Creecy en twee amptenare van haar departement het met verteenwoordigers van 11 organisasies in die biodiversiteitsektor vergader om knelpunte in hul bedrywe tydens inperking te bespreek.

“Creecy het gesê sy het begrip vir ons frustrasies en bekommernisse oor ekonomiese verliese in ons bedrywe en erken dat daar steeds areas is wat baie ingeperk is, maar sy het ons ook verseker dat die regering baie hard probeer om die oorgang na vlak 3 te bespoedig,” sê me. Adri Kitshoff-Botha, Wildbedryf SA (WRSA) se uitvoerende hoof, in ’n WhatsApp-stemboodskap aan haar lede.

“Ons was almal baie optimisties oor en geïnspireer deur die minister se siening van die belangrikheid om die proses te versnel en in besonder oor haar begrip vir ons dringende versoek om jag vir vleis as voedselbron oop te stel,” sê Kitshoff-Botha.

Terwyl hulle die geleentheid gehad het, het belanghebbendes in die bedryf hul teleurstelling duidelik gemaak oor die feit dat benuttingsjagters nie onder vlak 4 toegelaat word om vleis te verkry nie.

Kitshoff-Botha sê dat dít jag vir die persoonlike gebruik van die vleis is. “Ons het aan haar uitgewys dat daar ’n groot verskil is tussen sportjag en benuttingsjag, en aan haar gesê dat dit waarskynlik ons grootste versoek vir vlak 3 sal wees, dat hierdie jagters toegelaat word om onder streng gesondheid- en veiligheidsmaatreëls hul vleis te gaan oes.

“Hierdie tipe jag is nie ’n sosiale geleentheid nie. Dit is mense wat verkies om wildsvleis te gebruik wat hulle self geoes het. Dit is soveel deel van die voedselwaardeketting as die vleis van vee wat mens in die slaghuis koop.”

Creecy het glo baie begrip vir hierdie voorstel van wildboere. Sy verstaan dat hierdie groep jagters ’n belangrike bestuursmeganisme van die bedryf is en dat wildsvleis as noodsaaklike voedselproduk ’n rol in voedselsekerheid te speel het.

Vlak 4-maatreëls laat die handel van lewende wild, en die vervoer van lewende wild en karkasse van wild oor provinsiale grense toe, mits aan sekere spesifikasies voldoen word. Veilings is ook toelaatbaar waar aanlyn veilings nie gehou kan word nie, maar met ’n beperking van 50 persone in die lokaal. Kitshoff-Botha beveel aan dat wildboere in oorleg met hul afslaers besluit wat die beste opsie sal wees.