Dit spruit uit ’n werksessie vir buffeleienaars wat verlede Dinsdag in Pretoria gehou is om die probleme rakende die bekamping van siektes by buffels te bespreek. Die VPN vir buffels is verlede jaar in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel ná ’n dringende hof- aansoek deur mnr. Jaco Troskie, ’n sakeman van Bloemfontein.

Troskie se regspan het aangevoer dat die helfte van Suid-Afrika se buffelbevolking ingevolge die departement se VPN positief vir tuberkulose (TB) sou toets. Hy het aangevoer dat die bepalings van die VPN onwetenskaplik en ondeurdag was en dat vergelykende toetse wat vals reaksies in die toetse sou uitskakel, nie meer in ag geneem is nie.

ONVOLDOENDE

Regter Vivian Tlhapi het in Troskie se guns beslis en gelas dat die vorige buffelprotokol (nr. 20) die VPN moet vervang. Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale Dieregesondheidsforum het op die werksessie gesê die ou protokol is nie voldoende vir die bekamping van dieresiektes nie.

Boere wou weet wat hulle te doen staan om die VPN weer ingestel te kry.

Dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die departement, het gesê die klaer sal die hof moet versoek om die bevel terug te trek.

Mnr. Wiaan van der Linde, ondervoorsitter van Wildbedryf SA (WRSA), sê die firma Cloete Murray, wat Troskie se boerdery nou namens Absa bestuur, het reeds met Maja gesels en ooreengekom om so ’n versoek aan die hof te rig.

Boere sê daar is steeds punte in die huidige VPN wat hulle graag wil hê moet verander, maar hulle is dié keer bereid om saam met die departement te werk en veranderinge op ’n wetenskaplike wyse te motiveer.

In dié verband het ’n buffelsiekte-bekampingskomitee onder voorsitterskap van Vervoort reeds etlike werksessies gehou oor die toetsprosedures vir siektes by buffels. Verskeie veeartse en ander mense wat by buffelbewaring en -boerdery betrokke is, het inset- te gelewer.

’n Verslag met die insette, data en navorsing wat uit hierdie werksessies gespruit het, sal nou ook aan die departement beskikbaar gestel word met die oog op latere wysigings aan die VPN.

NUWE LIGGAAM

Mnr. Reuben Saayman, uitvoerende hoof van Buffalo Ranch in Bloemfontein en voorsitter van die buffeleienaarsadvieskomitee van WRSA, is saam met mnr. Peter Knipe van die Wildprodusente-organisasie en mnr. Francoais Schutte van Mbogo Wildlife aangestel om ’n verteenwoordigende liggaam vir buffeleienaars op die been te bring.

“Daardie liggaam moet ver- teenwoordigers hê wat deur die bedryf vertrou word om na hul belange om te sien,” sê Vervoort. Hy waarsku dat buffelboere moet besef hulle gaan nie altyd die antwoorde kry wat hulle wil hoor nie, maar as hulle die regte verteenwoordigers kies, sal hulle hopelik die beste antwoorde vir die bedryf kry.

Die nuwe verteenwoordigende liggaam sal ook die moontlikheid ondersoek om buffels by die 12 ander wildspesies te voeg wat vroër deur die departement as landrasdiere geklassifiseer is. Knipe verduidelik dat dit aan ’n buffeltelersgenootskap ’n regsposisie sal gee wat hom onder die gesag van bogenoemde departement pleks van onder die Departement van Omgewingsake plaas.