Nou raak dit duidelik dat dit dalk die beste medisyne vir ’n ongesonde wildbedryf is. Van die aanvanklike teenstanders het nou ingestem dat buffels ook ’n landras moet word.

Die registrasie van 12 wildsoorte as landras en die totstandkoming van die Wildprodusente-vereniging (WPA) twee jaar gelede het baie wenkbroue in die wild- en jagbedryf van Suid-Afrika laat lig.

Party wildboere was bekommerd dat wild wat nou kragtens die Diereverbeteringswet (Wet 62 van 1998) van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye beskerm word, voortaan nie meer deur jagkliënte as “wild” beskou sou word nie.

Selfs jagorganisasies was bekommerd.

Suid-Afrika het reeds ’n groot aandeel in die internasionale jagmark aan Namibië afgestaan omdat dié land sy wild suksesvol bemark in teenstelling met Suid-Afrikaanse wildteelpraktyke met wild in kleinerige kampe en agter hoë heinings.

Die swartwildebees, blouduiker, blouwildebees, bontebok, gemsbok, rooibok, oorbietjie, rooihartbees, bastergemsbok, swartwitpens, springbok en tsessebe is in Junie 2016 as landrasdiere geregistreer nadat mnr. Peter Knipe, ’n wildboer, ’n aansoek in dié verband by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye ingedien het.

Die bontebok is onder die eerste 12 wildsoorte wat as landras geregis- treer is omdat dié boksoort vasgevang is in streng beperkings ten opsigte van verspreiding wat deur die regulasies van die Departement van Omgewingsake neergelê word. Die klassifikasie as landras kan verseker dat die wildsoort egter makliker verskuif mag word, wat dit ’n beter kans op oorlewing bied.
Swartwitpense is gekies omdat daadwerklik gekyk moet word na die bestuur van siektes by hierdie diere.

Vir Knipe het dit egter juis oor die bewaring van wildsoorte, die beskerming van hul genetiese integriteit en toeganklikheid vir die gewone boer gegaan. Die WPA se klem is op die rentmeesterskap van boere oor wildsoorte, verduidelik me. Riëtte Symmonds, woordvoerder van die WPA.

Dit bied ook vir die eerste keer volle eienaarskap van die diere. Aangesien die 12 wildsoorte onder die beskerming van die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye in die Diereverbeteringswet geregistreer is, is daar nou ruimte vir ’n registrasie-organisasie wat ’n oorsig- én reguleringsrol speel.

Die registrasie-organisasie funksioneer dus nou as ’n verlengstuk van die Departement van Landbou met ’n mandaat om na die wildsoorte om te sien wat onder die organisasie val. Nes daar by beeste telersgenootskappe vir verskillende beesrasse is, is daar nou ook genootskappe vir elk van die 12 verskillende wildsoorte gestig, sê Symmonds.

Die WPA het ’n grondwet wat breë bepalings as reëls vir wildtelers neerlê. Elke genootskap van ’n betrokke wildsoort ontwikkel dan sy eie soort-spesifieke reëls wat moet ooreenstem met die WPA se grondwet.

NIE ’N TROFEEKLUB NIE

Die WPA se mandaat is om dieresoorte te bewaar en optimaal te bestuur tot voordeel van Suid-Afrika, om toe te sien dat dieresoorte só geteel word dat hulle vir die nageslag bewaar sal bly en terselfdertyd te teel vir ekonomiese waarde. Dit gaan oor meer as horinglengte.

“Hoewel ons nie aan die genootskappe van spesifieke wildsoorte kan voorskryf nie, is dit belangrik dat daar riglyne is wat onder meer op die regte genetiese eienskappe klem lê.”

Symmonds sê in die meeste gevalle is dit byvoorbeeld teenproduktief om vir iets soos horinglengte te selekteer, aangesien diere byvoorbeeld in ’n sekere stadium vrugbaarheid kan inboet vir langer horings. Die WPA steun nie die teelpraktyke waarvolgens ’n resessiewe kleurgeen byvoorbeeld in ’n kudde vasgelê word nie.

Dit is waarskynlik een van die redes waarom baie telers van kleurvariante wal gegooi het teen die totstandkoming van die WPA. Die WPA gaan saam met die genootskappe vir die verskillende wildsoorte en volgens die organisasie se grondwet toesien dat wildsoorte en bloedlyne raseg gehou word.

’n Voorbeeld daarvan is koedoes, waar die bokke van die Oos-Kaap byvoorbeeld nie geneties nie, maar fenotipies van Limpopo se koedoes verskil en dié bevolkings moet volgens genetiese beginsels bestuur word. Goeie teel- en welstandstandaarde moet toegepas word.

Symmonds sê boere is in hul wese bewaarders. “Hulle kan nie ’n stuk grond of diere laat verwaarloos nie, want dit is hulle en hul nageslag se behoud. Hulle pas dit dus op vir volhoubare benutting. Daarom is hulle in ’n beter posisie sodat ons wildsoorte aan hulle kan toevertrou. Wat die boere ook al lewer, hul boerdery is altyd geïntegreer met die ekostelsels waar hulle boer.”

Symmonds maak dit duidelik dat die WPA se impak gesien moet word as ’n konstruktiewe bydrae vir ernstige wildtelers met gesamentlike en langtermyndoelstellings.

“Vir ons is boere entrepreneurs wat die natuur en die klimaat kan ‘lees’ en interpreteer en hul risiko’s daarvolgens kan bestuur. Boere is die sakemanne wat sonder raadsale en adviseurs ’n visie vir hul besighede skep, strategiese produkte ontwikkel en dit dan self bemark.

“Ons sien boere as mense wat klein bokkies, soos blouduikers, bewaar bloot omdat bewaring deel van hul waardestelsel is. Hulle sal krippe los dat dit lek omdat klein diertjies dan daar water kan drink. Hulle is egter ook mense wat – nes dokters en paramedici – elke dag met die dood moet saamleef sonder dat dit hul emosionele stabiliteit beïnvloed.”

Sy wys daarop dat hierdie eienskappe nie by elke tweede sakeman in Suid-Afrika te vinde is nie. “Stadsmense hoef nie hul eie kos te plant of te slag nie. Boere doen dit vir hulle.” Die WPA lewer ook ’n wyer bydrae ten opsigte van betoë met betrekking tot wetgewing.

“Ons werk nou saam met verskeie ander organisasies om die nasionale Wet op die Bestuur van Biodiversiteit (Wet 10 van 2004), oftewel Nemba, en ander, nuwe voorgestelde wette te monitor en bydraes te lewer wat tot boere se voordeel sal wees. Ons het byvoorbeeld reeds drie keer aan die Minister van Omgewingsake geskryf, asook voorleggings aan die betrokke parlementere portefeuljekomitee gedoen oor die voorgestelde regulasies en lyste ten opsigte van indringersoorte.”

Die WPA-embleem is onlangs verander van die een op Knipe se hemp (sien foto links) na hierdie een omdat gemeen is die eerste embleem wek die indruk dat die WPA ’n jagorganisasie is, terwyl die klem eintlik op verantwoordelike rentmeesterskap ten opsigte van Suid-Afrika se wildsoor- te is.

SÓ IS WILDSOORTE GEÏDENTIFISEER

Die 12 wildsoorte wat die WPA voorlopig geïdentifiseer het, is op ’n wetenskaplike grondslag gedoen in oorleg met mnr. Joel Mamabolo, registrateur van diereverbetering in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en verskeie wetenskaplikes, soos prof. Antoinette Kotze, wat aan die Nasionale Dieretuin in Pretoria verbonde is.

Die bontebok is byvoorbeeld vasgevang binne streng beperkings op verspreiding wat deur die regulasies van die Departement van Omgewingsake neergelê word. Die klassifikasie as landras kan verseker dat dié boksoort egter makliker verskuif kan word, wat dit ’n beter kans op oorlewing bied.

Swartwitpense is gekies omdat daadwerklik gekyk moet word na die bestuur van siektes by hierdie diere, sê Symmonds. “Soos ek vroeër gesê het, boere is bewaringsgeörienteerd en dieregesondheid is ’n primêre fokus van die Diereverbeteringswet waaronder die WPA onder meer val.”

Die WPA werk nou saam met die Departement van Veeartsenykunde, die Universiteit van Pretoria en die Nasionale Dieregesondheidsforum en het op ’n onlangse vergadering saam met buffelboere besluit om aansoek te doen dat buffels ook as landras geregistreer word.

“Daar is nagenoeg 80 000 siektevrye buffels en dit moet so gehou word,” sê Symmonds, en voeg by dat die beste kans om dit te verseker onder die vaandel van die Dierebeskermingswet is. Sy verduidelik dat die Departement van Landbou se veeartsenykundige afdeling verantwoordelik is om op dieregesondheid klem te lê en dat die toets van diere baie belangrik is.

Die gesondheid van buffels en ander vee is onlosmaaklik deel van mekaar. Aan die een kant kan besmette buffels beeste met bek-en-klouseer en korridorsiekte besmet, terwyl beeste op hul beurt buffels weer met tuberkulose en brucellose kan besmet.

Die registrasie van diere as deel van ’n groot plan sal uiteindelik bydra tot die behoorlike naspeurbaarheid van wild, iets wat veral ook vir die bemarking van wildsvleis belangrik is. Symmonds sê die WPA is deeglik daarvan bewus dat daar steeds in sekere kringe teenkanting is teen die registrasie van wildsoorte onder die vaandel van die Departement van Landbou.

Sy wys egter daarop dat wildboerdery ’n ekonomiese aktiwiteit is wat kragtens bewaringsbeginsels bedryf moet word. Tans word dit andersom gedoen en die wild trek aan die kortste ent. Voedselsekerheid moet ook deel van die prentjie vorm, sê sy.

Sy maan egter dat dit ’n lang proses is en dat selfs die 12 wildsoorte wat reeds twee jaar gelede as landras geregistreer is, steeds aan die regulasies van die Departement van Omgewingsake onderworpe is.

“Tot daar tussen al die betrokke partye ooreenstemming is oor die prosesse, word alle besluitneming oor die 12 wildsoorte tans tussen die twee departemente gekoördineer. Dit is ’n lang en moeisame proses, maar die WPA is daartoe verbind om saam met die wildboere en alle belanghebbendes te werk om uiteindelik Suid-Afrika se wild en sy wildboere te bevoordeel.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.