Die eerste fase van die Gantouw-projek,wat in 2015 van stapel gestuur is, was toegespits op die duinstrandveld van die Kaapse Vlakte. Die projek vorm deel van me. Petro Botha, projekbestuurder van die Gantouw-projek, se tesis vir haar doktorsgraad. Dié projek het elande in die gebied bekend gestel.

Gantouw beteken onder meer “die pad van die eland”. Dit verwys na die paadjies wat die elande geloop het soos hulle heen en weer van die Kaapse Vlakte oor die Hottentots-Hollandberge gemigreer het, sê dr. Anthony Robert, uitvoerende hoof van die Trust vir Kaapstad-omgewingsopleiding (CTEET).

“Verstedeliking het tot gefragmenteerde ekostelsels gelei. Baie daarvan is reeds verwoes. Deur elande in hierdie ekostelsels te plaas en hulle toe te laat om tussen die plantegroei te snuffel en bosverdigting te voorkom, word die veld weer divers van aard en kan die stelsel doeltreffender funksioneer.”

Hommeltuie, asook flora- en fauna-opnames, sal gebruik word om die uitwerking van die elande op Vergelegen se veld te monitor. Dit sal ’n aanduiding gee van die diere se weidingsvoorkeure, hul impak op flora en fauna en die dravermoë van die veld.

Die elande, drie koeie en twee gesteriliseerde bulle, kom van Elandsberg in Wellington. Die Gantouw-projek sal vyf jaar duur en dan hersien word.Die elande sal in ’n 10 ha-kamp wei waar hulle nie blootgestel word aan die landgoed se ander werksaamhede nie. Die diere sal verskeie fynbosspesies, onder meer renosterbos, vreet.

CTEET het ’n boma in die kamp opgerig om die elande te huisves. Hul gesondheid sal deur die bestuur van die landgoed gemonitor word. CTEET sal data insamel en ’n verslag daarvolgens saamstel.

Mnr. Wayne Coetzer, besturende direkteur van Vergelegen, sê die landgoed is bly hy kan ’n rol in die projek speel en sien watter bevindinge deurlopend gemaak word. “Ons hoop die kennis wat ons op die landgoed opdoen, sal help om ander natuurlike habitatte te beskerm.”