstrepe en ’n chevron op die gesig nie. Hulle het dus net die beste, manlikste bulle vir selektiewe dekking gebruik.

Die bulle wat nie dié seleksieproses slaag nie, word na die jagplaas geneem. Sedert 2011 het die Livingstones met die meeste lyfstrepe die hoogste pryse begin behaal. Van die bokke het tot 16 strepe. Die pryse vir bokke met baie lyfstrepe is nou nie meer so hoog nie en party telers beklemtoon nou ’n chevronteken op die voorkop.

Daarmee saam het Herholdt met die deeglike byhou van aantekeninge begin, sommer al van kalwers se geboorte af. Die horings word van sewe tot twaalf maande gemeet om die potensiaal van ’n jong dier te bepaal.

Doelgerigte seleksie

Sedert Herholdt in 2005 alleen op Livingstone Estates met die elande boer, selekteer sy grootliks vir vrugbaarheid, bouvorm en horinglengte by vroulike diere en horingvolume, manlikheid en liggaamsgewig by bulle. ’n Teler kan egter nie die rug heeltemal op strepe en chevrons draai nie, want daar is ’n mark vir dié elande.

Die aanvangs-teeltrop het minder lyfstrepe gehad. Dus moes hulle met selektiewe paring vir dié eienskap teel. Die onlangse mode vir chevrons is nou ook deel van die teelmikpunte, sonder om die ander eienskappe af te skeep. Herholdt sê ’n bul moet horingvolume hê (’n horingbasis van meer as 12 duim op twee jaar) en nie soos ’n koei met lang, dun horings lyk nie.

Die Livingstonebul Kwali Howzat. In die seleksie van stoetbulle beklemtoon die boerdery veral bouvorm, horingbasis en -volume en pigment. Foto: Herman Steyn

Dit is hoekom sy die bulletjies se horingbasis meet sodat dié met ’n swak basis uit die stoetery verwyder kan word. Bulletjies se horingbasisse moet op die ouderdom van 10-12 maande van 9 duim tot 11 duim meet en versies s’n van 8 duim tot 9,5 duim. Die horings word van punt tot punt gemeet, want die jag- en teelmark soek ’n meer V-vormige horing.

’n Maatband word om die onderste kant van die horings gedraai om die basis te meet, en saam met die horingrif langs tot op die punt om lengte te bepaal. Herholdt gebruik nie ’n teelbul met ’n basis onder 13 duim en ’n horinglengte onder 34 duim op drie jaar nie. Sodra die jong bulle begin dek, skuur hulle hul horings teen bome en pale en dan slyt dit af.

’n Nuwe neiging is om horingpunte van plastiek oor die elandramme se horings te plaas om dit te beskerm, maar Herholdt glo nie daaraan nie. Die stoetery het nie ’n spesifieke dek- en kalftyd nie. ’n Bul bly deur die jaar by sy trop vroulike diere. Die koeie in die stoetery kalf meestal van Julie tot September.

Die kalwers bly in die betrokke kamp tot die hele groep in April gespeen word as hulle sewe tot nege maande oud is. Die speenkalwers word dan deur die winter saam met ’n paar ou koeie in ’n kleuterkamp naby Herholdt se huis gehou. Só word hulle van kleins af mak danksy gereelde hantering.

Mikroskyfies en oorplaatjies

In die kleuterkamp word die speenkalwers met ’n pylgeweer verdoof om elkeen ’n oorplaatjie met ’n unieke identifikasienommer te gee. Elke bok kry ook ’n mikroskyfie met ’n ander, gekodeerde identifikasienommer onder die nekvel. Albei nommers word in die bok se DNS-legger aangeteken.

Die horings word ook gemeet. Herholdt neem identifikasiefoto’s van elke Livingstone; van voor, bo en van albei kante sodat hulle uitgeken kan word. Die jong bokke word ontwurm en kry ’n vitamieninspuiting. Die bokke bly tot die lente in die kleuterkamp as hulle van net meer as ’n jaar tot vyftien maande oud is.

Die volgende seleksieproses breek dan aan. Die bulletjies wat nie aan die huidige markvereistes vir horingbasis en lyfstrepe voldoen nie, word na ’n jagplaas geneem om uit te groei om later gejag te word. Die gekeurde bulletjies gaan na ’n bulkamp.

Die versies gaan na verskillende kampe waar hulle selektief met ’n bul gepaar word om sekere eienskappe in hul kalwers en verdere nageslag te verbeter, soos ’n rooibruin haarkleur, donker pigmentasie, lyfstrepe en prominente swart merke op sekere plekke op die lyf.

Laasgenoemde is belangrik, want dit is hul oorlewingsmeganisme. Die swart merke om die voete, agter die voorbeen, onder die maag, ’n dorsale streep van die stert oor die rug tot in die maanhare en op die gesig is die plekke waar bosluise graag vasheg.

Die swart merke wat donker pigment het, is minder geneig om absesse te vorm omdat die vel daar sterker is. Die Kaapse elande het nie dié swart dele nie, sê Herholdt. Nog verskille tussen die Livingstone- en Kaapse eland is die bouvorm. Die Livingstone het ’n baie dieper borskas, swaarder liggaam en sterker beenstruktuur, asook ’n rooibruin haarkleur, wit strepe en opvallende, donker pigmentasie.

Die Kaapse elande het ’n driehoekige agterkwart, terwyl die Livingstones voller boude het. Dit is waar die duurste vleisnitte is, nes by beeste. ’n Wetenskaplik saamgestelde rantsoen word op die plaas gemeng. Die elande word deur die jaar gevoer, maar minder in die somer.

Geen horinggroei-stimulante word gebruik soos party telers doen nie. Veldgras word gebaal en in hooirakke in kleiner kampe geplaas om oorbeweiding te keer. Middels met ivermektien en fenbendasool word twee keer per jaar in die rantsoen gemeng om inwendige parasiete te bekamp. ’n Dipbak met aalwynlekblokke word in Januarie en Februarie uitgeplaas om oorbosluise te behandel.

Ramp slaan toe

In 2013 het ’n ramp Herholdt getref. Van haar 52 elande het 37 weens ’n onbekende virus gevrek. Gevolglik het sy vennote bygekry; die Van der Merwes van Kwaggashoek Game Ranch by Bergville, wat ook Livingstones het en hul boerdery na die Bosveld wou uitbrei. Hulle het nóg elande uit die oorspronklike, ingevoerde kudde van wyle mnr. Machiel Erasmus bygekoop.

Danksy die samewerkingsooreenkoms kon sy die infrastruktuur op haar plaas verbeter deur meer kampe te span. Sedertdien het die elandgetalle weer vinnig toegeneem. Net ná die virusramp is al die bokke se genetiese DNS-profiele deur Unistel Laboratoriums van dr. Munro Marx in Kaapstad bepaal om die stoetery se databasis vollediger te maak.

’n Volledige stoetregister is ook deur dr. Paul Lubout van Wildlife Stud Services saamgestel. Herholdt kon dus bewys haar elande was rasegte Livingstones deur die DNS van die ingevoerde elande te gebruik om hul nageslag aan te dui. Sy kon selfs DNS van Mashatu, een van die beste, ingevoerde Livingstonebulle tot nog toe, bekom.

Dié bul was al dood en sy het sy kop en skof laat monteer. Marx kon nie die bul se genetiese kode uit haarmonsters van die montering verkry nie en ’n monster is toe uit een van sy horings geboor. Dit het gewerk. Herholdt kon só vasstel watter van die bokke wat weens die virus gevrek het deur Mashatu verwek is.

“Ek kon voortgaan met sy oorblywende nageslag met die wete dat hulle dié topbul se voortreflike gene het. As dit nie vir die volledige DNS-databasis was nie, sou ek nie dadelik ná die ramp weer op so ’n hoë vlak kon begin teel en die kudde met die sterk teelmateriaal van ware Livingstones laat groei nie.”

Bou weer kudde

Met al die ervaring wat sy toe al van ’n Livingstone-stoetery gehad het, gerugsteun deur volledige databasisse en DNS-profiele, kon sy dié keer absoluut wetenskaplik te werk gaan.

Herholdt sê sy het met selektiewe paring eers vir ’n sterk bouvorm, hoë vrugbaarheid, mooi rooibruin haarkleur en goeie pigmentasie geteel en dit met seleksie vir strepe en chevrons opgevolg. Dié werk het begin met ’n jong bul, Honduri, wat die ramp oorleef het. Hy het net vier lyfstrepe gehad, maar baie pigment en swart merke op die regte plekke.

Herholdt se beste teler van stoetbulle, Littley, die ma van die topbul Howzat. Sy is uit die stoetery se laaste oorlewende, ingevoerde koei gebore. Foto: Herman Steyn

Hy is ’n seun van Elsie, een die beste teelkoeie tot nog toe, wat uit Mashatu en ’n ingevoerde koei, Oranje 360, geteel is. Twee van haar seuns en drie dogters het die epidemie oorleef. Die eerste twee jaar het hulle mooi kalwers met ’n rooibruin haarkleed en sterk pigment geteel.

Dié diere was groot, met ’n bouvorm wat van vrugbaarheid getuig. Die bulle was manlik, vroeg ryp en het swaar voorkwarte gehad, en die vroulike diere het fyn voorkwarte en swaar agterkwarte gehad. Hulle het op twee tot drie jaar vir die eerste keer gekalf. Die twee halfbroers (van verskillende vaars) het albei goeie horings, maar verskil van vorm.

Honduri het ’n klassieke vorm, maar teel kalwers met massiewe, V-vormige horings. Lesoma het 12 duidelike strepe, ’n chevron en nou horings, maar teel kalwers met wye horings. Albei bulle se kalwers het dik horings en ’n groot bouvorm.

Hulle het die basiese teelmateriaal voorsien vir Herholdt om met die oorblywende vroulike diere en Kwaggashoek se elande weer op koers te kom. Ondanks die kwaai daling in die pryse van wild met skaars kleurvariasies en reusehorings wat eens miljoene rand behaal het, behaal Herholdt steeds sukses.

Sy het al R1 miljoen vir ’n elandkoei gekry, maar sulke pryse is nou net ’n droom. Tog het sy onlangs goed gevaar met pryse van R165 000 tot R650 000 vir haar beste aanteel.

Mark se vereistes

Vandag nog is dié elande die grondslag van die nuwe geslag rasegte stoet-Livingstones in Suid-Afrika, sê Herholdt. Die vereistes vir vroulike diere is: Goeie rooi, wit en swart kontraste. 8-14 wit strepe. ’n Ligte chevron op die voorkop. ’n Swart, vertikale neusstreep wat die bok teen bosluise op die kop kan beskerm.

Lang, effense dun horings, met ’n basis van nie minder as 8 duim nie; liefs langer as 30 duim omdat daar glo ’n verband tussen horinglengte by koeie is en hul vermoë om manlike bulle met groot horings te teel. Volwasse bulle se vereistes: ’n Haarkleed wat wissel tussen ligrooibruin en blougrys, wat met die jare donkerder word; ’n teken van manlikheid.

Die strepe word dan ál dowwer. ’n Chevron op die voorkop (opsioneel). ’n Bul moet op drie tot vier jaar begin om manlike eienskappe te toon, met ’n groot, swart kuif wat in die teeltyd prominent is. Dik nek. Lang, swaar nekvel. ’n Gebalanseerde bouvorm met ’n goeie agterkwart.

Die horingbasis moet op driejarige ouderdom nie minder as 13 duim meet nie, wat ’n groot horingvolume verskaf. ’n Goeie bul moet op vier jaar al 800 kg tot 1 000 kg weeg. Herholdt skop vas teen die neiging om bulle met soveel strepe moontlik te teel, maar met ’n vroulike voorkoms, soos ’n dun nek en fyn kop.

“Dit kan in die toekoms ’n probleem veroorsaak deurdat bulle té min manlike eienskappe het. Dit sal die vrugbaarheid en horingvolume verswak. ’n Bul moet uitstaan tussen sy trop koeie en nie soos hulle lyk nie.”

Suksesse behaal

Sy verkoop gereeld top-vroulike diere aan ander telers.

Van die grootste wildboere in Suid-Afrika gebruik haar teelmateriaal, soos mnr. Solly Potgieter (Burkea Wild, Vaalwater) met wie sy ’n genetiese samewerkingsooreenkoms het, mnr. Rohan Meintjes (Sterkfonteinboerdery, Broederstroom), Robedi Game Breeders (Jaco Botma, Mookgophong), SA Game Breeders (Johan van Jaarsveld, Potchefstroom), Nyumbu Game (Norman Adami, Brits), Keta (Terry McLintock, Marken), Huntershill Safaris (Greg Harvey, Queenstown) en Nets Turvey (Modimolle).

Herholdt het in 2011 twee puik Elsie-dogters aan Potgieter verkoop en uit een van hulle en die topbul Dawid het hy die bul Junior geteel, wat later vir R5,1 miljoen verkoop is. Sy het in Gonubie in die Oos-Kaap grootgeword; glad nie in ’n boerdery-opset nie.

Sy was egter altyd by perde betrokke. Sedert 1982, ná haar troue, het sy met Brahmane geteel en in 2004 na Charbray oorgeskakel.

Die virussiekte wat die elande afgemaai het, is nie al groot teëspoed wat sy al gehad het nie. Sy ly aan Lyme se siekte wat deur ’n spirogeet veroorsaak word. Bosluise van die genus Ixodes dra dit oor. Die neurologiese simptome beïnvloed haar loopvermoë en sy kom met ’n kruk oor die weg. Sy word ook baie moeg.

Verder is sy al deur ’n Brahmanvers in ’n kraal beseer, sy is ernstig beseer toe haar bakkie met ’n sleepwa vol elande ’n wiel verloor en omgeslaan het en ’n giftige slang het haar gebyt.

“Boerdery in die Bosveld is nie vir sissies nie.”

Herholdt het nooit verder gestudeer nie, maar sy het deur die jare baie by ander boere en veral by veeartse en konsultante van teling en dieresorg geleer. Sy lees ook baie. “ ’n Mens word met ’n oog gebore om ’n goeie dier raak te sien. Dis ’n gawe wat ek het.”

Navrae: Me. Terry Herholdt, sel 082 494 4588; e-pos: terryherholdt@tiscali.co.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.