‘n Meer realistiese eindmark bestaan nou vir jagdiere. Dit skep ‘n goeie geleentheid vir nuwe toetreders om gesogte teeldiere wat die afgelope jare geselekteer is, teen bekostigbare pryse te bekom.

Só sê dr. JW Eksteen, wildveerarts en -boer van Kroonstad wat op 11 Mei die wildgroep Kroon Stud Wild se jaarlikse boeredag op sy plaas, Elysium, in die middel van die distrikte Excelsior, Marquard en Clocolan aanbied.

Mense gesels nie langer oor hoë veilingspryse om die braaivleisvuur nie. Droogtes, politieke onsekerheid en groter wildgetalle het saam bygedra tot ‘n skerp daling in die pryse van skaars wild en kleurvariante. Daar is egter steeds ‘n geleentheid om geld met wildboerdery te maak, sê hy.

Kroon Stud se basis is Kroonstad en het onverandered gebly sedert sy ontstaan in 2011. Sy lede bestaan uit Boschplaat-wild (mnr. Manie van Niekerk), Braunzijnkop-wild (mnr. Sebastian Steyn), Crous-broers (mnre. Kobus, Dawid en Riaan Crous), Rooihoogte (mnr. Johann Beneke en vennote), Soetvelde-plase (mnre. Roan en Werner van Tonder en Pieter Janeke), Syncerus-buffels (Minnaar-familie) en Korannaberg-wild (dr. JW Eksteen). Almal is vee en/of saaiboere met ‘n wildkomponent.

Die Groot Wilddag se tema is vanjaar “terug na die tekenbord”. Twee van die sprekers is mnre. Mike Englezakis, een van die eerste toetreders tot die wildbedryf, en Wiaan van der Linde, wildboer van Kimberley en vorige voorsitter van Wildbedryf SA.

Die dag lê ook klem op praktiese aspekte. Boere sal aan ‘n plaastoer kan deelneem om verskeie komponente van wildboerdery gade te slaan, terwyl ‘n buffel en ’n swartwitpens geïmmobiliseer word.

Toegang is gratis, maar plek moet voor 3 Mei bespreek word by e-pos:  korannabergwild@gmail.com of sel 082 343 8568.

Kroon Stud Wild se lede saam met die oud-Springbokrugbyspeler Victor Matfield op ‘n vorige wilddag by Soetvelde-plase, Potchefstroom. Van links is mnre. Danie Minnaar, Manie van Niekerk, Johann Beneke, Matfield, Sebastian Steyn, Cobus Crous, Roan van Tonder, dr. JW Eksteen en Werner van Tonder. Foto: Verskaf