As die “vader” van Futhi, die eerste gekloonde dier in Afrika, het dr. Morné de la Rey nie juis bekendstelling nodig nie. Hy het ook talle ander deurbrake in moderne teeltegnieke gemaak en werk kliphard agter die skerms aan nóg ideale waarby die diereryk baat sal vind. Selfs pres. Cyril Ramaphosa is een van sy kliënte en vertrou sy Ankolebeeste met hul kenmerkende lang horings aan hom toe.

De la Rey (50) is saam met dr. Robert Treadwell die vennote en direkteure van Embryo Plus, ’n sentrum vir embriowerk, kunsmatige inseminasie (KI) en kwarantyn op Brits in Noordwes. Daar doen hulle onder meer KI, embrioversameling, in vitro-bevrugting, embrio-oorplasing na ontvangerdiere en kriogeniese bewaring. Treadwell is ook ’n veearts. Hy het hom in 1998 by die onderneming aangesluit en in 2002 ’n direkteur geword.

De la Rey het op Brits grootgeword, waar sy ouers, dr. Ronnie en me. Helena de la Rey, die sentrum in 1980 begin het. De la Rey is aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus as veearts opgelei. Daarna het hy in 1994 saam met sy vrou, Petra, ook ’n veearts, by Embryo Plus begin werk.

Sy pa, wat in 2000 die gesogte Boswell-eerbewys vir uitsonderlike diens aan die veeartsberoep van die Suid-Afrikaanse Veerartsenykundige Vereniging ontvang het, is verlede jaar oorlede, en sy ma in Mei vanjaar.

PRESIDENT SE BEESTE

Kort ná die geboorte van Futhi in 2003 het Ramaphosa, toe nog hoofsaaklik ’n sakeman en beesboer, De la Rey gebel. “Hy wou Ankoles van Uganda invoer, maar Suid-Afrika se invoerregulasies het dit nie toegelaat nie.

Hy het my gevra om te help, en ek het gekommunikeer met mnr. Keith Ramsey, toe die registrateur van veeverbetering, en dr. Gideon Brückner, direkteur van veeartsenykundige dienste. “Uiteindelik kon ons beeste in Uganda koop, embrio’s in Kenia spoel en dit na Suid-Afrika bring. Die eerste embriokalwers is in 2006 op Ramaphosa se plaas by Badplaas gebore.”

Hulle het ook saamgewerk om Boran- embrio’s in te voer om ’n kudde vir Rama- phosa te vestig. Van sy langhoringbeeste is steeds by Embryo Plus, waar die veeartse embriospoelings en in vitro-bevrugting by hulle doen en embrio’s van die beste diere na ontvangerkoeie oordra. Die Wagyu is ook op hierdie manier in Suid-Afrika gevestig, terwyl die De la Reys gehelp het om rasse soos die Bonsmara, Tuli, Nguni, Boran en Afrikaner deur embrio’s in ander lande te vestig.

Embryo Plus het tans vyf geregistreerde kwarantynsentrums in Suid-Afrika en een in Kenia.

Pumelelo, die wêreld se eerste buffel wat met in vitro-bevrugting geteel is, by sy surrogaatma. FOTO: REINT DEYKEMA

EMBRIO-OORPLASING VAT POS

De la Rey het vroeg in sy loopbaan in embrio-oorplasing begin spesialiseer, ’n vakgebied wat toe nog taamlik onbekend was. Sodoende het die familie van die toonaangewers geword. “Ek het nooit as ’n gewone veearts gepraktiseer nie, want embrio’s is my groot belangstelling. Hoewel Embryo Plus destyds nog ’n klein besigheid was, het my pa reeds met hierdie tegniek begin werk. Met my en Petra se betrokkenheid kon dit uitbrei.”

Hy het verder in Amerika gestudeer om in mikrochirurgie (verdeling en geslagsbepaling van embrio’s) te spesialiseer. Die onderneming het reeds meer as 30 000 embrio’s in- en uitgevoer. Die eerste Bonsmara-, Boran-, Simmentaler-, Dexter-, Braunvieh-, Tuli-, Nguni- en Afrikaner- embrio’s is onder meer na Brasilië, Argentinië, Paraguay, Uruguay, Australië en ander Afrikalande uitgevoer.

Deur die jare het De la Rey se werk hom na Argentinië, Brasilië, Kanada, China, Maleisië en Afrikalande soos Uganda, die Soedan, Namibië, Kenia, Zambië en Angola geneem.

Hy het al meer as honderd veeartse van Suid-Afrika, verskeie Afrikalande, Australië, Uruguay, Brasilië, Amerika, Indië, China, Korea en Maleisië opgelei in die tegnieke vir semenversameling, -evaluering en -bevriesing, KI, embriohantering, in vitro- en geassisteerde reproduksietegnieke. Voorts het hy gehelp met die ontwikkeling van protokolle tussen lande vir die in- en uitvoer van semen en embrio’s.

FUTHI GEBORE

De la Rey het met die geboorte van die Holsteinkalf Futhi op 19 April 2003 behoorlik in die kollig gekom. In daardie stadium het wetenskaplikes in Engeland reeds ’n gekloonde skaap, Dolly, geskep. Elders is beeste gekloon. Vir die Suid-Afrikaanse kloningsprogram het De la Rey en Treadwell saamgewerk met prof. Gabor Vajta, ’n Deense embriospesialis wat spesiaal na Suid-Afrika gereis het.

Eers is ’n enkele sel deur ’n biopsie van ’n koei se oor geneem, in ’n leë eiersel van ’n ander koei geplaas en vir agt dae in ’n proefbuis in ’n laboratoriumbroeikas gehou om te groei. Op 26 Julie 2002 is die embrio in ’n ontvangerkoei ingeplant. Die kalf, ’n versie, is met ’n keisersnee gebore. Die span het dus met hul eerste probeerslag sukses behaal.

Die kalf is Futhi genoem, wat in Zoeloe “herhaal” of “replika” beteken. Sy het met geboorte 32 kg geweeg, wat die normale gewig vir ’n Holstein-kalfie is. Binne minute het sy drie liter biesmelk gedrink. Haar swart-en-wit vel was bykans identies aan dié van die skenkerkoei, LMJC 865, ’n voormalige Suid-Afrikaanse rekordhouer met melkproduksie van 20 426 kg gedurende ’n laktasie van 300 dae. Die koei het aan mnr. Johan Schoeman van die plaas Grootpan by Bothaville behoort.

Renosters en Ankolebeeste wei saam in die Pejeta-bewaringsgebied in Kenia. De la Rey is baie by wild betrokke, maar speel ook ’n belangrike rol in pres. Cyril Ramaphosa se Ankolekudde.

DREIGOPROEPE NÁ ‘FOEFIE’

Toe Embryo Plus die groot nuus bekend gemaak het, was daar groot teenstand vanaf die publiek. “Mense het nie mooi verstaan waaroor dit gaan nie. Daar is gesê ons meng met God se werk in. In ’n opname het 93% van die mense wat ondervra is, hul teenkanting uitgespreek.

“Ons het dreigoproepe gekry. Ons eie kerk het kapsie gemaak. Die polisie het gedreig om ons in hegtenis te neem omdat die ministerie van wetenskap en kuns gedink het die kloning is net ’n foefie om reklame vir ons besigheid te maak.”

Toe hy ’n televisieprogram die eerste uitsaairegte aangebied het, het hulle hom nie geglo nie en die aanbod van die hand gewys. Ná die nuuskonferensie het iemand van die televisieprogram hom gebel en kapsie gemaak “omdat hulle nie genooi is nie”. Daar was rooi gesigte toe De la Rey hulle inlig van die weiering én dat hulle wel genooi is, maar nie opgedaag het nie.

MITE OOR KLONE

Futhi het sewe jaar lank normaal geleef en twee kalwers met natuurlike dekking gehad. De la Rey het haar ook twee keer gespoel, waaruit twee embriokalwers gebore is. Sy is uiteindelik aan longontsteking dood.

Hy sê dit is ’n mite dat diere gou vrek omdat hulle klone is. Leke dink as ’n gekloonde dier gebore word, is hy reeds so oud soos die dier waaruit hy gekloon is. “Dit is snert.”

Dolly het nie lank geleef nie omdat sy in ’n steriele omgewing gebore is en nie ’n sterk immuunstelsel gehad het nie. Gevolglik het sy maklik siek geword.

Veldwerk kan soms moeilik wees, soos hier waar De la Rey in Zimbabwe agterop ’n bakkie werk. Hy het al veeartse in verskeie Afrikalande opgelei in sy vakgebied.

RED RENOSTERS

Tans werk De la Rey hard aan sy droom om bedreigde spesies te red, waaronder die noordelike witrenoster, bongo, reuseswartwitpens en Zimbabwiese swartrenoster. Hy werk onder meer saam met die Texas A&M-universiteit en San Diego-dieretuin in Amerika, en is al deur hulle met die Fellow of Conservation-eerbewys vereer.

Daar was groot hartseer toe Sudan, die laaste noordelike witrenosterbul ter wêreld, weens ouderdom en siekte uitgesit moes word. De la Rey het gelukkig stukkies weefsel geoes om sy gene te bewaar. Nou is daar net twee koeie oor. De la Rey se mikpunt is om in vitro-bevrugting met semen van verskeie bulle wat opgeberg is, by hulle te doen. Die plan is dat suidelike witrenosterkoeie as surrogate moet dien.

Hy moet egter eers in vitro-werk suksesvol by ander renosters doen, maar hy kon nog nie embrio’s tot volle ontwikkeling bring nie. “Wanneer ons sukses behaal, kan ons eerstens help om die suidelike witrenoster, wat ook bedreig word, se getalle te vermeerder, en help om die noordelike witrenoster van uitwissing te red. “Daarna kan ons werk aan die kloning van die noordelike witrenoster met die selkulture van verskeie van dié diere wat in verskillende laboratoriums ter wêreld bewaar word.”

De la Rey het in Februarie 2020 die eerste gesinchroniseerde KI ter wêreld by renosters uitgevoer. Voorheen is slegs KI met natuurlike hittesiklusse by renosters in dieretuine gedoen.

DUUR PROSES

Embryo Plus het eers sowat vier jaar gelede weer klonings begin doen nadat die in vitro-laboratorium ingerig is om dié werk op ’n kommersiële grondslag te doen. “Kloning is duur en die diere waarby dit gedoen word, moet baie waardevol wees om die koste te regverdig,” sê De la Rey.

Dit kos sowat R50 000 tot R80 000 per dragtigheid, aangesien die suksessyfer baie laag is weens die lae lewensvatbaarheid van gekloonde fetusse. Net sowat 10% kalwers word gebore. Intussen doen De la Rey baie embriospoelings en -oorplasings, wat die kern van die onderneming vorm, en voer baie embrio’s uit.

Hoewel siektes soos bek-en-klouseer uitvoer belemmer en sommige lande baie versigtig is, is Afrika ’n groot en groeiende mark vir Embryo Plus. De la Rey en ander veeartse van Embryo Plus besoek die lande self om die oorplasings by ontvangerbeeste te doen. In sommige lande bied hy volledige veldbees-bestuursprogramme vir boere aan sodat hulle hul bestuur en teling kan verbeter.

De la Rey by ’n renoster. Een van sy lewensideale is om renosterkalfies met in vitro-bevrugting te verwek, en só te help om bedreigde renosterspesies se getalle te vermeerder.

EERSTE BUFFELKALFIE

As seun van Afrika het De la Rey ’n passie vir wild. Hy het reeds waardevolle werk vir wildbewaring met geassisteerde reproduksietegnieke gedoen. Die voordeel is dat die bedreigde wild se getalle toeneem en oor die wêreld heen versprei kan word sonder die gevaar van die verspreiding van siektes.

Die De la Reys het onder meer pionierswerk met embriospoeling, die ontwikkeling van vrugbaarheidsriglyne, inseminering en in vitro-bevrugting by veral die witrenoster, swartwitpens, Kaapse buffel, wildebees en bastergemsbok gedoen.

Sy pa het reeds van 1981 tot 1986 buffels gespoel en embrio’s in Simmentalerkoeie oorgeplaas. Die embrio’s het tot maksimum 56 dae gegroei, waarna die beeste die fetus verloor het omdat hul immuniteit nie verenigbaar was nie. Daarmee het hulle bewys interspesie-oorplasing kan nie suksesvol gedoen word nie, buiten as ander ingrypingstegnieke dalk toegepas word.

Baie navorsing is nog daaroor nodig. Dit het wel niks met die lengte van die verskillende dragtigheidstydperke te doen nie.

LEWENSIDEAAL

“Omdat my pa gedroom het oor buffelkalwers, was dit my lewensideaal om eendag buffelembrio’s suksesvol oor te plaas en só vir hom ’n buffelkalfie te teel,” sê De la Rey. Hy het toe ’n projek saam met dr. Hendrik Hansen, veearts van Bela-Bela, en mnr. Frans Stapelberg van Lekkerleef-wildboerdery op Marble Hall begin om in vitro-bevrugting en embrio-oorplasing by buffels te doen. Die metode is soortgelyk aan die proses by mense. In hierdie geval is oösiete (eierselle) van ’n verdoofde buffelkoei versamel deur ’n naald transvaginaal te gebruik om die eierselle uit die eierstokke te versamel. Die proses word met ultraklank dopgehou. Die eierselle is toe tot volwassenheid gekweek en in vitro met ’n buffelbul se semen bevrug. Ná sewe dae in ’n laboratoriumbroeikas is die embrio in ’n surrogaat-buffelkoei oorgeplaas. Ná ’n dragtigheid van 11 maande is die wêreld se eerste proefbuis-buffelkalfie op 28 Junie 2016 op Stapelberg se plaas gebore. Hulle het hom Pumulelo gedoop, wat “inspirasie” in Zoeloe beteken. “My pa kon ongelukkig nie by wees nie omdat hy toe in Australië besig was. Dit was nietemin ’n wonderlike dag vir ons albei.” De la Rey het vir hom ’n foto van die kalf gestuur. Dié projek het nuwe hoop gebring om bedreigde wildspesies te red.

’n Zambiese swartwitpens-embriokalf wat uit ’n suidelike swartwitpens-surrogaat geteel is.

ANDER WILDSPESIES

Intussen werk De la Rey ook met ander wildspesies. In 1998 het hy vir die eerste keer suksesvol KI by swartwitpense uitgevoer, en kalwers is gebore. In 2011 het hy die eerste swartwitpenskalwers met vastetyd-KI verwek.

In 2015 het De la Rey die eerste keer embrio’s uit Zambiese swartwitpense gespoel en dit na suidelike swartwitpense oorgeplaas. ’n Aantal kalwers is intussen met dié metode gebore. Een van sy ideale is om hierdie tegnieke te gebruik om die reuseswartwitpens van uitwissing te red. In ’n stadium was daar net 40 van hulle oor, maar dit het intussen tot 70 toegeneem.

Hierdie diere is groter as die suidelike swartwitpens en kom net in Angola voor, waar wildstropery hoogty vier. De la Rey wil ook graag met die oostelike bongo in Kenia se bergagtige bamboeswoude werk. Daar is net 27 van dié bokke in die natuur oor is. Die bongo lyk baie soos die njala, maar is groter.

De la Rey onderhandel tans met die Keniaanse regering om hom toe te laat om te help. Hy werk ook met ander plaasdiere en het een van die eerste embriospoelings (dalk die eerste in Afrika) suksesvol by varke gedoen. Dié werk was in 2018 saam met PIC Suid-Afrika, ’n maatskappy wat hom vir genetiese verbetering van teelvarke beywer.

DIE TOEKOMS

Volgens De la Rey het die tegniek om embrio’s te kweek, deur die jare baie verbeter. Die waarde vir die landbou en wildbedryf is dat gewenste eienskappe van hoëgehalte- diere aan hul nageslag oorgedra kan word.

Die tegnieke word gaandeweg al hoe belangriker. Dit sal eendag selfs transgenies (tussen spesies) gedoen kan word om meerderwaardige eienskappe van een spesie, soos melkproduksie, na ’n ander spesie oor te dra in die strewe daarna om voedselproduksie te versnel.

Op die voorblad van Landbouweekblad in 2003 nadat Futhi gebore is. Hier is die De la Rey-seuns, Jean-Pierre (nou 23) en Sean-Luc (nou 22), by die kalfie. FOTO: CHARL VAN ROOYEN

Belangrike deurbrake

Embryo Plus se grootste deurbrake die afgelope kwarteeu is:

1994: Die eerste geslagsbepaling van embrio’s in Afrika.

1995: Die eerste verdeling van skaap- en bokembrio’s op die vasteland.

1998: Die eerste Arabier-embriovul.

2003: Die geboorte van Futhi, die eerste gekloonde dier in Afrika.

2010: Die eerste swartwitpens-embriokalwers ter wêreld.

2013: Behaal die eerste dragtigheid met embrio-oorplasing ter wêreld by Kaapse buffelkoeie.

2015: Teel die eerste Zambiese swartwitpens-embriokalwers uit suidelike swartwitpens-surrogate (interspesiekalwers).

2016: Die wêreld se eerste Kaapse buffelkalf word met in vitro-bevrugting gebore.

2017: Versamel die eerste oösiete van die suidelike witrenoster in Afrika met behulp van aspirering (uitsuiging).

2018: Aangewys om teelmateriaal van die laaste noordelike witrenosterbul ter wêreld te versamel en te bewaar.

2020: Die eerste progesteroon-gesinchroniseerde vastetyd-KI by witrenosters ter wêreld.

NAVRAE: Dr. Morné de la Rey, e-pos: info@embryoplus.com; 012 250 2359, 082 786 7324.