Die feit dat jagters reg oor die wêreld in verskillende mates ingeperk is en dat daar nie na en van die meeste jagbestemmings in Afrika gereis kan word nie, het beroepsjagters platsak gelaat en hul jagveld blootgelê vir stropers. Inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika beteken ook dat beroepsjagters nie konsessies wat hulle van die staat en private natuurreservate huur, kan patrolleer nie.

Volgens Van Coller neem onwettige jag beslis toe. Mense skiet wild sommer van paaie af wat langs konsessies verbyloop.

Mnr. Gawie Lourens, ’n oudpolisiekolonel wat spesialiseer in die ondersoek van landelike misdade vir die maatskappy Senyakayaka-sekuriteit, sê onwettige jag, veral met honde, is ’n groot probleem in landelike gebiede. Dit is nie noodwendig nou meer as vantevore nie, maar die afwesigheid van jagters en beweging in jaggebiede maak dat stropers hul aktiwiteite nou na sulke gebiede verskuif.

Dit is ’n werklikheid wat verder as Suid-Afrika se landsgrense strek. Mnr. Lance Nesbit, voorsitter van Zimbabwe se vereniging vir beroepsjag en fotografiesafari’s (ZPHGA), sê vandat dié land se grense vir internasionale reisigers gesluit is, kan beroepsjagters nie meer die daaglikse beveiliging van hul konsessies bekostig nie.

Hy sê 85% van die mense wat rondom bewaringsgebiede bly, is werkloos en die afwesigheid van jagters maak wildernisgebiede ’n maklike bron van vleis. “Mense is honger en desperaat,” sê Nesbit in ’n videoboodskap. “Sonder jagters is al die kampe waar hierdie mense andersins kon werk toe en verlate.”

Nesbit sê daar is toenemend voorvalle van konflik tussen mense en wilde diere. “Waar ons kan, kry ons vrywilligers, gewoonlik studente, om te help in sulke gevalle, maar almal se hulpbronne is min en ons kry geen hulp of finansiering van die Zimbabwiese regering af nie.”

Nesbit en Van Coller beroep hulle nou op plaaslike en internasionale jag- en nie-regeringsorganisasies om finansieel by te dra om beroepsjagters te help om die impak van die Covid-19-pandemie op hul bedryf te oorleef.