“Tot dusver is die elande se impak op die veld baie goed. Hulle werk beslis die verdigting van die bosse teen en ons sien ’n afname in die aantal plante,” sê me. Petro Botha, projekbestuurder van die Gantouw-projek, wat die elande in die gebied bekend gestel het.

“Daarby trap hulle ook paadjies oop en gevolglik is daar verhoogde diere-aktiwiteit.” Gantouw beteken onder meer “die pad van die eland”.

Die Kaapse Vlakte-duinestrandveld is ’n bedreigde stukkie veld wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie. Dit is eeue gelede deur groot plantvreters bewei. Weens verstedeliking is dié ekostelsel vandag gefragmenteer. Slegs 14% van die oorspronklike veld word bewaar.

Ná amper twee eeue se afwesigheid van groot herbivore het die bestuurders van die Valsbaai-natuurreservaat besef die oorblywende veld is besig om in ruigte te verander.

Dit het daartoe gelei dat die Trust vir Kaapstad-omgewingsopleiding in 2015 met die samewerking van die Stad Kaapstad besluit het om vyf elande na die Rondevlei-seksie van die Valsbaai-natuurreservaat te bring as ’n spesiale stedelike biodiversiteitbewaringsprojek om bosverdigting te beveg.

“Die elande is egter nie permanent hier nie. Daar sal ’n punt kom waar ons hulle van die grond sal moet afhaal, want dit is maar ’n klein gebied,” sê Petro.

Die eland Gibbs, een van die bulle, met twee van die elandmonitors op die agtergrond saam met ’n groep leerlinge wat die projek besoek het. LINKS: Elande wat op die Kaapse Vlakte hervestig is, bekamp nie net bosverdigting nie, maar vreet ook indringerplante – tot navorsers se groot verbasing. Hulle sal hierna na renosterveld verskuif word. Foto’s: Black Bean Productions

“Die hoofdoel was dus nie om die elande te hervestig nie, maar hul migrasie word op ’n meer moderne manier nageboots.”

Drie eland-monitors van die omliggende gemeenskap, me. Christyline Matthews en mnre. Ricardo Downes en Thurlo Marco, is as veldwagters opgelei om na die diere om te sien. Die drie het ’n noue band met die elande en dokumenteer onder meer die diere se vreetgewoontes.

“Ons was verbaas dat die elande ook indringer-plantsoorte, soos rooikrans en portjackson, vreet. Dit is van die 16 gewildste plante wat hulle in die gebied vreet. Dit is dus noemenswaardig vir boere wat byvoorbeeld elande wil aanhou om te weet die bokke vreet dié indringersoorte,” sê Petro.

Naas die indringerplante vreet die elande ook bietoubos, wat aggressief groei. Volgens Petro is elande egter in die algemeen nie baie selektiewe vreters nie.

Die volgende stap van die projek is om die elande aan die renosterveldgebied van die reservaat bekend te stel, waar daar ook probleme met bosverdigting plaasvind. Petro sê hoewel soortgelyke plantsoorte in die twee veldtipes voorkom, is dit belangrik om elande se vreetgewoontes in renosterveld na te vors.

Die projek word ook gebruik om jeugdiges in die omliggende Kaapse Vlakte aan die natuur bloot te stel en op te voed oor die belangrikheid van natuurlike stelsels en die bewaring van inheemse plant- en diersoorte.

Navrae: http://cteet.co.za/the-gantouw-project/; Facebook/The Gantouw Project

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.