Beroepsjagters en eienaars van jagplase moet eenvoudig moeite doen om jagters ’n ware Afrika-jagervaring te bied. 

Die naderende klimaatsverandering gaan die aard van alle boerderye verander – en om wildboerdery uit te bou, gaan almal moet diversifiseer, by die habitat aanpas en nie in hul eie behoeftes vaskyk nie.

Só meen me. Danene van der Westhuyzen, voorsitter van die Namibiese Beroepsjagtersvereniging (Napha), die eerste vrou wat dié pos beklee en ook die eerste vrou in Namibië wat in aanmerking gekom het om jagters op jagte vir gevaarlike diere te vergesel. Sy lag net oor hoe sommige mans optree as hulle haar sien.

“Ja, party jagters is aanvanklik skepties, maar hul houding verander vinnig. Vir sommiges gaan dit oor hul ego en hulle sal nie erken ’n vrou kan ’n beter skut as ’n man wees nie,” sê Danene. Danene het eers vier jaar lank in Napha se uitvoerende komitee gedien voor sy as ondervoorsitter aangewys en in November 2016 tot voorsitter verkies is.

Danene en haar man, Gysbert, woon op ’n wildsplaas, Kalakwa, tussen Nina en Seeis, 120 km oos van Windhoek, en bied trofeejag aan. Hul onderneming, Aru Game Lodges, bestaan uit twee jaggebiede waarheen hulle jagters neem; die een is Kalakwa by Nina en die ander is die plaas Veronica naby Blumfelde, 200 km suidoos van Windhoek.

Gysbert huur grond rondom dié plase waar hy met Boran-Brahman-kruisings boer. Danene hou ’n paar Braunvieh-beeste vir die melk aan en maak vir eie gebruik botter van die room.

Liefde vir natuur

Danene, ’n oogkundige wat 13 jaar gelede met Gysbert, ’n meganiese ingenieur, getroud is, het die bestuur van Veronica, haar pa se plaas, oorgeneem. Dié onderneming het as naweekboerdery begin en haar pa, André, ’n prokureur, was ook ’n beroepsjagter wat die trofeejagmark betree het.

Sy beklemtoon dat alles nie vir haar oor jag as sodanig gaan nie.

“Omdat ons klimaat vorentoe verder gaan verander, is dit belangrik dat mense die waarde van wild raaksien, diversifiseer en volgens die habitat leef, nie volgens jou eie behoeftes nie. As ons net met wild kon boer, sou dit fantasties gewees het, want Namibië is ’n wildland. Volgens kenners gaan die klimaat só verander dat boerdery met vee moeiliker gaan word. Die gebiede waar beeste nog sal aard, gaan verder noord toe skuif. Daarom is ons droë land ideaal om méér met wild te boer.”

Etiese jag

Danene sê sy en Gysbert het dieselfde waardes en etiese beginsels. “Ons moet natuurlik geld verdien, maar dit is belangrik om die régte Namibië vir die toeriste te wys. Enige buitelander dink aan wye, oop ruimtes as hy aan Afrika dink en dis belangrik om juis dít aan hulle te bied.”

Danene verduidelik ’n goeie beroepsjagter só: ’n Jagter loop al sewe dae saam met ’n beroepsjagter op soek na ’n groot koedoebul. Op die laaste dag kom hulle op hom af; ’n manjifieke dier. Hy sien hulle nie raak nie. Die wind is reg. Die jagter moet net die sneller trek, dan hét hy sy trofee.

“Maar ek besef die bul is nog produktief. Om dan vir die jagter te sê hy mag hom nie skiet nie, is wat ’n goeie beroepsjagter sal doen. Die man is dalk vir ’n rukkie kwaad, maar hy het respek vir die keuse en wat ware jag behels.”

WEES verantwoordelik – van jag tot teel

Danene stem nie saam met sommige mense se gewoonte om diere te verpersoonlik en nie sekere spesies te wil jag nie. “Wie is jy om te sê die olifant het méér reg op lewe as die springbok? Ek het nie ’n probleem met mense wat nié jag nie, maar wat wel die dinge agter jag verstaan. ’n Mens moenie gedwing word om te jag nie. Dit moet sy of haar eie besluit wees.”

Die grootste probleem wat sy met die wildbedryf het, is intensiewe wildteling. ’n Dier se basiese reg is egter om ’n natuurlike lewe in ’n natuurlike habitat met natuurlike vyande te hê. Sodra ’n boer vir spesifieke eienskappe teel, is dit nie meer ’n basiese reg nie.

As sy egter met mense daaroor praat, is menige leek verstom dat sy daarmee fout vind, want dit het ’n norm geword wat as die waarheid aanvaar word. Danene verkies eerder dat ekonomiese waardes aan alle wild gekoppel word en dat enige dier gejag mag word. Baie mense is nie meer trots om te jag nie omdat hulle gekritiseer word omdat hulle “diere doodmaak”.

Hulle moet egter hul stemme verhef en verduidelik hoekom hulle jag en wat die waarde daarvan is. “Jy moet elke dag van jou lewe ’n verskil probeer maak en die wêreld probeer red. Mense moet egter verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle doen; of dit nou jag of die teel van wild is.”

Klem op ondervinding

In Namibië duur dit minstens vier jaar om as beroepsjagter te kwalifiseer. Die eerste stap is om ’n jaggids te word. Nadat die persoon jagters vir twee jaar vergesel het, word hy of sy as ’n meesterjaggids beskou. Daarna volg nóg twee jaar waartydens hy of sy jagters moet vergesel. Ná vier jaar mag die persoon ’n eksamen aflê om ’n beroepsjagter te word.

Dit bestaan uit drie vraestelle en ’n praktiese evaluering wat ’n slaagsyfer van minstens 75% verg. Dán eers kan hy of sy as ’n beroepsjagter werk. ’n Jaggids mag net jagters op een plaas of in een konsessie (geregistreerde jaggebied) laat jag. As meesterjaggids brei die vergunning na drie plase of jagkonsessies uit.

’n Beroepsjagter mag sy kliënte na enige plek in die land neem om te jag. Indien die beroepsjagter genoeg bewyse kan lewer dat hy of sy goeie ondervinding van grootwild het, kan die persoon aansoek doen om as beroepsgrootwildjagter op te tree. Dít verg ’n verdere eksamen.

Dan eers mag hy of sy ander jagters vergesel om gevaarlike grootwild, soos buffels en olifante, te jag. In Namibië word die klem dus op ondervinding geplaas, nie bloot op die bywoon van ’n kort kursus waarna die persoon ’n “beroepsjagter” is nie. Danene beklemtoon weer: Om te jag, verg nie net die druk van die sneller nie.

Dit is ’n ervaring wat lank voor die tyd begin met die opstaan die oggend van die jagtog om die son te sien opkom, die skoonmaak van die geweer en agter die wild aan loop.

Dit sluit die sweet en warmkry in, takke wat bloedstrepe op arms en bene trek, die opmerk van die kleinste besonderheidjie in die veld; van voëls wat in die takke roep tot insekte wat op die grond kruip. Dit is alles deel van ’n ryke en egte Afrika-jagervaring.

Navrae: Me. Danene van der Westhuyzen, e-pos: info@arugamelodges.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.