Sowat 45 000 mense het die fees van 28 tot 30 Junie besoek, sê me. Jenni Honsbein, feesdirekteur. Die jaarlikse wildveiling wat tydens die fees plaasvind, het ’n omset van R5,2 miljoen behaal, wat ’n redelike verbetering was op verlede jaar se omset van R4,6 miljoen.

Mnr. Garth Saville, wat by die fees se veiling betrokke is, sê hiënas word gewoonlik as probleemdiere beskou en daar was nog nie voorheen ’n noemenswaardige vraag na hiënas op wildveilings nie. “Namate grondeienaars begin besef watter belangrike rol dié diere in hul omgewing speel, is daar nou ’n behoefte om hulle deel van wildreservate te maak.”

Vir die eerste keer is buffels met Krugerwildtuin-gene op die veiling aangebied. Voorheen is slegs buffels uit die Addo-olifantpark aangebied. ’n Buffelkoei met ’n horingspan van 38 duim en haar bulkalf het die topprys van R300 000 behaal. ’n Buffelbul met ’n horingspan van 45,5 duim is vir R220 000 verkoop.

Saville sê die Kirkwood-wildsfees is die enigste fees in sy soort in Suid-Afrika. Die groot aantal besoekers wat dit al die afgelope 18 jaar bywoon, dra by tot die atmosfeer op die veiling.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.