Oor die afgelope twee jaar is vyf elande – Mike, Gibbs, Uniqua, Berni en Little P – gebruik in ’n navorsingsprojek om die impak van elande op veldbestuur te toets.

In ’n verklaring sê die Stad Kaapstad sedert die elande in die Valsbaai-natuurreservaat hervestig is, het hulle reeds deur hul weidingspatrone daarin geslaag het om digte bosse uit te dun sodat groter getalle inheemse plantspesies weer hul verskyning maak. Die bosse bedreig die biodiversiteit van die duinegebied op die Kaapse Vlakte.

Die voorlopige bevindinge van die Gantouw-projek dui daarop dat die elande verkies om die digte bosse te bewei. Twee indringerplante is onder die top-16 plantspesies wat die elande in hul huidige habitat vreet.

’n Toename in die aantal verskillende plantspesies wat in die beheerde area voorkom, is ook aangeteken. Hoewel dié plantspesies nie nuut in die reservaat is nie, is dit ’n teken dat die elande met hul weipatrone ruimte skep vir ander plante om in die plek van digte bosse te groei.

Luidens die verklaring het elande tot sowat 200 jaar gelede op die Kaapse Vlakte voorgekom.

Me. Petro Botha, bestuurder van die Gantouw-projek, is vroeër vanjaar deur SAN-Parke vereer vir baanbrekerswerk in die bewaring van biodiversiteit. Sy sê dat die projek die belangrikheid van veldbestuur beklemtoon omdat digte bosse die groei van gras, kruie en ander plantspesies kan belemmer.

Nadat die resultate van die studie volgende jaar volledig bestudeer is, sal besluit word of met die projek voortgegaan word.