AWA het alle beskikbare statistieke van afslaers, sy eie data en mediaverslae gebruik om ’n geheelbeeld te kry van die neigings in die wildmark sedert die bloeityd wat die bedryf in 2015 en 2016 ervaar het, tot die kwaai knou wat die Covid-19-pandemie die bedryf in 2020 toegedien het.

AWA sê sedert ’n verstelling in pryse in 2017, veral van kleurvariante en skaars wild, moes wildafslaers hulle aanpas by laer pryse vir skaars wildsoorte en ’n wesenlike toename in die vraag na gehalte-jagwild, hoofsaaklik manlike diere.

Daar is nou net ’n handjie vol grootwildtelers wat besonderse teelmateriaal teen hoë pryse koop. Die mark moet nou ’n breër klientebasis dien wat deur jagplase oorheers word. Daar is ook nuwe toetreders tot die wildbedryf wat danksy laer pryse nou kan bekostig om wild te koop.

In 2016 was die gemiddelde prys vir ’n buffel byvoorbeeld R944 387 teenoor R143 824 in 2020. In 2016 het swartwitpense gemiddeld R286 957 gehaal en in 2020 was die gemiddelde prys R21 652. Die nuwe toetreders tot die mark verkoop elke jaar minder wild op veilings.

Die totale omset van wildveilings het aanhoudend afgeneem sedert die bedryf se beste jaar in 2015 toe R1,9 miljard se wild verhandel is. In 2017 het dit teruggesak tot R979 miljoen. In 2020 is ’n skamele R196 miljoen se wild op veilings verhandel. Dit is 59% minder as 2019 se R472 miljoen. Ontleders skryf die skerp daling hoofsaaklik aan Covid-19 en 2020 se streng inperkingsmaatreëls toe.

’n Nuwe era

AWA voorsien dat die hoofaandrywers van groei in 2021 ’n vraag na vlaktewild en trofeediere vir die jagmark gaan wees. Daar is tans ’n tekort aan vlaktewild op veilings en dit kan ’n styging in pryse vir vlakte- en jagwild in 2021 meebring.

AWA glo grootskaalse bemarkingsveldtogte in die aanloop tot veilings is iets van die verlede. Besteding op veilings gaan die waarde van die diere op die veiling weerspieël en daar sal ook minder gespesialiseerde veilings aangebied word. Veilings sal van nou af ’n gemengde aanbod van teel- en jagwild hê.

AWA voorspel dat daar voortaan net vyf of ses gespesialiseerde veilings aangebied sal word vir skaars, duur wild met streeksgebaseerde veilings vir algemene vlaktewild en diere vir die jagmark.

Die veilingsegment wat die vinnigste groei en waarskynlik gaan aanhou groei, is dié van aanlyn veilings. Dit is in ooreenstemming met ’n wêreldwye neiging vir veilings, sê AWA in sy verslag.